Media

OOR DIE AFRIKANERSTAD PRETORIA SE NAAMSVERANDERING

altWees bly daar is konsultasie, want Jan van Riebeeck het Pretoria se naam gegee sonder om te probeer uitvind aan wie die grond behoort.

Dít was gister Apson Makaung, ’n ANC-raadslid, se geskiedenisles aan die DA in die Tshwane-raad.

Broeders en Vriende

Hieronder verskyn ‘n berig uit vandag se Beeld. ‘n Paar jaar gelede het die vorige minister, ene “DR” (onbekend waar hy die titel verwerf het) Pallo Jordan die soortgelyke wysheid(!!!) kwytgeraak dat die Voortrekkers na “Tshwane” toe gery het op die pad wat “Koning Tshwane” gebou het, en toe die naam na Pretoria verander het. Toe is die beeldjie van die sogenaamde koning voor die stadsaal geplaas.

 

Ons kan lag hieroor, maar die werklikheid is dat hierdie dinge as waarhede deur onkundige en veral moedswillige media die wêreld ingestuur en in geskiedenisboeke opgeneem word. Ons moenie dink dat die haat teen die Afrikaner en die Blankedom in Suid-Afrika verby is nie. Hierdie haat is veel dieper gesetel en word vanuit die diepste dieptes van haat aangeblaas.

As gelowiges mag ons die werklike geskiedenis nie miskyk nie. Ons mag trouens geskiedenis (en alle lewensterreine) nie anders as eskatologies beskou nie. Doen ons dit, word dit duidelik dat die Afrikanervolk nie maar “toevallig” hier ontstaan het nie. Dan gaan ons geskiedenis terug tot by Golgota, vandaar óór Troas en die uitverkiesing van Europa om die Here Jesus se opdrag uit te voer om Hom aan alle tale, volke en nasies te gaan verkondig tot aan die verste uithoeke van die aarde. Ook in Afrika. Ook in Suid-Afrika.

Hier het die Here HERE ons geplaas om Sy Woord te verkondig én om Sy kultuuropdrag in Genesis 1 en 2 (lees hierby Psalm 8) as Sy diensknegte na te kom deur die barre Afrikagrond te kom onderwerp. Dit het Hy gedoen ná die voleindiging van die Kerkhervorming wat vir ons in “Dordt” plaasgevind het, sodat die wáre Woord in Afrika ingedra kon word nadat die kerk in Noord- en Oos-Afrika verword en selfs byna doodgeloop het. In minder as ‘n eeu is die hele Weskus en Suidwestelike gebied van Kaapland tot aan die Visrivier inderdaad onderwerp en is die Christendom na die heidene in daardie gebiede gebring. Britse imperialisme en anti-Dordtsheid het ons voorouers Noordwaarts in Afrika ingedwing waar die heidendom as Satan se werktuig hulle wou voorkeer. Die Almag van God het egter déúr Mosega en déúr Bloedrivier die hek na Afrika ontsluit. Tot aan die Limpopo, die Zambezi en verder Noord tot in Zambië, en ook in Wes- En Oos-Afrika, het die Blankedom met sy Christelike inslag sy tweeledige roeping volbring. Uiteraard was Satan woedend en het hy soos ‘n brullende leeu deur ons hele geskiedenis gebrul en probeer verslind wie hy kon vind. In die Mammongedrewe Britse imperialisme het hy ‘n geskikte en gewillige instrument gevind. En namate die ontkerstening deur die vorige eeu toegeneem het, het die leuengees sterker geword. Die tegniek en die tegnologiese toepassing in die perswese, die radio, die televisie, die inligtingswese, het die moontlikhede vir Woordverbreiding in Evangelieverkondiging én in kultuuruitvoering geweldig uitgebrei. Ongelukkig het dit ook die verbreiding van die leuen vergemaklik.

Ons eie volk kon nóg die ontkerstening nóg die leuen vryspring. In plaas van dankbaarheid dat ons sogenaamd “die muishond van die wêreld” (wat veral deur die media aan ons opgedis is terwyl ons dit nie werklik was nie) en daarom nie wêreldgelykvormig was nie, het ons aan die wêreld met sy menseregte toegegee en deur valse leiding daaraan oorgegee. Maar nie net dit nie: Ons het selfs die landstreek wat deur die HERE onse God (Vyfde Gebod) aan ons toegedeel is om te onderwerp, te bewerk en te bewaak, oorgegee aan mense wat dit voorheen uitgebuit maar selde indien ooit bewerk het. Selfs vandag nog gaan hierdie geneigdheid voort in die sogenaamde grondhervormingsprogram – ‘n volslae en algehele mislukking wat selfs deur die ontwerpers daarvan erken word. Ons kastige gewetens oor apartheid as sonde teen die mensheid moet maar liewers gewetenswroeging word oor hierdie gróót sonde teen die HERE Here dat ons Sy skepping, Sy aarde so laat verniel dat ons nou hongersnood begin vrees. Die klein profete en veral die laaste drie spreek herhaaldelik hieroor, ook Esegiël, ook talle ander Skrifgedeeltes. God is onveranderlik, daarom is Genesis 1 en 2 onveranderlik, en van daaruit die hele Skrif tot Openbaring 22.

Ons moet besef dat leuens soos die onderstaande nie maar net onskuldig en lagwekkend is nie. Dit is daarop gemik om die valse gewetenswroeging oor apartheid en dies meer nie net lewendig te hou nie, maar selfs verder en dieper onder ons te laat indring totdat dit selfs die gelowiges onder ons aantas. Ons moet die toenemende indringing van menseregte in ons kerke en Godsdienssin enersyds met afkeer aanskou, andersyds deurlopend waak en nógmaals waak om nie óók in die bek van die brullende leeu te beland nie. Ons het nie maar net met menseregte en dies meer te make, of met goed waaroor ons tereg kan lag nie. Ons moet besef dat ons rég moet lag, saam met die HERE moet lag soos Hy Hom in Psalm 2 openbaar met heilige spot en lag. Dan kan ons, gelowiges, met vrymoedigheid én ootmoedigheid ons in die vreugde van die HERE verbly.

Broedergroete.

Pieter Senior

 

ANC-lid sê hy noem stad Pretoria

Van Riebeeck kry skuld

Nuwe proses vir naamsverandering

Cobus Claassen

Beeld, Vrydag 30 Augustus 2013

Wees bly daar is konsultasie, want Jan van Riebeeck het Pretoria se naam gegee sonder om te probeer uitvind aan wie die grond behoort.

Dít was gister Apson Makaung, ’n ANC-raadslid, se geskiedenisles aan die DA in die Tshwane-raad.

Die omstrede Pretoria/Tshwane-naamstryd was gister opnuut ’n warm besprekingspunt toe ’n verslag oor die beplande openbare deelnameproses vir die naamsverandering van Pretoria op ’n raadsvergadering gedien het.

 

Kgosientso Ramokgopa, Tshwane se uitvoerende burgemeester, het op die Junie-vergadering bekend gemaak daar is nie behoorlik op verlede jaar se deelnamevergaderings boekgehou van verrigtinge nie en die proses moet herhaal word. Inwoners het verlede jaar ná dié deelnameproses, wat vergaderings in al sewe Tshwane-streke ingesluit het, die geleentheid gehad om vir of teen die voorgestelde naamsverandering te stem.

 

Die uitslag van die stemproses is sedertdien nooit bekend gemaak nie.

Daar is op goeie gesag verneem meer inwoners was ten gunste van die behoud van Pretoria se naam en die burgerregte-inisiatief AfriForum voer selfs aan meer as 80% van die inwoners wat gestem het, het Pretoria as naam gesteun.

In die verslag wat gister voor die raad gedien het, word gewys op verskeie “uitdagings” wat in die deelnameproses ervaar is. Daar word onder meer aangevoer inwoners het die proses in die wiele gery toe dit as ’n referendum beskou is.

Daar word voorgestel dat die nuwe deelnameproses op 12 Oktober gehou word, maar dat skriftelike voorleggings nie weer toegelaat word nie “omdat dit nie ’n referendum is nie”. Die DA het kwaai daarteen uitgevaar en gesê die ANC gaan die proses herhaal totdat hy die uitslag kry wat hy wil hê.

Ramokgopa het deurgeloop nadat hy vroeër vanjaar by verskeie geleenthede gesê het ’n verslag oor die voorgestelde naamsverandering is ná die deelnameproses aan Paul Mashatile, minister van kuns en kultuur, gestuur.

“As die verslag by die minister is, hoekom dan nog ’n ronde openbare deelname?” wou Tau Motau, DA-raadslid, weet. “Die proses moet deursigtig, vry en regverdig wees. Ons gaan die doelwitte nie behaal as skriftelike voorleggings nie toegelaat word nie. “Nie almal sal die openbare vergaderings kan bywoon nie, terwyl ander weer met busse aangery sal word,” het Motau gesê.

 

Jan Boshoff, DA-leier in die raad, het gesê die ANC manipuleer die proses en probeer inwoners se wil nou omseil. “Dit is oneerlik en nie in die gees van demokrasie nie.” Adv. Kate Prinsloo, DA-raadslid, het gesê dit is die beste voorbeeld nóg van hoe die ANC in Tshwane Zimbabwe-politiek toepas.

Die ANC het in reaksie gesê “barbaarse boere” het die naam Pretoria op mense afgedwing, terwyl konsultasie nou toegelaat word.