Media

JULLE SAL DIE NSA NOOIT KAN MAAK WERK NIE!!

altDie Afrikanervolksparty (AVP) sê vandag reguit vir Flip Buys en Dirk Hermann van Solidariteit en wie ook al betrokke is by hul bedenklike eksperiment waarvolgens hulle die Nuwe Suid-Afrika (NSA) met sy grondwet wil maak werk: Julle sal dit nie regkry nie. Die AVP voeg by: Julle sal dit net regkry oor die dooie liggaam van die Afrikanervolk en die dooie liggaam van wat 'n Calvinisties-Westerse kultuur en arbeidsbeskouing is. Julle verspeel kosbare tyd. Laat daar eerstens net gekyk word na die geopenbaarde en klandestiene en potensiële vennote van Solidariteit in so 'n maakwerk-eksperiment. Die eerste noodwendige en onontsnapbare Solidariteit-vennote is die drieledige sameswering waaruit die ANC-regime bestaan, dit is die ANC self en dan ook die SA Kommunistiese Party (SAKP) en COSATU. As 'n opsigtelike voorbeeld dat as 'n organisasie die NSA wil maak werk hy noodwendig hand om die hals staan met die SAKP is 'n foto van 'n onlangse beraad waarop Flip Buys en Gwede Mantashe saam verskyn. Mantashe het nie sommer net 'n hoofsekretaris van die SAKP geword omdat hy dalk 'n beeswagtertjie was nie, mnr. Buys. Hy is 'n kommunis, dalk van die Afrika-soort, maar oor sy ideologiese uitgangspunte hoort niemand te twyfel nie.

 

 

Dit is bekend dat Buys en 'n ander SAKP-hoofsekretaris, Blade Nzimande, meer as goeie vriende is, trouens, so goed bevriend is hulle dat die een aan die ander van kommunistiese lektuur voorsien het.

Mantashe is ook 'n voormalige COSATU-hoofsekeretaris en sy bande met dié Swart arbeidsameswering word steeds gehandhaaf. Tydens die wêreld se finansiële krisis in 2008 en 2009 het Dirk Hermann groot kopstukke met COSATU oor dié krisis en die gevolglike arbeidsresessie gepraat. Uit alle berigte in die pers blyk dit dat Hermann en COSATU sommer dik vrinne uitmekaar is na daardie samesprekings. Dié danighede tussen Solidariteit en COSATU en die kommuniste kom al 'n lang pad. Daar in 2003 rond het hulle al ooreenkomste oor en weer gesluit. En hoeveel kommuniste het al uit hoofde van die feit dat hulle kommuniste is Solidariteit se jaarkongresse toegespreek. Nzimande? Salie Manie? Wie nog?

 

Daarenteen die vraag: Hoeveel verteenwoordigers van die Afrikanervolk het al uit hoofde van die feit dat hul politieke strewe volledige Afrikanerselfbeskikking verteenwoordig 'n Solidariteit-jaarkongres toegespreek? Julle is te geel, te liberaal heilig om dit te doen. En so 'n leier sal te dik vir 'n daalder wees vir julle Kleurling- en Indiërlede, vir Shaleen Surtie-Richards, Allan Boesak en Gudrow Steenkamp. Hierdie is belangrike sake om te snap wanneer Solidariteit se vergeefse poging om die NSA te maak werk oorweeg word. Wat verder verstaan moet word is dat, ten einde Solidariteit se klaarblyklike politieke bemoeienis (wat het van die mooi Calvinistiese uitgangspunt van gesag in eie kring geword?), te regverdig moes Solidariteit sy sogenaamde missie en visie herskryf en van die Blanke Mynwerkersunie as arbeidsvleuel van die Afrikanervolk, 'n omvangryker multi-kulti beweging maak. Daarom word daar deesdae in Solidariteit se propaganda na Solidariteit as beweging verwys, die wysigings aan beleid en program en beginsels bedink deur die liberaliste Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer, albei medewerkers van die berugte Amerikaanse Council on Foreign Relations (CFR).

 

Solidariteit se ander vennote, wat al dikwels op hierdie webwerf aandag geniet het, is FW de Klerk (en sy stigting) en Naspers. Oor De Klerk se fatalistiese deelname aan onderhandelinge met die Swart kommuniste is al boekdele geskryf, oor Naspers se volksafkerige agendas ook tot satwordens toe. Maar hulle is die soort geselskap wat Solidariteit verkies.

 

Dan is daar ook uitsprake deur Solidariteit-woordvoerders dat hulle die Demokratiese Alliansie (DA) steun, dié liberale nes wat aborsies en dobbelary steun en nie persverklarings in Afrikaans wil uitreik nie. Ja, so liberaal is Solidariteit dat die Vryheidsfront te regs vir hom geword het. Raar genoeg is die DA se lastige posisie met sy multikultuur en veelgodery ook Solidariteit se predikament. Hoe dan anders met Hindoes en Moslems in Solidariteit-geledere. Wat klaarblyklik is met die skouspelagtige mislukking van Wes-Europa se multikultuur is dat 'n multikultuur in 'n sekulêre staat net kan staande bly as daardie multikultuur deur 'n meerderheid Blankes staande gehou word. Die vooruitsigte van 'n multikultuur versleg soos die verhouding Westerlinge teenoor ander kultuur- en volksgroepe verklein.

 

Dit is daarom niks anders as hartverskeurend om uitsprake van Solidariteit dat hy die grondwet wil maak werk te verteer nie. Dit was al met De Klerk se Rooi Vrydag-toespraak glashelder wat nou aan die kom is nie 'n resep vir 'n vreedsame Westerse staat nie maar vir dinamiet. Maar Solidariteit wil om die dood nie die klaarblyklike aanvaar nie, ook nie De Klerk, wat al in 1996, die grondwet maar enkele maande oud, uit die Parlement gedros het want hy sien nie kans om in die skadu van die galg te lewe nie.

 

Wil die AVP grondwet 1996 laat misluk, mag dalk die vraag wees. Die AVP kan hom en vir u daardie moeite troos, die grondwet verteenwoordig als wat dwaas is in die politiek: die tirannie van getalle, die tirannie van ongelyksoortigheid, multi-kultuur, veelgodery, godloosheid, aborsie, hoerery, dobbelary, korrupsie, Afrikaner politieke gevangenes al vir jare sonder vonnisse in die tronk, volksuitwissing. So 'n grondwet dra in hom die kiem van die dood om en geen Afrikaner hoef sy hand na onreg uit te steek om dit te laat misluk nie.

 

Naskrif: Die volgende brief op 12 Maart vanjaar, het vir 'n stortvloed van reaksie van lesers van die webwerf waarop dit verskyn het gesorg met slegs enkeles, verbonde aan Solidariteit self, wat probeer walgooi het: Verlede week het die Solidariteit-Beweging se opleidingsakademie, Akademia, hulle eerste gradeplegtigheid aangebied. Aanwesiges was verstom en geskok toe dié prestige-funksie afgesluit is met die mengelmoes-volkslied, wat begin met Nkosi Sikelel iAfrika, waartydens die Solidariteit-bestuur ook eerbiedig opgestaan het. Afriforum het ook sy eerste kongres, hoofsaaklik agter geslote deure, gehou. Tydens die ope deel is daar klem gelê op die feit dat Afriforum oop is vir almal, ongeag ras of geslag.

 

Politieke waarnemers het gesê dat dit nie vreemd is nie. ’n Burgerregte beweging is uit die aard van sy naam baie wyer as ’n volksregte beweging, en aangesien Afriforum hom beywer vir burgerregte en wegskram van die begrip volk, sal hy ook aanpassings aan sy lede samestelling moet maak. Daar was juis enkele weke gelede groot gewag gemaak van ’n totaal volksvreemde wat op Afriforum se webblad vertel het waarom hy tuis voel by Afriforum. As die Solidariteit-beweging steeds meer aanvaarbaar vir die ANC-Suid-Afrika wil word, is dit sy goeie reg. Wat egter kommerwekkend is, is dat dié beweging verskeie oornames maak en daar heers kommer oor wat met daardie instellings daarna gebeur.

 

Betroubare bronne binne Solidariteit het bevestig dat dit die rede is waarom Jaco Kleynhans “bedank” het om na Orania te gaan. Solidariteit gee groot maandelikse skenkings aan Orania, maar het in ruil daarvoor geëis dat hy dan ook direkte inspraak in die bestuur kan kry. Om daardie rede is Jaco Kleynhans in die pos van Frans de Klerk ingewig. Die vraag word reeds gevra hoe lank Orania nog vir selfbeskikking sal staan, voordat die Solidariteit/Afriforum-alternatief van “maak Suid-Afrika werk” ook daar inslag sal vind? Solidariteit het ewe behendig die FAK oorgeneem en is een van die groot finansiers van dié instelling. Om dieselfde rede is dr. Danie Langner van Solidariteit helpende Hand na die FAK oorgeplaas, terwyl die FAK se dr. Danie Brink herontplooi is by Solidariteit Helpende Hand.

 

Dieselfde het gebeur by Radio Pretoria waar Solidariteit geld aangebied het in ruil vir ʼn bestuursinset. Dit het daartoe gelei dat die Afriforum-prokureur, Willie Spies, ondervoorsitter van die direksie en besturende direkteur geword het. Flip Buys is nou ook ʼn direkteur van Radio Pretoria. Sedertdien is Radio Pretoria gedurig in omstredenheid gedompel en sigbaar besig om van sy koers en rigting af te wyk. Maroela media, nog een van die Solidariteit-beweging se seekat-arms, het nou gereelde tydgleuwe op Radio Pretoria waar van die mees liberale gaste genooi word, en waar selfs ‘n opponerende radiostasie, soos RSG, opgehemel word, en waar ‘n omstrede film, Fanie Fourie’s lobola” opgehemel word. Dit handel oor ‘n witman wat op ‘n Zoeloe verlief raak en lobola moet vind om met haar te trou.

Die Radio laat ook toe dat die liberale Lappe Loubser sy verdraaide beeld van die blankes se geskiedenis in SA oordra aan luisteraars. Hieroor het die organisasie Studiegroep vir Eietydse Geskiedenis n beswaarskrif aan die Radio gerig, klaarblyklik sonder enige welslae want die praatjies gaan voort.

 

Intussen het Solidariteit sy Afrikaner Belange Netwerk verlede jaar ontbind, maar aan die FAK gegee om verder te voer onder die benaming Federale Netwerk Program. In hulle Grondslagdokument word samewerking met die breë Afrikaanse en ander kultuurgemeenskappe bepleit, opbouende betrokkenheid in Suid-Afrika, en “Aktiewe burgerskap”: deelname eerder as “onttrekking”. By ‘n funksie van hierdie Federale Netwerk Program sou Flip Buys van Solidariteit optree as spreker oor die “Raamwerk en Prosesbeplanning”, wat ʼn duidelike aanduiding is dat hy hom met die Grondslagdokument vereenselwig en trouens die proses sal help stuur. Politieke waarnemers begin ʼn al hoe duideliker parallel identifiseer tussen die ou Nasionale Party van PW Botha en FW de Klerk, en die Solidariteit Beweging van vandag.

 

Gert Bredenkamp