Media

O, WÊRELD VIR HOOFSTUK 9 VAN DIE 1996-GRONDWET!

altInderdaad het die wiel gedraai vir hierdie verloopte radiostasie wat met behoudende Afrikaners, mislei deur die propaganda dat die stasie vir Afrikanervolksnasionalisme staan.......

As u dit nou nog nie weet nie, hierdie hoofstuk bevat 'n paar wondermiddels en 'n towerstaf wat Afrikaners kan swaai as hulle glo hulle word 'n bietjie te veel uitgemoor, verarm en verjaag uit hul vaderland met behulp van die einste grondwet.  As FW de Klerk of dalk Kanadese paspoorthouer Dave Steward nie gister se nuuskommentaar van Radio Pretoria geskrywe het nie, dan eet hierdie waarnemer sy hoed op. Die volgende stellings, gemaak met 'n dowwe knal, kom in die laaste paragrawe van die nuuskommentaar voor: 

"Tussenin maak hoofregter Mogoeng Mogoeng al hoe meer kommerwekkende uitsprake, sodat die Sentrum vir Grondwetlike Regte hom nou erg voor stok gekry het (!). "Dié sentrum is deel van die FW de Klerkstigting, met sy fokus op die wigte en teenwigte. "Dit lyk of die wiel nou byna volledig gedraai het."

 

Inderdaad het die wiel gedraai vir hierdie verloopte radiostasie wat met behoudende Afrikaners, mislei deur die propaganda dat die stasie vir Afrikanervolksnasionalisme staan (en ook radiosender-toerusting verskaf deur die Suid-Afrikaanse weermag (die weermagopperbevelhebber volgens die land se vorige grondwet FW de Klerk), se geld en opofferinge tot stand gebring is.  

Onder die opskrif, Word waghonde ʼn bedreigde spesie? word die luisteraar met 'n hele paar behoorlik sotlike suggesties diets gemaak dat as hulle, arme Radio Pretoria-luisteraars, ook skouer aan die wiel sit om FW de Klerk se kommunistiese grondwet (die ANC se Freedom Charter die brondokument), te maak werk deur van die stukkie pulp se sogenaamde wigte en teenwigte gebruik te maak, die hemel op hulle en die land sal neerdaal. 

Dat Flip Buys en Willie Spies van Solidariteit nou Radio Pretoria en sy luisteraars namens blykbaar Naspers (dis waar Buys ook 'n direksielid is), bestuur, slaan ook telkens in die nuuskommentaar uit.

LEES MAAR SELF:

In die aanloop tot die 1994-verkiesing is onrustige Suid-Afrikaners gereeld gepaai met die versekerings dat die grondwet self oor genoegsame waghonde sou beskik om magsmisbruik soos in Zimbabwe te voorkom.

Hiervoor sou ʼn spektrum instellings, die Hoofstuk nege-instellings soos die ouditeur-generaal, die Openbare Beskermer en die Menseregtekommissie en Pansat sorg. ʼn Kommissie met ʼn naam veel langer as sy tande het ook tot stand gekom – die Kommissie vir die beskerming en die bevordering van die regte van taal-, Godsdiens- en kulturele gemeenskappe.

En dan is daar die howe.

Sedertdien lewer die ouditeur-generaal jaarliks pakke verdoemende verslae, maar die tande om skelm en onbevoegde ontplooide kaders voor stok te kry ontbreek.

Die Menseregtekommissie was vir die ganse duur van sy bestaan omstrede, en op die oog af uiters selektief wanneer sake aangemeld is. 

Pansat is min of meer soos ʼn stopstraat geïgnoreer. Pansat het in 1998 reeds besluit Vrystaters mag in plaas van FS, ook VS op hul nommerplate aanbring. Die destydse LUR vir vervoer het die saak op sogenaamde appèl na die menseregtekommissie geneem, wat dit met verwysingsnommer na sy Vrystaatse kantoor verwys het. Enorme politieke druk, waaronder nog in 2007 deur die DA nadat die Vryheidsfront Plus sy hande stompies baklei het, het nog steeds geen uitslag opgelewer nie. Trouens, so ver bekend, het die Vrystaatse tak strykdeur versuim om aandag aan die saak te skenk. 

Die Openbare Beskermer se doeltreffendheid hang grootliks van die politieke gedienstigheid, en die bekwaamheid van die bekleër van die hoofpos af. Terwyl sake nou op die oog af goed verloop, het dinge voorheen erg gehaper. Die Openbare Beskermer is selfs voor die hof gesleep om hom te verplig om ʼn verslag oor die Staatsteater te voltooi – wat in ieder geval nie binne die hof se spertyd gelewer is nie. Ander, ou sake, sloer al bykans twee dekades. 

Intussen het die howe soos ʼn baken bly staan, hoewel daar hier en daar reeds vreemde uitsprake was, wat ook deur die Sentrum vir Grondwetlike Regte as foutief uitgewys is. Terwyl die meerderheid uitsprake van die grondwetlike hof – met ʼn duidelik uitsondering die uitspraak oor minerale – nog in die kol lyk, is dit tog opmerklik hoeveel regters nou minderheidsuitsprake lewer, soos nou ook weer oor die onderwysdepartmentshoofde se ongrondwetlike opdragte aan skoolhoofde, ter ondermyning van skoolbeheerrade. Dit is reeds ver verwyder van toe wyle regter Abie Sachs ʼn minderheidsuitspraak in die Walker versus Stadsraad van Pretoria-saak gelewer het. 

Die regering maak dit duidelik dat hy, soos hy dit stel, getransformeerde uitsprake van die howe verlang, en dat die uitsprake van die grondwetlike hof en die appèlhof ook hieraan ge-evalueer gaan word. 

Tussenin maak hoofregter Mogoeng Mogoeng al hoe meer kommerwekkende uitsprake, sodat die Sentrum vir Grondwetlike Regte hom nou erg voor stok gekry het. Dié sentrum is deel van die FW de Klerkstigting, met sy fokus op die wigte en teenwigte. Dit lyk of die wiel nou byna volledig gedraai het.