TLU SA los grondgesprek....
Die AVP het al by herhaling gesê dat dit dwaas is om te onderhandel, veral met jou vyand oor iets wat joune is. Ons standpunt dat hierdie land die Afrikanervolk se land is, is nie gegrond op blote politieke retoriek nie en is die aanspraak van swartes op “grondhervorming” die mees opportunistiese, indien nie belaglike aanspraak op die besit van ʼn ander volk, denkbaar.
Dit was egter net nodig om Afrikaners te beweeg om die gelykheidsbeginsel (nierassigheid) te aanvaar, om die belaglike in ʼn lewensbedreigende fenomeen te omskep. Deelname aan gesprekke en onderhandelings met die regime wat al by verskeie geleenthede te kenne gegee het dat hulle ons grond wil onteien, saamgelees met die onlangse hof uitspraak dat Regter Froneman, (afsonderlike uitspraak) tereg vra: “If private ownership of minerals can be abolished without just and equitable compensation ... what prevents the abolition of private property of any, or all, property in the same way?”,
watter sin het gesprek of onderhandeling hoegenaamd? Onderhandelings met die onwettige ANC-regime, het ons ook by herhaling gesê, verleen ‘n wetmatigheid waar daar onreg bestaan en verleen aanspraak en seggenskap aan hulle oor eiendom wat op géén wyse aan hulle behoort nie!
Hierdie uitspraak van mnr. Meintjies wat baie lank agterstallig is, word nietemin deur die AVP verwelkom en behoort vir die eerste keer in ʼn baie lang tyd, hoop by georganiseerde landbou te laat opvlam.
TLU SA los grondgesprek
Proses ‘gebrekkig, onaanvaarbaar’; ‘ANC probeer uitslag manipuleer’ (Sarel van der Walt Sondag 05 Mei 2013 )
Polokwane (Pietersburg). – Die landbou-organisasie TLU SA sê hy is nie meer deel van die gespreksgroepe oor grondhervorming nie en hy sal ook nie die swartbemagtigingskode onderteken nie. Louis Meintjes, president van TLU SA, het op ’n grondkonferensie van die organisasie se noordstreek gesê in albei gevalle was die prosesse gebrekkig en onaanvaarbaar. Meintjes het gesê daar is aanvanklik ooreengekom dat die uitkoms sou berus op konsensus onder die verskillende belangegroepe. Behoorlike notule sou van die vergaderings gehou word en die finale dokument sou op ’n vergadering voorgelê word waarop al die rolspelers dit sou bespreek en goedkeur.
“Wat in werklikheid gebeur het, is dat kennisgewings van vergaderings kort voor die tyd uitgestuur is, daar geen sakelys of notules van vorige vergaderings was nie en regeringsamptenare probeer het om die proses en die uitslag te manipuleer. “Die amptenare was nie tevrede met die besluite nie omdat dit volgens hulle nie ooreengekom het met ANC-beleid nie,” het Meintjes gesê.
Hy het ook gekla dat Gugile Nkwinti, minister van grondsake en landelike ontwikkeling, buitelandse akademici gevra het om aan die voorgestelde dokument te werk. Dié het nie die besluite aangebied waarin daar in die werkgroepe ooreengekom is nie, maar die hele voorstel uit hul oogpunt herskryf.
“Dit is onaanvaarbaar,” het Meintjes gesê. “Ons het verskeie briewe gestuur om ons ontevredenheid te kenne te gee. Die hele proses was vol foute en onaanvaarbaar en daarom het ons ons onttrek.” Dieselfde kan van die swartbemagtigingsproses gesê word, het Meintjes gesê. “Alles in ag genome, kom ’n mens tot die gevolgtrekking dat die ANC steeds ’n struggle-organisasie is. “Hulle het ‘apartheid en anti-wit-sentiment’ nodig om voort te bestaan. Daar is geen ekonomiese sin in hul besluite nie. Hulle neem net politieke besluite,” het Meintjes gesê. (AVP beklemtoning)
