Media

VOLKSVERGADERING (3)

altInderdaad het die voorste leidende liberale lig in daardie stadium onder die Afrikaners, FW de Klerk self, geweet die nuwe grondwet plaas hom en die Afrikanervolk se kop stewig in die kommunistiese ANC se strop...

In die skrywes oor die 29 Januarie 1994-volksvergadering en die mandaatlose vertrek van die Afrikanervolksfront (AVF) se leiers van daardie vergadering af, is die afleiding gemaak prominente Afrikanerleiers wat hul skynbaar vereenselwig het met die 1996-grondwetkontrepsie vir die land, uiters ongeduldig was met dié stuk papier.

Daar is aangevoer dat selfs genl. Constand Viljoen en die destydse redakteur van die linkse koerant Rapport, dr. Izak de Villiers, onder daardie groep was. Daar was heelwat blyke dat dr. De Villiers hom oor die grondwet en die Afrikaner se haglike posisie berou het, behalwe vir die feit dat hy dit in sy rubrieke in 'n vrouetydskrif gedoen het, het hy blykbaar nie geskroom om oor die “regse” Radio Pretoria te praat nie, en hy was selfs die hoofspreker een Geloftedag by Bloedsrivier.

 

Inderdaad het die voorste leidende liberale lig in daardie stadium onder die Afrikaners, FW de Klerk self, geweet die nuwe grondwet plaas hom en die Afrikanervolk se kop stewig in die kommunistiese ANC se strop, soveel so dat hy raadop vir sy hoofonderhandelaar, Roelf Meyer, ná nog 'n vernietigende toegewing aan die ANC, gesê het: “My God, Roelf, nou het jy die land weggegee!” (sien Jan Heunis, seun van Chris Heunis, se boek, The Inner circle).

Daar was destyds, toe dr. De Villiers nog Rapport se redakteur was, 'n verwikkeling wat insig gee in dr. De Villiers en Viljoen se uiterste frustrasie oor die gevolge van die grondwet waaraan hulle aandadig was

In Rapport van 17 September 1995 toon dr. De Villiers in 'n reaksie heelwat begrip vir die volksnasionalistiese Afrikaner se standpunt, sy raad en die feit dat, soos genl. Viljoen dit ook dan stel bedenklik, vir 'n oomblik ter syde. Dr. De Villiers wou hê dat alle Afrikaners hul kragte by die Nasionale Party inwerp ter wille van 'n verenigde front vir komende munisipale verkiesings.

Hierdie standpunt van dr. De Villiers is uiteraard 'n ou een en wollerig en Viljoen bied, deur sekere sake aan hom te stel, vir dr. De Villiers nog 'n geleentheid tot 'n meer onomwonde standpunt deur in 'n brief sekere sake aan die orde te stel. Viljoen se brief is in die volgende uitgawe (24 September 1995), gepubliseer en elders in die koerant gryp dr. De Villiers dan ook die geleentheid aan vir opheldering.

Genl. Viljoen bestempel in sy brief Rapport se siening dat opposisiepartye ‘n “front” teen die ANC moet vorm as ‘n “waterskeiding”. Genl. Viljoen maan dat die ANC hom nie sal laat stuit in sy rewolusionêre geweld soos stakings, kampusonrus en “baie ander tonele wat aand vir aand op ons televisie gesien word nie”.

“Nou vra u van ons ‘kleiner opposisiepartye’ om saam met die NP te staan om hierdie groot gevaar teen te staan,” kla hy en wys tereg daarop dat die NP die ANC se beleid van “individuele regte aanvaar het en die regte van groepe en minderhede feitlik onbeskermd gelaat het in die tussentydse grondwet”.

“Mnr. die redakteur, u moet weet dat die NP ons Afrikaners in samewerking met die meerderheidsparty ontmagtig het. Dit was hierdie NP wat in die tagtigerjare ons boere sistematies verarm het deur R12 miljard aan subsidie en staatshulp te onttrek...

“Twee skrummaats wat u uitsoek vir die NP, is die IVP en die VF...Hulle staan ‘n samewerkingspatroon voor, gebaseer op die reg van ‘n volk om oor sy eie lotsbestemming te beslis as deel van ‘n groter Suid-Afrikaanse geheel.”

Rapport antwoord Viljoen: “Op die bladsy hiernaas vat genl. Constand Viljoen Rapport aan as sou hierdie koerant ‘n voorstander wees van wat hy ‘n ‘NP-alternatief’ noem. Nee, Rapport bepleit nog konsekwent een of ander samewerking tussen opposisiepartye (NP, VF, DP en IVP) op grondslag van sekere beginsels wat hulle deel. Dis die enigste alternatief vir ‘n ANC-meerderheid wat al hoe meer sy getalsoorwig gebruik om sy wil deur te stoomroller.

“Rapport vra nie dat opposisiepartye hul uniekheid moet prysgee nie. Hulle kan dit behou mits hulle beleid ‘gesond’ is. Maar hulle moet hulle beplanning deur konsultasie teen die werklike groot teenstander, die ANC, agtermekaar kry....

“Genl. Viljoen laat blyk dat hy van mening is dat kleiner partye, elkeen in sy eie hoekie, mans genoeg is om die oorheersing van ‘n massa-bevrydingsbeweging soos die ANC aan te vat. Dit is politiek net nie haalbaar nie. Of glo genl. Viljoen werklik dat pres. Nelson Mandela ernstig op te neem is wanneer hy skimp oor die toestaan van ‘n Afrikaner-volkstaat?”

Daar het die leser dit: Dr. De Villiers, 'n redakeur van Rapport (en Rapport en Nasionale Pers self?) het nog altyd geweet hul heilige Madiba - en die 1996-grondwet - lieg wanneer daar volkstate aangebied word.

 

In ‘n artikel naas die kommentaar word die NP aangeraai om afstand tussen hom en die ANC te plaas. Dit was in die tyd van die ANC-NP-wittebroodsdae bekend as die Regering van Nasionale Eenheid. Die rede? Die NP het hom deur die ANC in “politieke maalkolke” laat insuig.

DE KLERK

Dat De Klerk self 'n kandidaat is om 'n oorval te kry oor die 1996-grondwetkontrepsie en sy onheilige gevolge, wat onder sy leierskap en aanvuring sy beslag gekry het, een dat 'n “minderheid binne 'n meerderheid” kragtens die kontrepsie alle regeringsmag toeëien, is klaarblyklik.

Hy het allerhande verduidelikings gehad toe hy spoedig na die aanvaarding van die 1996-grondwet deur die Parlement uit die Regering van Nasionale Eenheid en die frustrerende drukgang van 'n ANC-parlement wat dit geskep het, bedank het, verduidelikings wat sy ander linkerhand, mnr. Pik Botha, glad nie tevrede gestel het nie. Mnr. Botha is uiteraard ook 'n omgekrapte liberaal wat deesdae in landboutydskrifte skryf die Nasionale Party sou dan kwansuis nooit 'n nuwe politieke bedeling aanvaar het as die party geweet het die ANC voer planne in die mou om grond en eiendom te gryp nie. Wat Pik verswyg in sy artikels van verskoning, is die dringende en herhaalde waarskuwings wat hulle gekies het om te ignoreer!

DIE FEDERASIE VAN AFRIKAANSE KULUURVERENIGINGS (FAK)

Die verrassende gesig egter tussen die ongeduldige liberale Afrikaners oor wat hulle dink van die bedeling wat die 1996-grondwetkontrepsie geskep het, is die FAK, stutorganisasie van die Afrikaner-Broederbond.

Om nie van onnodige bevoordeelde en selektiewe aanhalings beskuldig te word nie, word 'n artikel oor De Klerk en wat hy tydens die onderhandelinge oor 'n grondwet aangevang het wat op die FAK se webwerf verskyn, volledig geplaas:

Mnr FW de Klerk is die enigste Afrikanerleier wat die Nobelprys vir Vrede gewen het. Hy is ook die enigste leier wat twintig jaar na Afrikaners alle mag verloor het, steeds leef. Aangesien Suid-Afrika soos dit vandag daar uitsien die produk is van De Klerk se onderhandelings, is hy ook ‘n omstrede figuur. De Klerk self en sy ondersteuners herhaal dikwels dat die bedeling wat rondom 1994 tot stand gekom het, die beste moontlike uitkoms was. Sy teenstanders verskil en was van meet af aan gekant teen die voorgestelde veranderings waarvan die uitkoms by herhaling voorspel is. Daarom word die verhaal van mnr FW de Klerk vertel, sonder om ‘n oordeel te vel. ( Die geskiedenis sal dit ongetwyfeld self doen. AVP)

Biografiese gegewens

Frederik Willem de Klerk is in 1936 in Johannesburg gebore. Sy pa, Jan de Klerk, was ‘n ywerige ondersteuner van die “gesuiwerde” Nasionale Party wat in 1934 deur NP-ondersteuners gestig is, wat nie met die Suid-Afrikaanse Party van generaal Jan Smuts wou saamsmelt nie. Die “gesuiwerdes” was ‘n klein groepie Afrikaners wat sterk republikeinsgesind was, maar vir etlike jare min steun kon trek. In Transvaal was De Klerk senior se swaer, advokaat JG Strijdom, vir byna tien jaar die enigste Transvaalse volksraadslid van die NP. Later sou Strijdom eerste minister word en De Klerk, toe ‘n senator, was ‘n minister. Senator de Klerk was in die kabinet tot in 1975, toe hy ‘n kort rukkie as staatspresident waargeneem het. Daarna het hy uit die politiek getree.

FW de Klerk het aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp gematrikuleer en daarna regte aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) gestudeer. Na sy LLB graad het hy in 1959 ‘n regspraktyk in Vereeniging geopen. In dieselfde jaar is hy met Marike Willemse getroud, saam met wie hy ‘n gesin met twee seuns en ‘n dogter gebou het.

In 1969 is De Klerk deur die kiesafdeling van Vereeniging tot die volksraad verkies,(dieselfde jaar waarin die NP geskeur en die Herstigte Nasionale party tot stand gekom het as gevolg van John Vorster se afwyking van Nasionale party beleid. AVP.) In 1978, toe mnr PW Botha aan bewind gekom het, is De Klerk in die kabinet aangestel. Hy het verskeie portefeuljes vir kort tydjies beklee en was nie as ‘n aanhanger van Botha se “hervormings” bekend nie. Met die botsing tussen Botha en dr Andries Treurnicht in 1982, wat tot ‘n skeuring in die NP en stigting van die Konserwatiewe Party (KP) gelei het, het De Klerk aan Botha lojaal gebly. So het hy die magtige posisie as leier van die NP in Transvaal verower.

Ingevolge die grondwet van 1984 het Bruinmense en Indiërs elk ‘n “kamer” in die parlement geword, sodat die Volksraad voortaan een van drie “kamers” sou wees. Elke kamer het onder leiding van ‘n ministersraad en ‘n voorsitter sy “eie sake” beheer, terwyl ‘n kabinet onder leiding van ‘n uitvoerende staatspresident “algemene sake” beheer het. De Klerk is tot voorsitter van die blanke ministersraad verkies, maar het steeds ‘n minister in die kabinet self gebly.

Vroeg in 1989 het mnr PW Botha as leier van die NP teruggestaan, hoewel hy president gebly het. De Klerk is in sy plek verkies en sou volgens alle aanduidings binne afsienbare toekoms president word. Botha is in Augustus daardie jaar deur sy kabinet gedwing om as president uit te tree en De Klerk het hom opgevolg.

Op 2 Februarie 1990 het De Klerk tydens die parlementsopening aangekondig dat alle politieke organisasies ontban sou word, dat politieke gevangenes (insluitend mnr Nelson Mandela) vrygelaat sou word en dat onderhandelings vir ‘n nuwe bedeling in Suid-Afrika sou begin. As gevolg hiervan het De Klerk en Mandela in 1993 saam die Nobelprys vir vrede ontvang. (Dit moet hier egter genoem word dat De Klerk se referendumvraag ‘n stuk bedrog was en dat De Klerk voorgegee het om hom te beywer vir groepsregte, terwyl hy geweet het dat alles sal uitloop op swart meerderheidsregering. AVP)

Die proses wat in 1990 begin het, het in 1994 op ‘n verkiesing uitgeloop wat deur die ANC gewen is. ‘n Regering van Nasionale Eenheid is gevorm, waarin De Klerk een van President Mandela se adjunk-presidente was. Dié eenheid het egter nie lank geduur nie en in 1996 het De Klerk uit die regering getree. In 1997 het hy ook as leier van die NP bedank.

Sedert 1996 beywer De Klerk hom op verskillende maniere vir die soort samelewing waarin hy glo. Dit sluit die skryf van sy outobiografie en toesprake regoor die wêreld in. In 2000 het hy die FW de Klerk Stigting vir dié doel tot stand gebring. Hy is wêreldwyd ‘n gewilde spreker.

De Klerk se persoonlike lewe was betreklik stormagtig. In 1998 het ‘n verhouding tussen hom en Elita Giorgiades op die lappe gekom. Sy was die vrou van ‘n Griekse skeepsmagnaat wat die NP-regering gehelp het om olieboikotte te omseil. De Klerk en sy vrou, Marike, is geskei en hy en Elita is kort daarna getroud. In 2001 is Marike wreed vermoor. ‘n Sekuriteitswag van die woonstelkompleks is skuldig bevind en lewenslank tronk toe gestuur.

Openbare lewe

FW de Klerk was ‘n gewilde prokureur toe hy in 1969 tot die parlement verkies is. Op daardie stadium was sy pa, senator Jan de Klerk, een van die mees senior ministers in advokaat John Vorster se kabinet. Kort daarná is hy ‘n akademiese pos in die regte aan die PU vir CHO aangebied. Hy het dit van die hand gewys, want die politiek was vir hom ernstig. Die twee dele van sy agtergrond, politiek en die regte, sou bepalende invloede vir- die res van sy lewe wees.

Gedurende die byna tien jaar wat De Klerk ‘n gewone parlementslid was, was hy as ‘n man met konserwatiewe opvattings bekend, maar hy het hom nooit aan ‘n drukgroep binne die party verbind nie. Dit het hom die kans gegee om die werking van die politiek fyn dop te hou. Hy het besef dat politiek oor mag gegaan het en dat ‘n mens fyn voetwerk moes doen as jy in die politiek wou oorleef. Die konserwatiewe gedagtes waarvoor hy bekend was, was destyds algemeen in die Transvaal en het hom kans gegee om ‘n leiersfiguur te word.

Die eerste minister, mnr PW Botha, het minder belangrike kabinetsposte aan De Klerk gegee, soos aan die NP se leier in Transvaal, dr Andries Treurnicht. Dit was juis die meningsverskille tussen Treurnicht en Botha wat De Klerk se loopbaan ‘n hupstoot gegee het.

In 1978 het eers die pos van leier van die NP (en dus eerste minister) en kort daarna die pos van NP-leier in Transvaal vakant geraak. Dit was vir die meer liberale vleuel van die NP ‘n oorwinning toe mnr PW Botha die eerste pos gekry het, maar die vreugde is effens gedemp toe dr Andries Treurnicht Transvaalse leier geword het. Hy was uitgesproke konserwatief en ‘n teenstander van Botha se sogenaamde hervormingsbeleid. Die magtigste provinsie in die NP was toe onder sy leiding. Spanning tussen die twee leiers het van tyd tot tyd opslae in die pers gemaak. In 1982 is dit op ‘n spits gedryf toe Botha ‘n vertolking van NP beleid as “gesonde magsdeling” goedgekeur het.

Met die breuk tussen Treurnicht en Botha het die kans bestaan dat Treurnicht met die Transvaalse NP van Botha se party kon wegbreek. Op hierdie kritieke tydstip het De Klerk sy steun aan Botha gegee. Omdat De Klerk self as ‘n konserwatiewe leier bekend was, het hy sekere Treurnicht-ondersteuners oortuig om in die NP te bly. Uiteindelik het Treurnicht die Konserwatiewe Party (KP) gestig en De Klerk het Transvaalse leier van die NP geword.

Hoewel dit nooit die nuus gehaal het nie, was daar ook spanning tussen Botha en De Klerk. De Klerk het geglo dat die parlement die belangrikste instelling in die regering van die land moes wees, maar Botha het toenemend op die veiligheidsmagte en die Staatsveiligheidsraad staat gemaak. Dié raad moes politieke – en veiligheidsake ko-ordineer, maar het toenemend die plek geword waar die belangrikste regeringsbesluite geneem is. Verder was De Klerk skepties oor party van Botha se hervormings.

Daar was ook ander invloede op De Klerk se loopbaan as minister. As minister van nasionale opvoeding en beplanning (swart 0nderwys) het hy eerstehands beleef dat swartmense die beleid van afsonderlike ontwikkeling anders beleef het as wat dit bedoel is. In die driekamerparlement moes hy homself teenoor bruin en Indiër lede regverdig, wat Suid-Afrika en regeringsbeleid heeltemal anders as hy gesien het. Dit het De Klerk onder die indruk gebring dat die noodtoestand, wat probeer het om swart onrus te onderdruk, nie ‘n oplossing was nie.

Botha se bedanking as leier van die NP in 1989 het De Klerk teen die destydse minister van finansies, mnr Barend du Plessis as moontlike opvolgers gestel. Botha en die meer hervormings gesinde lede van die NP het Du Plessis gesteun, terwyl De Klerk steun onder konserwatiewe lede gehad het. De Klerk het gewen, hoewel hy nog nie president was nie.

Om partyleier te wees sonder al die verantwoordelikhede van die presidentskap, het De Klerk die ideale geleentheid gegee om op hoogte van sake te kom. Terwyl hy lank reeds teen Botha se geheimsinnige en militaristiese styl van regering gekant was, het hy oortuig geraak dat dit in landsbelang was dat Botha sou uittree. Volgens die grondwet het die president oor uitgebreide mag beskik. Die enigste instansie wat hom kon inperk, was die regerende party. Nadat Botha as partyleier bedank het, het dit beteken dat hy vry van enige beperkings was. Boonop was die rede waarom hy bedank het, ‘n beroerte aanval in Januarie van daardie jaar – ‘n mediese toestand wat noodwendig ‘n mens se breinfunksie negatief beïnvloed.

De Klek, in samewerking met die mees senior minister in die kabinet, mnr Pik Botha, het besluit om mnr PW Botha te dwing om te bedank. By ‘n kabinetsvergadering het hulle hom daarmee gekonfronteer dat die kabinet hulle vertroue in hom verloor het en hom nie meer as president kon steun nie. Hy het voor die onvermydelike geswig en De Klerk is as president aangewys.

Na hy president geword het is De Klerk die eerste maal volledig ingelig oor hoe ver Botha se onderhandelings met die ANC reeds gevorder het. As president het Botha die ANC-leier, mnr Nelson Mandela, meer as een keer in sy kantoor ontvang. Samesprekings is ook op ‘n hoë vlak tussen ander verteenwoordigers van die regering en die ANC gevoer.

Vir De Klerk was dit duidelik dat daar geen omdraaikans in onderhandelings met die ANC meer was nie. Na sy mening was dit belangrik om vinnig op te tree en inisiatief te behou en die beste moontlike bedeling te onderhandel. Daarom moes hy die buitewêreld en die ANC verras deur vinniger te beweeg as wat enigeen verwag het. Met die volgende parlementsopening, op 2 Februarie 1990, het hy dus aangekondig dat alle verbode organisasies ontban word, politieke gevangenes vrygelaat word, Mandela sonder enige voorwaardes vrygelaat word en dat onderhandelings oor insluiting van alle Suid-Afrikaners in ‘n enkele demokrasie sou begin.

Suid-Afrika en die res van die wêreld was uit die veld geslaan. De Klerk se eerste groot uitdaging was om blanke kiesers en veral Afrikaners, se steun vir die proses te wen. Swak uitslae in tussenverkiesings, veral in Potchefstroom, het daarop gedui dat sy optrede besonder ongewild onder sy eie mense was.

De Klerk het gereageer deur ‘n referendum in 1992 uit te roep. Die vraag was: “Steun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ‘n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?” In die mees intense veldtog in die land se geskiedenis, en met die steun van elke afdeling van die massa media, sakelui en internasionale gemeenskap, het die Ja-stem bykans 69% van die stemme ontvang. Dit was vir De Klerk ‘n reuse oorwinning.

Onderhandelings met die ANC het minder vlot verloop. Dit het meer as een keer op ‘n dooie punt uitgeloop, waarop die ANC met massa-aksie die land lamgelê het. De Klerk se weersin in sy voorganger se swaar steun op die veiligheidsmagte, het gemaak dat hy glad nie dié deel van sy mag in die onderhandelings gebruik het nie. Hy het selfs nie hulle advies gevra nie, wat ‘n groot fout was. De Klerk het in die mag van redelike gesprek geglo en sy teenstanders in die ANC onderskat. Die veiligheidsmagte het genoeg inligting gehad om glad nie die fout te maak nie, maar hulle insette is nooit deur De Klerk gevra nie. Trouens, in ‘n poging om die ANC tevrede te stel, het hy teen elemente van sy eie veiligheidsmagte opgetree en hulle byna van hom vervreem.

De Klerk se onderhandelingspan onder leiding van ‘n senior kabinetsminister, dr Gerrit Viljoen, is mettertyd deur ‘n jonger groep onder mnr Roelf Meyer vervang. Hoewel De Klerk en lede van die onderhandelingspan dit vandag nog ontken, is historici daaroor eens dat Meyer en sy span nie tee die ANC se onderhandelaars onder mnr Cyril Ramaphosa opgewasse was nie. De Klerk het hom vir groepsregte en beskerming van minderhede beywer en dit selfs in die referendum aan kiesers belowe, maar uiteindelik moes die regering op al hierdie punte toegee. Die regering se versuim om “ononderhandelbare” posisies te formuleer en af te dwing, het gemaak dat hulle op bykans elke belangrike kwessie moes toegee.

Die belangrikste besluite wat die regering kon deurvoer, was die oprigting van onafhanklike liggame soos die grondwetlike hof, die ouditeur-generaal, openbare vervolgingsgesag en enkele ander. Dit het die mag om die regering aan bande te lê en beteken dat Suid-Afrika ‘n regstaat is, met ander woorde ‘n staat waar die reg bo die regering verhewe is. Daar sou ook vir die eerste vyf jaar ‘n “Regering van Nasionale Eenheid” (RNE) wees.

In die verkiesing van 1994 het die NP onder De Klerk se leiding 20% van die stemme gekry, teenoor die ANC se 62%. Dit was voldoende vir De Klerk om as adjunk-president in die RNE onder President Mandela opgeneem te word. Die ander adjunk-president was die ANC se Thabo Mbeki.

Die sogenaamde wittebrood van die RNE was gou verby. Ministers uit die vorige bedeling het verwag dat swaar op hulle ervaring gesteun sou word, terwyl die ANC eintlik niks van hulle wou weet nie. Volgens De Klerk het die ANC al minder in die gees van die onderhandelings opgetree. Teen Junie 1997 het hy die NP uit die RNE gelei en ‘n jaar later as leier van die party bedank.

Sedert De Klerk uit die politiek getree het, het hy geen invloed op die manier waarop Suid-Afrika regeer word nie. Tog is hy ‘n gewilde internasionale spreker en word as ‘n kenner op die gebied van konflikbeslegting gereken. Sy FW de Klerk Stigting word as ‘n invloedryke liggaam vir politieke en sosiale navorsing gereken. Daarmee poog hy om die erfenis van liberale demokrasie te bewaar. Hy verwerp die kritiek teen die leiding wat hy tussen 1990 en 1994 gegee het en hou vol dat dit die beste moontlike uitkoms vir Suid-Afrika bewerkstellig het.

Slot

Mnr FW de Klerk was in 1989 president van ‘n geweldsgeteisterde land wat sterk onder politieke onrus en internasionale isolasie gely het. Aan die ander kant het die ekonomie verbasende lewenskrag getoon en veiligheidsmagte was besig om beheer oor die land te herwin. In 1994 was die meeste politieke geweld beëindig en Suid-Afrika ‘n internasionale gunsteling, maar gaan onder misdaad en swak regering gebuk. Dit is ‘n goeie vraag vir watter ontwikkelings De Klerk almal verantwoordelikheid behoort te aanvaar

Die beklemtonings is van die AVP..