Mnr. FW de Klerk het uiteindelik ook onder Britse invloed gekom en die land holderstebolder aan Slovo en sy trawante oorhandig.
Die artikel:
Geagte mede-Afrikaner,
Vandag is 31 Mei, 'n besondere dag in die Afrikanergeskiedenis, maar ook in die veelbesproke verhaal van Suid-Afrika.
Op hierdie dag in 1902 is die Vrede van Vereeniging tussen ons en Brittanje gesluit. Ook het die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei in 1910 tot stand gekom. Die verlies van die Boererepublieke in 1902 is vergoed deur die uitroep van 'n tweede republiek op 31 Mei 1961, ná 'n taai referendum onder die land se blanke kiesers wat in 1960 gehou is.
Die naelskraap oorwinning deur die republikeinsgesindes in 1960, teenoor die pro-Britse kiesers wat hoofsaaklik in Natal en die Kaapprovinsie saamgetrek was, het die uiteindelike stukrag agter die radikale beweging in Suid-Afrika verleen. Dit is vandag interessant om weer na daardie referendumsyfers van 1960 te kyk:
Vraag: Is u ten gunste van 'n Republiek vir die Unie?
Kaapprovinsie Ja: 50,15% Nee: 49,85%
Natal: Ja: 23,78% Nee: 76,22%
Oranje-Vrystaat: 76,72% Nee: 23,28%
Suidwes-Afrika: 62,39% Nee: 37,61%
Transvaal: 55,58% Nee: 44,42%
In totaal het 52,29% van blanke kiesers vir die republiek gestem en 47,71% daarteen.
In vele opsigte was die eerste vyf jaar van die tweede republiek byna idillies, met hoë ekonomiese groei, lae werkloosheid, min misdaad en 'n afwesigheid van politieke konflik, in weerwil van die ekstreem-linkse groepe wat hul bes probeer het om swartmense teen die stelsel op te sweep. Hoewel dr. H.F. Verwoerd tans hoofsaaklik as die "vader van apartheid" verguis word, was dié intellektuele, skerpsinnige man een van die gewildste leiers wat die land ooit gehad het - en nie net onder blankes nie. Hy het byvoorbeeld 'n Raad vir Kleurlinge ingestel en hulle verseker dat die Wes-Kaap altyd vir hulle 'n tuiste sal wees. Vergelyk dit met die huidige bewind wat aktief teen kleurlinge by aanstellings in die Wes-Kaap diskrimineer!
'n Groot aantal Britse immigrante het in die sestigerjare na ons land gestroom om te ontkom aan die sosialisme wat die Britse Arbeidersparty onder mnr. Harold Wilson besig was om in Brittanje in te stel. Volgens diplomate van die destydse regering, wou Suid-Afrika ook immigrante van Nederland hierheen lok om die Afrikanerbevolking te versterk, maar ons departement van buitelandse sake, wat Britsgesind was, het dié pogings in die wiele gery.
Vanweë Suid-Afrikaanse voorspoed en Britse agteruitgang, met die gepaardgaande Britse immigrasie na ons land, is die pro-Britse deel van die bevolking versterk. Hoewel die meeste Britte wat hierheen gekom het konserwatief was, is hul kinders na die plaaslike Engelse universiteite gestuur waar 'n radikale, linkse en anti-Afrikaanse gees geheers het. Reeds in die veertigerjare het kommuniste soos Joe Slovo, Jimmy Kantor en Harold Wolpe aan Wits 'n rol gespeel om Engelse kampusse al hoe verder links te posisioneer in hul felle kritiek teen Afrikanerregering. Die gevolg was dat die linkse beweging in Suid-Afrika al hoe sterker geword het, gerugsteun deur die Engelse universiteite en koerante, asook die buiteland waar selfs terreur teen ons land goedgepraat en befonds is.
Mnr. FW de Klerk het uiteindelik ook onder Britse invloed gekom en die land holderstebolder aan Slovo en sy trawante oorhandig. Ons moet verstaan dat swartmense, soos tydens die Tweede Vryheidsoorlog, bloot "agterryers" of figurante in 'n hoofsaaklik blanke konflik was. Die ANC was grotendeels 'n maaksel van blanke, Brits-gesinde kommuniste wat die beleid bepaal, die toesprake en mediaverklarings geskryf en die bomme met die hulp van die Sowjetunie en Oos-Duitsland vervaardig het.
Terreur, maar ook die misleiding en verraad deur Afrikanerleiers soos De Klerk en Roelf Meyer, het die tweede republiek geknak en in 1994 het Suid-Afrika weereens lid van die Britse Statebond geword. In naam was die land steeds 'n republiek, maar moes die soewereiniteit wat hy in die periode 1961 tot 1994 geniet het, prysgee. In 1997 het mnr. FW de Klerk tydens 'n toespraak in Londen erken dat dit vir hom 'n "pynlike besluit" was om die soewereiniteit van Suid-Afrika, spesifiek dié van Afrikaners, prys te gee:
"Anders as enige ander blanke groep in Afrika, was Afrikaners 'n nasie. Die vasbeslotenheid om hulleself te regeer, was 'n sentrale tema van hul 350 jaar lange geskiedenis op die subkontinent. Hulle het net so sterk oor dié reg gevoel as die Israeli's, die Iere, die Bosniërs of die Serwiërs of soos swart Suid-Afrikaners.
"Dit het hulle gedryf om die onbekende en dikwels vyandige wildernis in te trek. Dit was die dryfkrag agter die stigting van hul twee republieke 150 jaar gelede. Dit was die mag wat hulle twee keer gemotiveer het om hul onafhanklikheid teen die magtige imperiale ryk van daardie tyd te verdedig. Ná hul nederlaag het dit hulle die krag gegee om hul mense weer op te bou, om hul taal en kultuur te verdedig en om hul republiek in ere te herstel.
"Die besluit om die reg tot nasionale soewereiniteit prys te gee was sekerlik een van die mees pynlike wat enige leier of sy mense ooit gevra kon word om te doen. Die reg tot die handhawing van nasionale soewereiniteit, van mense om hulleself te regeer, word in baie lande as ononderhandelbaar beskou. Die meeste nasies sal bereid wees om die risiko van 'n algehele oorlog en katastrofe te loop eerder as om dié reg prys te gee.''
Die Burger, wat op 5 Februarie 1997 oor dié toespraak van mnr. De Klerk berig het, gaan in die indirekte rede voort:
"Tog was dit volgens mnr. De Klerk 'n besluit wat geneem móés word. Die noodsaaklikheid daarvan om dié ideaal prys te gee, wat so lank vertroetel en oor gedroom is en waarvoor so baie generasies van voorvaders geveg het en waarvoor so baie mense gesterf het, moes aanvaar word."
in hierdie toespraak verontskuldig mnr. De Klerk sy oorgawe aan die ANC en aan sy terroristemag, Umkhonto we Sizwe, deur dit as 'n noodsaaklikheid aan te bied. Hoeveel terreuraanvalle was daar nie al op Israel nie, sonder dat die land vir 'n oomblik al oorgawe aan die Palestyne of sy Arabiese bure oorweeg het? In die onlangse tyd was daar ook al veel meer terreuraanvalle teen Brittanje deur Moslemgroepe as teen die ou Suid-Afrika. Nogtans versaak die Verenigde Koninkryk nie haar strategiese doelwitte in die Arabiese wêreld nie.
Waarskynlik is mnr. FW de Klerk een van die min leiers - indien nie die enigste nie - wat voor terreur of die dreigement van verdere terreur - geswig het.
Die verlies aan die tweede republiek was die uiteindelike oorwinning vir die Ryksgesindes wat in 1960 ten gunste van die Britse monargie in Suid-Afrika gestem het. Iewers het mnr. De Klerk 'n Damaskuservaring ondergaan en het insgelyks die Britse visie vir Suid-Afrika as "Klein Engeland in die Suide" aanvaar.
Die huidige tydvak waartydens die staat na willekeur geplunder word en geweld oral in die land botvier, verskil nie veel van soortgelyke periodes toe daar sterk Britse invloed in Suid-Afrika was nie. Immers het die probleme aan die Oosgrens en die gebrek aan beskerming vir die boere deur die Kaapse koloniale bewind, aanleiding tot die Groot Trek gegee. Elke keer wat die Britte nog ons land binnegeval het, het hulle feitlik onmiddellik aan die swart stamme onder hul invloed of beheer 'n vrypas gegee om te moor, te plunder en te verkrag soos hulle wil. Die ware verhaal van Britse vergrype in ons geskiedenis - waaronder ook die bedekte steun en beskerming wat aan Slovo en sy medeterroriste in Londen verleen is - moet nog geskryf word.
Vandag verkeer ons nogmaals aan die ontvangkant van 'n Britsgeïnspireerde terreurveldtog. Ons Britsgesinde media hamer elke dag op die regte van swartmense wat kwansuis rede het om geweld teen ons te pleeg, maar bly tjoepstil oor Afrikanerregte en die mishandeling waaronder ons gebuk gaan. Vandeesweek het ons gesien hoe die Afrikanergemeenskappie by Kleinfontein deur sowel die ANC as die erfgename van die ou Verenigde Party, die DA, geteister en geïntimideer word om van hul beperkte plaaslike vryheid af te sien. Op geen vierkante sentimenter van Suid-Afrikaanse grondgebied mag Afrikaners saamwoon, hul eie sake bedryf en Afrikaans as openbare taal gebruik nie, lyk dit. Ook mag ons die veiligheid van sulke gemeenskappe opsoek nie, want ons moet blootgestel wees aan die "natuurlike geweld van mulitikuturele demokrasie".
By my ly dit geen twyfel dat ons mense besig is om die jare lange propaganda en illusies van hulle af te skud nie. Hulle sien die situasie soos hy is: ons verlies aan soewereiniteit wat ons in groteske onvryheid gedompel het.
Die ideaal van 'n nuwe, derde republiek bly dus lewendig. Ons weier om te aanvaar dat dít wat vir die meeste ander volkere op aarde vanselfsprekend is - die reg om jouself te regeer - nie ook die Afrikaner toekom nie. Brittanje het die Swazi's van Swaziland en die Sotho's van Lesotho toegelaat om volkstate te verkry, maar nie die Afrikaner nie. Hoe rym dit?
Die koms van die internet het 'n nuwe dinamiek in Afrikaans en onder Afrikaners gebring. Ons luister nie meer na leiers soos mnr. De Klerk wat sy persoonlike belang dien deur saam met die Britte of Amerikaners teen sy eie mense te heul nie. Elke Afrikaner dink vir homself en spreek sy eie mening op Facebook, Twitter en 'n menigte webwerwe uit.
Danksy interaktiewe kommunikasietegnologie, het daar die afgelope tyd 'n verbasende konsensus onder Afrikaners ontwikkel. Ons verwerp die huidige stelsel en die set waarmee ons in hier ingelok is. Suid-Afrika is geen ware demokrasie nie; op sy beste kan 'n mens dit as "demokratiese sentralisme" na die model van Lenin in die ou Sowjetunie beskryf. Een party beheer feitlik alles en gebruik die staat om teen die inheemse Afrikanerminderheid te diskrimineer en ons selfs uit die land te verdryf.
Op 'n agterbakse wyse is ons ontwapen, veral deur die nuwe wapenwet wat weereens deur Engelse aan die ANC-bewind voorgestel is. Nou staan ons feitlik weerloos teen ons vyande wie se haat en nyd by die dag toeneem met hul dreigemente van grondhervorming, nasionalisering, verengelsing van ons skole en dergelike meer.
Laat ons egter nie moedeloos raak nie. Ons is ons eie grootste vyand. Afrikaners se gebrek aan eendrag en meelewing met ander Afrikaners is die element wat ons die meeste verswak. Die dag wat ons soos een man teen die huidige stelsel opstaan, is die dag waarop dit in duie stort!
Vandag om 12:00 moet elke Afrikaner op sy manier ons lang en trotse geskiedenis in Afrika herdenk. U kan Die Stem sing, u kan iets twiet of deel op Facebook, u kan 'n glasie op ons toekoms klink of u kan net stil iewers mediteer oor ons geskiedenis en die toekoms wat vir ons wink.
Ons sal aanhou om Republiekdag te vier, al is dit bloot op die internet. Want ons weet dat die Afrikaner se wil om vry te wees onblusbaar en onstuitbaar is.
Die Nuwe Republiek sal kom, so seker as wat die son elke dag op die horison verrys!
Die Stem
Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,
Deur ons vér verlate vlaktes met die kreun van ossewa —
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika.
In die merg van ons gebeente, in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees,
In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf —
Deel geen ander land ons liefde, trek geen ander trou ons af.
Vaderland! ons sal die adel van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners — kinders van Suid-Afrika.
In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde, in die lanfer van ons rou,
By die klink van huw'liks-klokkies, by die kluitklap op die kis —
Streel jou stem ons nooit verniet nie, weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep sê ons nooit nee nie, sê ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe — ja, ons kom, Suid-Afrika.
Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou —
Dat die erwe van ons vaad're vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer:
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.
Die Stem van Suid-Afrika:
Gedig deur C J Langenhoven
Komponis: M L de Villiers
