Toestande van legitimiteit
Dit is dalk vrugbaar om aan twee verskillende toestande (daar mag meer wees!) van wettigheid of legitimiteit aandag te gee.
i. De jure-wettigheid: Die howe, álle howe, beskerm die land se grondwet en daarom die regering wat kragtens die grondwet verkies is. Nog geen party het gepoog om die wettigheid van die ANC-regime in die hof te betwis nie en ook nie die feit dat die F.W. de Klerk-bewind die Afrikaner klaarblyklik op ‘n bedrieglike wyse na onderhorigheid aan ‘n ANC-bewind gelei het nie.
ii. De facto-wettigheid: Die NP-bewind het in die jare kort voor sy oorgawe baie gemaak van die argument dat die ANC eintlik die de facto-bewindhebber in die lokasies is. ‘n NP-Volksraadlid het vir my gesę in ‘n stadium het die NP die lokasies in die dag regeer en die ANC snags.
Daar is dus ‘n verskil tussen die feitelike situasie en die wettige situasie en daar is gewis geen statiese toestand wat die twee sake betref nie, selfs wat ‘n bewind betref in hoogs stabiele lande soos Switserland en Japan.
Voeg by hierdie twee sake die feit van beskawings- en kultuurverskille en dat Wit en Swart, Westerling en Afrikaan, Christen en nie-christen almal uniek na ‘n geregtelike situasie en ‘n regstelsel kyk en die saak van legitimiteit kry verdere ingewikkelde skakerings.
Die ANC se benadering tot die kwessie van legitimiteit en illegitimiteit t.o.v Afrikanerregerings
Die ANC het in die binneland én die buiteland tot op die punt van die onomkeerbare oordrag van mag volgehou en opgetree asof die NP-regering onwettig die bewind voer. In die gesprek van prof. J.P. de Lange van die Broederbond destyds agter die skerms in die buiteland, is die feit dat die ANC in ‘n gewapende stryd met die NP-bewind verkeer, in geen onduidelike woorde deur Mbeki aan De Lange gestel.
Hierdie toestand van openlike gewapende stryd het voortgeduur tot en met die 1994-verkiesing. Selfs toe die sogenaamde Uitvoerende Oorgangsraad ingestel is, was die ANC steeds in ‘n openlike gewapende stryd met die ou orde gewikkel. In dié verband kan dokumente in verband met Operation Sunrise bestudeer word en standpunte van ANC-leiers soos Chris Hani onthou word.
Onwettigheid
Daar is klaarblyklik ‘n verskil in om ‘n bewind onwettig te beskou en onwettig te verklaar.
Om ‘n bewind as onwettig te beskou was die benadering van die HNP (soos dit voorgekom het in sy standpunt oor meta-politiek), soos ook die AVP en ander kleiner organisasies. Om egter nou betrokke en deel te wees van organisasies wat met die regering onderhandel oor hoe groot en waar jy n stukkie van jou eie land kan terugkry vir 'n volkstaatjie soos wat die HNP saam met "Volksraad" onderneem het, laat n vraagteken oor jou bona-fides. Jy kan nie tegelyk sê dat n regering onwettig is en dan met hom wil onderhandel nie.
Om by die punt van onwettig verklaar uit te kom, dui op ‘n formalisering (deur die verklaarder) van hierdie onwettige posisie in teenstelling met jou wettige posisie.
Dit lyk nie goed genoeg dat net ‘n enkele leier van ‘n beweging of party sê hy beskou of verklaar ‘n ander beweging of party of regering as onwettig nie. Jy het een of ander by-wet-ingestelde regsprekende of volksinstansie (volksgesag; Calvyn se mindere magistrate?), nodig om gewig aan jou verklaring te verleen. Nog ‘n moontlikheid (reeds vlugtig aangeraak) is dat ‘n persoon of volk hom tot die land of internasionale howe wend om die wettigheid van ‘n regering te betwis. Jy plaas jou saak dan in die hand van hierdie hof of howe om beslag te gee aan die beweerde onwettigheid (wat in die geval van die Afrikanervolk ‘n baie gewaagde onderneming blyk te wees).
Die ander moontlikheid bly dan (noodwendig) oor in die geval van onwettig verklaar: Dat ‘n
(Afrikaner-)volksgesag dit doen.
Onwettig beskou
Om te sę dat jy ‘n bewind (in die Afrikanervolk se geval dan die ANC) as onwettig beskou, is nie noodwendig onproduktief nie.
In die ANC se stryd om die bewind was daar nie ‘n formele onwettig-verklaring van die Afrikaner-bewind nie, sy optrede het meer gedraai om ‘n geleidelike beslaggewing aan ‘n onwettig-beskouing, onder meer deur VN-resolusies wat aangeneem is en sanksies wat aan die hand daarvan ingestel is. En tog sal geen behoudende Afrikaner dit vandag wil betwis dat hierdie blote onwettig-beskouing nie produktief was nie: die ANC regeer immers vandag die land en is stelselmatig besig om die Afrikaner en sy lewens- en węreldbeskouing as geldende gesag in die land uit te wis.
Dit is duidelik dat ‘n onwettig-beskouing in ‘n oorhoofse strategie sy neerslag sal moet vind.
* Die onwettig-beskouing moet ‘n stadium en status van formalisering bereik (datum, plegtigheid, onderneming, persoonlikhede, gesag en uitvoering);
* Daar moet nie optrede van die beskermers en onderskrywers van die onwettig-beskouing wees wat die ANC-bewind krediteer nie (soos die lofsange uit Afrikaner-sakegeledere kom op Trevor Manuel se begrotingsredes);
* Daar moet ‘n binnelandse én buitelandse (VN en sy internasionale agentskappe ingesluit) strategie wees. Kontak moet op ‘n deurlopende basis met die georganiseerde behoudende Protestants-Westerse samelewings gemaak word sonder dat jy jou land blootstel aan inmenging van buite in jou binnelandse aangeleenthede.
* Die onwettigheid en die onwettige optrede van die ANC en sy agentskappe moet op ‘n deurlopende en georganiseerde basis aan die plaaslike en internasionale nuusmedia bekend gemaak word. Enkele nuuskonferensies (soos bv. dié van Aksie Stop Plaasaanvalle) is nie genoeg nie.
Onwettig-verklaar
Die enigste werkbare onwettig-verklaar-opsie is wanneer ‘n volksvergadering dit doen en dit dan aan die volksgesag oordra om gevolg daaraan te gee.
Die werkmetode en strategie stem grootliks ooreen met die onwettig-beskou-opsie. Die vernaamste verskil wat dalk getrek kan word is dat met ‘n onwettig-beskou-opsie dit aan die volksgesag en sy assosiate ‘n rasionaal verskaf waarom hulle nog wetlik (en hopelik om selfbeskikking-produktiewe redes!) binne die ANC-bestel optree.
Waarom is dit noodsaaklik dat daar na die illegitimering van die ANC beweeg word?
Daar is behalwe die drie redes wat reeds genoem is dat die behoudende Afrikaner die ANC as onwettig beskou, nl. i. Sy verbintenis tot geweld, ii. Sy godloos-kommunistiese (en daarmee sy Christelik-Protestants-gevaarlike) etos, iii. Dat hy inderdaad in alliansie met die internasionale kommunisme d.m.v. die SA Kommuniste Party optree, die vernaamste en hoofsaaklikste feit dat daar géén wettige gronde bestaan vir enige swart ras se aanspraak op Suid Afrika nie en dat die Afrikanervolk volgens elke regsbeginsel die wettige regeerders van Suid Afrika is en deur die hele wereld so erken en aanvaar was! Tweedens omdat die eienaarskap van die Afrikanervolk hom deur verraad ontneem is.
Wat die tweede en derde punt betref is daar wel sprake van spanning tussen Afro- en die Euro-kommuniste in die ANC, maar die de facto-posisie is dat die alliansie nog staan.
Wat sy verbintenis tot geweld betref, is die feitelike posisie dat die ANC tot dag en datum nog nie geweld afgesweer het nie, en staatsgeorkestreerde misdaad (van plaasterrorisme op die platteland tot mega-rooftogte) teen die Afrikaner en die Blanke (wat tot die laaste verkiesings nog téén die ANC gestem het).
Wes-Kaapland
Die NP/ANC-alliansie het Wes-Kaapland wel aanvanklik in ANC-hande gebring, maar dié posisie was so voorwaardelik soos die NP en DP se samewerking in die vorige verkiesing. Dit is ‘n ope vraag of die Kleurlinge genoegsaam en en masse ‘n alliansie waarby die ANC betrokke is, in ‘n volgende verkiesing sal steun. Daarby het die Afrikaner-stem sedert 1994 baie mobiel geraak sodat die NP/ANC-allainsie nie sonder meer op Afrikaner- en Blanke steun in Wes-Kaapland kon hoop nie. Voeg daarby die ongedurigheid onder die Skiereilandse Moslemgemeenskap met Pagad aan die spits. Dus, die geweldsopsie as vroedvrou vir ‘n sosialistiese botoon in die staatsbestel, gaan maar weer na die volgende nasionale verkiesing vir die ANC op die voorgrond tree.
Die einde van die Stryd van die Ideologieë ‘n set
Die aankondiging oor die einde van die Stryd van Ideologieë was klaarblyklik ‘n set van die Koöperatiewe Sosialiste van New York en Londen. Daar het nie, soos hulle voorgegee het, ‘n gelyke speelveld vir ideologieë na die val van die Berlynse Muur gekom nie, wel ‘n oop speelveld vir die Korporatiewe Sosialiste wat hul hande wou lê op die mineraalrykdomme, energiebronne en grondstowwe van Afrika en die ou Sowjet-Unie. Hulle het ook nuwe markte vir hul oorproduksie aan verbruikersgoedere gesoek en daarvoor het hulle hul visier gestel op veral die miljarde Oosterlinge - China ingesluit - agter die Yster- en Bamboesgordyn.
Dieselfde bose ideologieë en godsdienste van voor 1990 is daar nog net so springlewendig en gesond, met dieselfde getalle aanhangers; die enigste verskil is dat die almagtige Dollar en Amerikaanse verbruikersgoedere hul verskyning daar gemaak het. Nog net soveel Christene is in Rooi Chinese tronke of word gemartel weens hul geloof. Dit is net in die Weste waar die goedgelowige Europeër hom aan die hand van impulse en leiding wat van gekorrupteerde kerkleiers kom, begin skik het vir ‘n
Christendom sonder Christus, ons Opgestane Heiland en die Seun van God, en die Bybel as die onfeilbare Woord van God.
Omdat die aankondiging van die Einde van die Stryd van die Ideologieë ‘n set was, is dit logies dat ‘n bedeling wat op daardie veronderstelling geskoei is, op losse skroewe staan. Daarom moet die Afrikanervolk hom so gou moontlik en baie effektief los maak van ‘n bedeling wat daarop gebou is. Hy moet hom los maak van die beskermer van daardie bedeling, die ANC. En daar is geen effektiewer manier om dit te doen as om na die legitimering van ‘n volksgesag vir die Afrikaner te beweeg en terselfdertyd effektief en vasberade die ANC weer te illegitimeer nie.
*”Regspleging het baie gesigte en dit wissel tusen die koudste abstrakste opvatting van oortreding en vergelding, tot die warmste menslikheid. Dit wil my egter voorkom of die grootste menslikheid teenoor die oortreder voorkom waar jy met jou eie mense te doen het, en dat veelrassigheid geneig is om die menslikheid te laat afneem, terwyl slegs die kille vergeldingsbeginsel gehandhaaf word.” - Abel Coetzee in So langs die pad, (1962) p. 146.
** In my “oriëntasie” oor die probleem van die wettigheid al dan nie van die ANC-bewind staan twee mense se opmerkings vir my uit.
Die een was destyds met die oopstel van Blank-gereserveerde strande aan alle rasse. Die Strand in die Kaap was ‘n NP-beheerde munisipaliteit wat lank probeer vasskop het teen die skrap van dié maatreël, begin deur ‘n uitdagende baaiery deur Arbeidersparty-leier Allan Hendrickse by Koningstrand in Port Elizabeth. Die skrywer F.A.Venter was ‘n inwoner van Die Strand in daardie bewoë tyd en die Slegs Blankes-bordjies was vir hom een te veel. Hy het op ‘n vraag van ‘n Die Burger-verslaggewer uitgeroep: “Maar dit is Gód se strand!”
Die tweede was toe ek op ‘n dag die KP-hoofkantoor in Pretoria besoek in die hoop om dr. Ferdi Hartzenberg oor my kwellinge oor die KP se gemeedoenery aan die grondwetlike bedeling saam met die ANC te praat. Ek het geredeneer - hoe anders? - dat hierdie meedoenery, aan die ANC-bewind oor die Afrikaner “wettigheid” verleen. Ek het die AEB-leier ds. Cassie Aucamp daar gevind, selftevrede en met ‘n rondborstige erkenning hy is nie eens ‘n ingeskrewe lid van die KP nie. Ds. Aucamp se standpunt was kort en klaar: Die ANC-bewind ís wettig, ons ry dan op ANC-paaie rond, ons kinders is in ANC-skole ens.
Met ander woorde: Maar dit is dan die ANC se paaie en skole!
Nou ja, tussen “God se strande” en “die ANC se paaie en skole” word die Afrikanervolk rondgeslinger. Pleks dat die dominee maar ook soos F.A. Venter, (binne die nuwe paradigma van die Nuwe Suid-Afrika?) verklaar het: Maar dit is Gód se paaie en skole, dit behoort aan g’n mens of politieke instansie nie!
Wat duidelik in hierdie kontradiksie uitstaan is dat hierdie invloedryke Afrikaners sélf ‘n uitleg van die wetlike stand van sake téén die Afrikaner gedoen het. Dat hulle standpunte ‘n kragtige emosionele basis gehad het, is seker, daarvoor het die ANC- en NP-beheerde media en verloopte predikante gesorg.
Maar hoe lyk die kennis-basis, wanneer die toets van gangbare regsreëls, vanselfsprekend binne die erkenning van F.A. Venter en elke verantwoordelike Christen-Afrikaner se standput dat “(D)die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan” (dus óók die see), aangelê word?
Wat van die Bybel-gefundeerde rentmeester-beginsel (betreffende die strand) in die Westerse reg vervat? Wat van die feit dat Die Strand se Blanke belastingbetalers groot somme belasting afgestaan het om die strand skoon te hou en geriewe daar te stel? Wat van Bybel-gefundeerde eiendomsregbeginsels wat volke en gemeenskappe ‘n saak soos ‘n strand- of kusstrook kan laat toekom? Wat van die feit dat eienaarskap van grond en selfs die see (‘n land se gebiedswater), dalk ook met die behoudende Blanke inwoners van Die Strand se beskouing waarom hulle die reg vir hulle wou uithou om by Die Strand te baai en te swem, te doen gehad het?
