Hy het twee keer gesê: “Ek kan nie ’n homofobiese God aanbid nie en ek weier om na ’n homofobiese hemel te gaan – dan gaan ek eerder na die ánder plek.”
Die AVP waarsku uit die Bybel omdat ons glo dat dit die geïnspireerde Woord van God is, juis omdat Jeremia reeds vroeg oor hierdie onderstaande houding geprofeteer het:
JEREMIA 6:8-15
8 Laat jou tugtig, Jerusalem, dat my siel nie van jou vervreemd word nie, dat Ek jou nie ’n wildernis maak, ’n onbewoonde land nie.
9 So sê die HERE van die leërskare: Hulle sal die oorblyfsel van Israel skoon afoes soos ’n wingerdstok. Slaan jou hand weer soos ’n druiwesnyer aan die lote!
10 Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van die HERE is vir hulle ’n smaad, hulle het daar geen behae in nie.
11 Daarom is ek vol van die grimmigheid van die HERE; ek het my moeg gemaak om uit te hou. Giet dit uit oor die kinders op die straat en oor die versameling van jongmanne, oor almal; want ook die man saam met die vrou sal gevang word, die grysaard saam met die oue van dae.
12 En hulle huise sal oorgaan op ander mense, landerye en vroue, alles tesame; want Ek sal my hand uitstrek teen die inwoners van die land, spreek die HERE.
13 Want van hul kleinste tot hul grootste maak hulle almal onregverdige wins, en van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.
14 En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie.
15 Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het; tog skaam hulle hul nie in die minste nie, tog weet hulle nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; in die tyd dat Ek aan hulle besoeking doen, sal hulle struikel, sê die HERE.(Ons beklemtoning)
KAAPSTAD. – NET OMDAT IETS IN DIE BYBEL STAAN, IS DIT NIE NOODWENDIG WAAR NIE.
So het emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu gister verwys na dele van die Bybelboek Paulus wat oor homoseksualiteit handel. Hy het by die bekendstelling van die Verenigde Nasies (VN) se veldtog vir gelyke regte vir gay-, lesbiese, biseksuele en transgender-menseregte (GLBT) gepraat en gesê hy voel “net so sterk oor dié regte as oor apartheid” en steun die veldtog ten volle. Hy het ’n beroep op godsdiensleiers gedoen om betrokke te raak en gesê dit gaan om menseregte. “Baie mense haal Paulus aan, maar Paulus het baie goed gesê, soos dat vroue moet stilbly en dat hulle almal moet trou. Net omdat iets in die Bybel is, is dit nie noodwendig waar nie. En dit (die Bybeltekste) is ’n groot bron van foltering vir baie mense. Ek voel die vreeslike foltering.”
Hy het twee keer gesê: “Ek kan nie ’n homofobiese God aanbid nie en ek weier om na ’n homofobiese hemel te gaan – dan gaan ek eerder na die ánder plek.” Dit is die heel eerste keer dat die VN so ’n veldtog begin. Dit staan bekend as Vry en Gelyk. Saam met Tutu was regter Edwin Cameron en die VN se hoë kommissaris vir menseregte, Navi Pillay. “Hoe in die naam van alles wat goed is, kan mense stilbly wanneer mense weens hul seksuele oriëntasie vervolg word? Dit is heeltemal onregverdig en onbillik, net soos rassisme. Daarom steun ek dié veldtog met alles wat ek het – ek wil spring van vreugde. Dink net hoeveel kinders is deur die jare verneder, geboelie en gespot oor wie hulle is. En dít oor hoe God hulle gemaak het? Elke liewe een van hulle is kosbaar,” het Tutu gesê.
‘Erken gewese homoseksuele se regte’
“Voormalige homoseksuele” bestaan en daar behoort nie teen hulle gediskrimineer te word nie. Dit is die siening van André Bekker, besturende direkteur van New Living Way Ministry, ’n organisasie wat mense wil help om ontslae te raak van aangetrokkenheid tot dieselfde geslag. Dié organisasie, wat homself as evangelies en Christelik bestempel, meen dis moontlik dat iemand se seksuele oriëntasie kan verander. Bekker sê gay aktiviste erken nie die gelyke regte van “voormalige homoseksuele” nie.
Hulle erken nie dat mense kan verander nie en hy kry dreigbriewe van mense wat sê hulle sal sy deure kom toemaak. Sy antwoord aan hulle is: “Wie is jy om te oordeel? Laat my oor my eie lewe besluit. Ek wil nie dat gays vir my sê ek kan nie verander nie.”
Oor standpunte op sy organisasie se webwerf soos dat gay-huwelike sonde is, beroep Bekker hom op vryheid van spraak en godsdiens. Bekker meen iemand soos Alan Chambers van Exodus International, ’n soortgelyke organisasie as Bekker s’n, het die spoor byster geraak. Chambers het verlede maand Exodus International se deure gesluit en om verskoning gevra vir al die pyn en leed wat hul bediening oor 37 jaar vir gay mense veroorsaak het. Chambers het onder meer verwys na die skuld en skaamte waardeur mense moes worstel as hul oriëntasie nié verander het nie. Chambers het ook om verskoning gevra omdat gay mense hul boodskap beleef is as verwerping deur God. Bekker meen Chambers het verkeerd opgetree. Hy sê as sy bediening “by die evangelie staan”, beteken dit nie hulle veroordeel gays nie. Hy kan dit nie help as iemand benadeel voel as hy vir hom sê dis sonde nie.
– Neels Jackson
