Media

WAT IS ARTIKEL 235 VAN DIE SG. GRONDWET WERD?

altDie nuwe grondwet verbied dus in effek die verlening van selfbeskikking in ‘n soewereine, onafhanklike volkstaat.

In ‘n Media verklaring deur mnr Pieter vd. Spuy oor die reg op selfbeskikking en die grondwet, op 3 Mei 1996, het hy sy verbasing uitgespreek oor die Vryheidsfront se aankondiging dat hy die beoogde artikel 230 van die nuwe grondwet (wat later artikel 235 geword het terwyl die inhoud dieselfde gebly het), as ‘n groot deurbraak vir die erkenning van die reg op selfbeskikking beskou. Mnr. vd Spuy het gesê die Vryheidsfront probeer in sy verklaring die indruk skep dat die reg op selfbeskikking van gemeenskappe nou konstitusioneel erken en beskerm word terwyl dit hoegenaamd nie die geval is nie.

Mnr. vd Spuy het verder daarop gewys dat artikel 230 niks anders bepaal as wat in die 1994 grondwet bepaal is nie, naamlik dat geen volk of groep die reg op selfbeskikking het nie. Die enigste selfbeskikking is die van die Suid Afrikaanse bevolking in die geheel. Dit was uitdruklik bepaal in artikel 1 wat verklaar dat die Republiek van Suid Afrika een soewereine demokratiese staat is.

 

Artikel 230 maak dit duidelik dat enige erkenning van ‘n vorm van selfbeskikking wat moontlik in die toekoms aan ‘n groep verleen mag word, onderhewig sal wees aan die beginsel dat Suid Afrika in sy geheel ‘n eenheidstaat is. Die nuwe grondwet verbied dus in effek die verlening van selfbeskikking in ‘n soewereine, onafhanklike volkstaat. Dit is volkome in ooreenstemming met die ANC standpunt dat ‘n volkstaat vir die Afrikaner nooit erken sal word nie.

DIE HNP SE DWALING

Die HNP leiding se selfvernietigende afwyking van geykte beginselstandpunte begin al duideliker sigbaar word in hulle assosiasie met die sg. “Volksraad”. Standpunte soos dat daar nie met jou vyand onderhandel word oor dit wat jou eie is nie, dat hierdie land ons land is, dat daar nie met die swart kommunistiese regime onderhandel sal word nie, word nou deur die “Volksraad”, waarvan die leier van die HNP ook die president en voorsitter is gekanaliseer. Erkenning dat die swart Kommunistiese regime ‘n aanspraak op Suid Afrika het word gevestig deur met hulle te onderhandel. Dit skep ook die indruk van ‘n wetmatigheid waaroor hy nie beskik as gevolg van die onwettige wyse waarop hy aan bewind gekom het nie.

Bewys van enersyds die voorspelde nutteloosheid en andersyds die gepaardgaande vernedering van die Afrikanervolk en Witman, is sigbaar in die verslag van die leier van die HNP wat die voorsitter van die “Volksraad” in die onderstaande onderhandelings was.

Boere-Afrikaner Volksraad se voorspelde futiele onderhandelings oor die kleurgrens.

Die Volksraad het gister ‘n gesprek gevoer met die SA Menseregtekommissie na aanleiding van die klag wat die Volksraad op 3 Desember by die Kommissie teen die SA Regering gelê het weens laasgenoemde se versuim om uitvoering te gee aan sy konstitusionele en volkeregtelike verpligtinge met betrekking tot selfbeskikking van volkere, en spesifiek die Boere-Afrikanervolk.

 

Die gesprek was teleurstellend. Die Hoof Bedryfsbeampte (Chief Operations Officer) met wie die gesprek aangevra is, het nie opgedaag nie en ook geen verskoning is vir haar gemaak nie (nie dat haar teenwoordigheid enige verskil sou gemaak het nie). Van haar mindere beamptes en die deeltydse kommissaris wat die klag beoordeel, dr. Danny Titus*, het die Kommissie verteenwoordig. Die Voorsitster was me. Chantal Kisoon, die Provinsiale Bestuurder vir Gauteng.

Ter aanvang het die Voorsitter van die Volksraad die vergadering meegedeel dat dit óns mense se gebruik is om vergaderings met gebed te open, en het hy ons Ondervoorsitter, Abel Malan gevra om die gebed te doen. Die Kommissielede het dit oënskynlik vreemd gevind, dog die nodige respek getoon, terwyl die Kommissaris sigbaar geïrriteer voorgekom het.

Daarna het die Voorsitter van die Volksraad die redes verstrek vir die versoek tot gesprek en daartoe oorgegaan om ‘n kort beskrywing te gee oor die ontstaan en doel van die Volksraad, pogings om met die Regering te skakel, die redes vir die klag en die uitkoms wat die Volksraad verlang.

 

Vervolgens het hy aan die hand van die kommunikasie wat met die Kommissie gevoer is sedert die klag aanhangig gemaak is, aangetoon hoe navrae met onwaarhede oor die stand van die ondersoek beantwoord is. Hy wou voorts weet hoekom dit die Kommissie 5 maande neem om te bepaal of hulle jurisdiksie het om die klag te hanteer, terwyl die betrokke verdrae deur die VN as menseregteverdrae geklassifiseer is en die S.A. Regering by ondertekening daarvan die Internasionale Menseregtekomitee aanvaar het as beslegter van klagtes oor die uitvoering daarvan. (Wat by implikasie nou ook deur die “Volksraad” aanvaar word)

Kisoon het ontken dat daar voete gesleep word met die klag, en haar Kommissie se proses om klagtes te hanteer, verduidelik. Die ongewone aard van die klag en die implikasies wat dit vir die land kan inhou, dra glo by tot die tydsduur wat vereis word om ‘n besluit oor hul jurisdiksie te neem. Die wanvoorstellings oor die vordering is eenvoudig afgemaak en weggepraat.

Daarna het die Kommissaris wat die ondersoek uitvoer, Danny Titus, die woord geneem. Ofskoon hy toegegee het dat volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg erken word, en dat die regime gebind is tot onderhouding van die internasionale ooreenkomste wat hy onderteken het, het Titus se vooroordeel en vyandigheid uit die staanspoor geblyk toe hy, soos ons verwag het, die hele aangeleentheid oor die boeg van rassisme en ‘n terugkeer na “apartheid” probeer gooi het — ‘n tema wat hy herhaaldelik gedurende die gesprek na vore gehaal het. Die Voorsitter van die Volksraad het daarop aan hom ‘n omvattende navorsingstuk oor die erkenning van volke se reg op selfbeskikking in die Volkereg, oorhandig, wat deur ‘n medewerkende prokureur nagevors en opgestel is.

Voorts het hy die Volksraad se aanspraak op verteenwoordiging betwis weens die feit dat daar nie méér geregistreerde kiesers op die VVK se kieserslys geregistreer is nie. Hy wou weet hoeveel Swartes en Kleurlinge aan die verkiesing deelgeneem het, waarop die Volksraad hom daarop gewys het dat dit ‘n volksverkiesing was vir lede van óns volk wat die verklaring op die registrasievorm kon en wou onderskryf. Hy het trouens beweer dat die aantal vryheidsgesinde Afrikaners daal en ‘n stelling wat in The Economist gemaak word, as bron vir die bewering aangehaal. Die Voorsitter van die Volksraad het voorgestel dat as ‘n billike bepaling van die aantal volksgenote wat vryheid begeer, verlang word, die Kommissie by die Regering moet aanbeveel dat ‘n landwye meningsopname in die vorm van ‘n referendum, wat uit die Staatskas (d.w.s met ons belasting) befonds word, onder Afrikaners gehou moet word.

Die ander vraag (wat ook te wagte was), was wáár die Volksraad ‘n eie gebied vir selfbeskikking in die oog het. Die Kommissie is daarop gewys dat die Volksraad in sy skrywes en vryheidseis vermy het om grense te trek, aangesien dit nou om die erkenning van die beginsel gaan. Daarna moet oorgegaan word tot die bepaling van die praktiese aspekte. Sou die selfbeskikkingsbeginsel aanvaar word, kan aan bestaande volksnedersettings soos Orania en Kleinfontein reeds ‘n hoë mate van selfbeskikking toegeken word, en voorsiening gemaak word vir die geografiese uitbreiding daarvan, terwyl volwaardige eie departemente vir terreine soos byvoorbeeld onderwys daargestel kan word. Sodoende kan selfbeskikking ‘n evolusionêre proses wees wat kan uitbrei totdat die eindideaal, te wete geografiese onafhanklikheid, bereik word.

Titus het beweer dat die beginsel van selfbeskikking reeds in artikel 235 van die Grondwet erken word. Die Volksraad se antwoord was dat dit sonder praktiese uitvoering ‘n dooie letter is. Ons dring aan op praktiese uitvoering daarvan. (Die praktiese uitvoering is volgens die grondwet: géén selfbeskikking!)

Die vraag is gevra waarom ‘n regime wat die Afrikaner sigbaar haat, ons volk steeds onder sy gesag wil hou en nie bereid is om uitvoering te gee aan ons aanspraak op selfbeskikking nie. Ons afleiding is dat hulle ons slegs beskou as ‘n belastingbron wat getap kan word.

Vele ander vrae is gevra en argumente gevoer, waaruit die Kommissaris se kwade gesindheid, onbegrip en selfs moedswilligheid duidelik geblyk het. Daaraan geoordeel, is die Kommissie se bevinding en finale antwoord voorspelbaar. Hy erken enersyds dat die bevolking van Suid-Afrika uit verskillende volke (peoples) bestaan, nogtans gaan dit vir hulle om slegs één ding, naamlik die gelykskakeling en eendersheid van alle mense in Suid-Afrika kragtens die Grondwet. Voor die oppergesag van die mensgemaakte Grondwet — waaraan ons geen deel gehad het nie — moet die harde feite van ons eie volkskap, geskiedenis en identiteit wyk. Volgens Titus sal die Kommissie dieselfde standpunte voor die Internasionale Menseregtekomitee stel, sou die Volksraad hom tot dié liggaam wend.

Die gesprek en die benadering van die Kommissaris het opnuut die onbeskryflike yslikheid van De Klerk en sy meelopers se verraad teen ons volk onderstreep, waardeur ons in ‘n posisie geplaas is dat mense wat self geen volksidentiteit, volksgeskiedenis en volkstrewe het en daarom niks daarvan verstaan nie, oor die Boere-Afrikanervolk en ons nasionale aspirasies uitspraak kan lewer. Dit oortref die gekombineerde verraad van al die joiners in die Tweede Vryheidsoorlog omdat die gevolge daarvan vir ons volksbestaan soveel groter is.

Die Volksraad sal voortgaan om die opdrag wat hy met sy verkiesing gekry het, onverbiddelik uit te voer en roep volksgenote op om laer te trek ter beskerming van ons volkskap en om ons strydvaardig te maak teen die aanslae wat daarteen gerig word.

 

Andries Breytenbach

Voorsitter

14 Mei 2013

 

Johan Wiggel vanoggend op Praag. Hy haal dr. Sydney Gregan goedkeurend aan oor die beperkinge van artikel 235 in die huidige grondwetkontrepsie. Dis 'n behoorlik bollemakiesie deur Wiggel:

Die beginsel van selfbeskikking is reeds gedokumenteer in die VN Handves en ʼn rits ander deklarasies. Onder andere het die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in terme van die regte van minderheidsgroepe op 18 Desember 1992 bepaal dat minderheidsgroepe se etniese, godsdienstige en taalregte beskerm moet word. Die primêre funksie vir die beskerming is geleë in die betrokke staatsowerheid soos vervat in Artikel 1 van die resolusie "States shall protect the existence and the national or ethnic, cultural, religious and linguistic identity of minorities within their respective territories and shall encourage conditions for the promotion of that identity".

Dit is vreemd dat artikel 235 (voorheen 230 van die grondwet) as basis gebruik word om selfbeskikking te eis. Artikel 235 van die Grondwet van Suid Afrika behandel selfbeskikking en lui soos volg "Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal" (Suid Afrika (Republiek) Republiek van Suid Afrika Grondwet 1996).

Artikel 235 van die Grondwet is al deur menige politieke en regskenners verduidelik en dat dit nie die papier werd is waarop dit geskryf is nie. 235 Bied hoogstens interne selfbeskikking wat deesdae deur menige Afrikaner organisasies as die doelwit vir Afrikaner selfbeskikking voorgehou word. Sou voortgegaan word om interne selfbeskikking te eis en sou so eis aanvaar word (hoe onwaarskynlik ook al) sal dit enige verdere strewes vir eksterne selfbeskikking negeer.

Volgens dr Sydney Gregan stel die betrokke artikel dit baie duidelik dat die selfbeskikkingstrewe van 'n "gemeenskap",al sou dit wees binne 'n bepaalde gebied, slegs erken kan word binne die raamwerk van die reg (op selfbeskikking van die geheel), d.w.s die totale prentjie - die selfbeskikking van die totale "nasie" ("people"). Hier is dus hoogstens sprake van "interne selfbeskikking", wat boonop afhang van "nasionale wetgewing" (dus of die meerderheid in die Parlement dit sal goedkeur!). Interne selfbeskikking, in teenstelling met eksterne selfbeskikking, is alles behalwe volledige "soewereine" vryheid in 'n eie "onafhanklike" republiek. Interne selfbeskikking kan hoogstens dui op eie besluitneming oor sekere sake wat die ANC-regime bereid is om aan die "gemeenskap" toe te vertrou. Indien eksterne selfbeskikking bedoel was, sou dit dienooreenkomstig bewoord gewees het en sou daar trouens van 'n reg op afskeiding (sesessie) gepraat gewees het. Om nou te wil voorgee dat die ANC aan onder andere die Afrikanervolk die reg tot afskeiding gegee het (of sal gee) met die bewoording van artikel 235, is goedkoop politieke praatjies om mense te mislei (Gregan:2009).

Selfbeskikking word oor die algemeen beskryf as ʼn beginsel en nie ʼn reg nie met die voorwaarde dat die groep wat eis vir selfbeskikking oorwegend ʼn spesifieke territoriale gebied moet bewoon. Die uti possidetis doktrine (beginsel van territoriale integriteit) word onderhou deur die internasionale gemeenskap in terme dat die territoriale integriteit van soewereine state nie bedreig of ontwrig moet word nie. Alhoewel Afrikaners kwalifiseer in terme van kulturele aspekte om as ʼn homogene groep te eis vir selfbeskikking, beset die Afrikaners nie ʼn territoriale gebied nie en sal moeilik op grond van uti possidetis kan aanspraak maak op selfbeskikking.

Buchanan stel dit dat alle teorieë oor die reg tot sesessie verstaan word as of ʼn Remediërende Reg of ʼn Primêre Reg. Remediërende Reg bepaal dat ʼn groep ʼn reg tot sesessie het as die groep onderworpe is aan ongeregtighede waarvan sesessie die enigste en laaste uitweg is. Primêre Reg teorieë bepaal dat sekere groepe ʼn algemene reg tot sesessie het in die afwesigheid van ongeregtighede. Remediërende Reg teorieë verwys na ooreenstemmende reg tot revolusie. Dit behels dat ʼn deel van die burgery aanspraak maak op sesessie en om ʼn deel van die staat af te skei. Primêre Reg teorieë verwys na die reg om ʼn regering tot ʼn val te bring waar die fundamentele regte van ʼn groep geskend word (Buchanan 1997: 35 ) Afrikaners kwalifiseer vir selfbeskikking in beide die Remediërende sowel as die Primêre Reg teorie.

Ongeag die demografiese realiteite van Suid Afrika is daar opsies om eksterne selfbeskikking te eis. Geografiese besetting van ʼn gebied is nie die alfa en omega vir eksterne selfbeskikking nie. Sesessie hoef nie die onmiddellike modus operandi te wees nie. Dit is egter noodsaaklik dat Afrikaners met mekaar sal saamstem dat Suid Afrika Afrikaner besit is. Die primêre funksie van die tientalle Afrikaner organisasies behoort konsolidering van Afrikaners te wees in ʼn enkele beweging. Let wel, nie ʼn enkele organisasie of party nie, maar ʼn beweging wat Afrikaners mobiliseer tot verset teen die status quo en om ʼn gemeenskaplike vryheidswil te vestig.