
Dag Almal!
Aansluitend by die gesprek enkele maande gelede oor kinders-ja-of-nee, is die onderstaande berig ‚n duidelike voorbeeld dat die mens se vindingrykheid nog nie naastenby sy einde bereik het nie. Tagtig jaar gelede het die trekker die os verdring, toe kon die skrale reënval deur vinniger bewerking beter benut word. Terwyl voer kraalmis duurder as die boer se eie kraalmis geword het, is kunsmis ontwikkel. Toe hoëgraadse steenkool/antrasiet begin opraak het, is SASOL ontwikkel wat nikswerd laegraadse steenkool in hoogs bruikbare brandstof omsit met allerlei oliesmere daarby.
Toe die stede grootword is allerlei maniere ontwikkel om rioolwater te benut en het Johannesburg op sy rioolplaas Noord van die stad een van die grootste beesboerderye in die Suidelike Halfrond geword, terwyl Windhoek die water selfs vir hergebruik gesuiwer het. Ensovoorts ensovoorts ensovoorts.
So het die mens, gelowig en ongelowig, sy opdrag uitgevoer om die aarde te onderwerp en oor die lewende skepsels te heers (Genesis 1:28), en die aarde ordelik te bewerk (Genesis 2). Na die sondeval moes hy leer om die tasbare en ontasbare dorings en distels te oorkom as hy aan die lewe wil bly. Sy volmaakte kennis het hy verloor, maar sy verstand is nie van hom weggeneem nie. Hy kon dus allerhande planne uitdink hoe om sy voortbestaan moontlik te maak. Hy het begin boer – landbou en veeteelt (Kaïn en Abel). Hy het die hulpbronne in die aarde begin benut (Jabal, Jubal en Tubal-Kaïn). Hy het ingenieurswese van die hoogste graad ontwikkel (Noag). Ongelukkig ook sy sondigheid tot die hoogste graad laat opwel. Na die sondvloed het hy weer geboer (Noag, Job, Abraham, Isak, Jakob, Egipte.....) en geweldige ingenieurswerke onderneem (die piramiedes, stede en bouwerke in Arabië, Klein-Asië, Asië, Europa....). Veral vanuit Europa het sy kennis, kundigheid en vaardigheid – sy tegnologie - tot aan die eindes van die aarde versprei. Daardie tegnologie het mense soos Malthus teen die einde van die agtiende eeu tydens die nywerheidsomwenteling in Brittanje seker aanvanklik moedeloos gemaak en laat dink dat meganisering en outomatiserng mense sal laat hongerly. Die werklikheid wat sedertdien sigbaar geword het, bewys die teendeel.
Nou het die mens selfs die alomteenwoordige lastige en vieslike vlieg as middel tot voedselvoorsiening ontdek. Na die onlangse lawaai oor verkeerde etikette op vleis – het iemand iets daarvan oorgekom? – moet ons nou uitvind dat ons dalk hoende, vark en vis eet wat met vliegwurmpies vetgevoer is. Voor ons sê „Sies!“ moet ons mooi dink wát hoenders, varke en vis in die werklikheid vreet. Neem nou maar die hoenders en eiers wat juis as vrylopend geadverteer en as sulks duurder as die hokhoenders en –eiers verkoop word – sogenaamde plaashoenders en plaaseiers. Hulle is inderdaad lekkerder as die hokgoeters, veral vir ons wat ouer is en daarmee grootgeword het. En wat vreet hulle? Wurms en torre en kewers en miere – en vlieë en vlieglarwes. Varke floreer op restourante se afvalskille en –kos. En visse vreet enigiets wat hulle op en in die water kan kry – veral insekte. Dit is nou maar eenmaal deel van die voedselkringloop. Net soos die see nooit vol word en die water telkens terugkeer na waar dit vandaan kom, so beland alles – ja, álles! – wat ons eet, uiteindelik weer op ons bord nadat dit in die een of ander vorm van bemesting en voeding vir plant en diersodat die mens kan eet (Genensis 3).
Die aanwending van vliegwurms om kosbare voedsel op te lewer is nie minderwaardig teenoor die benutting van laegraadse nuttelose steenkool om kosbare brandstof te maak nie. Grond, water. Stikstof, suurstof, plante, diere, voëls, visse – niks is daar wat self iets werd is nie. Genesis 2:4vv leer ons dat niks op die aarde gebeur nie, selfs nie vóór die sondeval gebeur het nie, as die mens wat na die Beeld van God geskape is, nie iets daarmee doen nie – ongeag dit is om te plant of om name volgens eie aard aan diere te gee. Eers wanneer die mens met die lewelose en siellose geskape dinge iets doen, word dit nuttig, word dit iets werd, kry dit waarde – word waarde daaraan toegevoeg. En om hierdie God-gegewe taak ten beste uit te voer – dáárop moet die mens se navorsing gerig wees. Dan lewe die mens in die hoop op die wederkoms van Christus soos die profete voor die eerste koms nagevors het wanneer Sy eerste koms sou plaasvind (1 Petrus 1). Daarop dui die uitspraak van die Here Jesus Sélf dat ons moet let op die vyeboom (Markus 13:28, Lukas 21:29). Elke ontdekking, elke nuwe ontwikkeling wat nuttig is, laaat die sap in die vyeboomtakke vermeerder.
J Moet darem nou nie sleg voel as u ‘n vlieg doodslaan nie. Sy oorblyfsel verweer ook maar en beland in die grond en word so deel van die nimmereindigende voedselketting.
Groetnis.
Pieter Senior
Lidmaat Gereformeerde Kerk Pretoria (Dolerend)
Grillerige plan wen groot prys
Woensdag 08 Mei 2013
’n Kaapse groep wat die larwes van vlieë gebruik om goedkoop dierevoer te skep, is gisteraand as die beste innoveerders in Afrika aangewys.
AgriProtein, van Kaapstad, het prysgeld van $100 000 ontvang as deel van die Innovations Prize for Africa-toekennings.
Die vlieglarwe-voer is geskik vir hoenders, varke en vis. Tans gebruik boere grootliks soja en vismeel om voer aan te vul. Maar water en grond raak skaars vir die aanplant van soja en die visbevolking neem af, wat alternatiewe bronne van voerproteïen noodsaak, glo die groep.
Vlieglarwes se voedingswaarde is net soos goed soos dié van vismeel en beter as dié van soja, meen AgriProtein. Daarby kan één vlieg 750 eiers ‘n week lê, wat binne dae vervyfdubbel in gewig en tot larwes groei.
Die groep het masjinerie en ‘n produksiebaan ontwikkel wat tot 10 ton larwe-proteïen per dag kan lewer.
AgriProtein het reeds ‘n vliegplaas en larwe-fasiliteit naby Kaapstad gebou, en lewer reeds twee ton larweproteïen ‘n dag. Die groep ontwikkeling ook tans ‘n nywerheidsaanleg wat groter hoeveelhede kan vervaardig vir die landboubedryf en ‘n aanleg word ook in Duitsland beplan.
Vier ander Suid-Afrikaanse innnoveerders was onder die tien finaliste vir die prys. Dié tien finaliste het praktiese oplossings geskep vir van die vasteland se mees weerbarstige probleme.
Projekte is beoordeel op grond van bemarkbaarheid, oorspronklikheid, skaalmoontlikhede, maatskaplike uitwerking en ooglopende sakemoontlikhede.
Onder die finaliste is projekte in landbou, die omgewing, gewondheid, IKT en vervaardiging. Die ander Suid-Afrikaanse projekte was:
* SavvyLoo: ’n waterlose toilet wat dr. Dudley Jackson vir plattelandse gebiede en tydelike nedersettings ontwikkel het. Die toilet skei vaste en vloeistowwe en is reukvry.
* TBag-waterfilter: Prof. Eugene Cloete het ’n waterfilter geskep wat teesakkie-materiaal inspan en waardeur selfs die mees besoedelde water gesuiwer word sodat dit veilig is vir drink. Klik hier vir 'n video oor die TBag-filter.
* Malaria pf/PAN (pLDH)-toetsstel: Ashley Uys het ’n malaria-toetsstel ontwikkel wat binne ’n halfuur aandui of behandeling werk.
* Mobenzi: Andi Friedman het sagteware ontwikkel wat mobiele dataversameling moontlik maak en navorsing vergemaklik.
