Moenie dat omstandighede u ewigheidsbestemming bepaal nie!
Afrikaner volksgenoot, ons vier Paasfees. Vir baie net ʼn langnaweek van kuier en ontspan sonder ʼn enkele gedagte aan die oorsprong en betekenis van hierdie onvergelykbare gebeurtenis in die bestaan van die Skepping.
In die lewensduur van die mens is daar 70, en as dit goedgaan, 80 jaar. Selfs al sou dit 120jaar wees, hoe vergelyk dit met ons ewigheidsbestemming waar daar ʼn begin is maar geen einde in ewigheid nie? Of ons na ons kortstondige aardse lewe hel toe gaan of in die Hemelse Heerlikheid na een van die baie wonings wat vir ons by ons Vader voorberei is, bly ons siel onsterflik voortleef en is dit nou die tyd om ons voor te berei, wat sal bepaal waar ons uiteindelik ʼn plek in die ewigheid sal inneem.
Die sorge van die lewe het die vermoë om ons te laat worstel met werkloosheid, met ʼn troebel huwelik, met finansies en wanneer dit met ons “goed” gaan, plesier, luuksheid, status, aansien, erkenning, hoogmoedigheid, ens. By sterfte raak elkeen van hierdie, vir ons allerbelangrikste en op die oog af, noodsaaklike sake, in die vergetelheid en hoogstens vir n jaar of twee drie daarna, onderwerpe van-en- vir bespreking vir die wat agterbly. Terwyl ons lewe, is dit egter vir ons só belangrik dat dit die voorbereiding wat ons behoort te doen vir dit wat ʼn ewigheid gaan duur, totaal verdring sodat ons heeltemal onvoorbereid by die poort van ons ewigheidsbestemming aankom.
Ons Vader wat in die hemel is weet wat ons nodig het en daarom sê Hy: Soek eers die Koninkryk van God en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Het u al in hierdie Paastyd die Vader gedank, geloof en geprys vir die onbeskryflike genade, barmhartigheid en liefde wat Hy aan ons betoon het deur Sy Seun, ons Middelaar en Verlosser aan die kruis vir ons te offer sodat die poort na ons ewigheidsbestemming vir elkeen van ons wat glo en ons laat doop het, oop staan? Het u al lof en dank aan Jesus gebring wat die dood oorwin het sodat ons ewig kan lewe?
Die herdenking van daardie gebeurtenis is veel belangriker as enige iets anders waarmee ons ons in hierdie tyd besig hou! Moenie dat omstandighede u ewigheidsbestemming bepaal nie! Gaan soek in die Bybel na die weg en die waarheid en die lewe en plaas Hom dan eerste! Ons volk het die pad byster geraak omdat ons God vêr agter op ons voorkeurlys geplaas het terwyl die items op die omstandigheidslys voorkeur geniet!
