Satan in Laeveld
2012-11-11 00:38
Charlene de Lange in Nelspruit
Die sonde vier hoogty op Nelspruit.
Nie net kry dié dorp in die Laeveld die komende week sy eerste ontkleeklub nie, daar word ook jare lank al gefluister dat dié dorp sy eie swingers-klub het. En laasgenoemde lok klaarblyklik selfs vooraanstaande inwoners van die dorp. Die ontkleeklub Blue Tango maak die komende week sy deure wyd oop. Benewens die kaalbasdanseresse, word klante ook gelok met ’n BBP-area, ’n sjampanje-en-sigaar-ontspanningsarea en ’n restaurant. Daar is selfs private hokkies waar klante skootdanse kan geniet. Sommige inwoners meen Blue Tango sal ’n nes van onheil wees.
“Die ontkleeklub is ’n immorele hool wat vir seker onmin in huwelike gaan veroorsaak,” meen Tersia Marshall, ’n prokureur van Nelspruit.
Maar Blue Tango is net die oortjies van die seekoei.
Nelspruit het boonop ’n klub vir swingers wat glo net die rykstes in die dorp uitnooi na hul geheime byeenkomste. En hoewel dit ’n groot geheim is wie na dié partytjies genooi word, het Rapport die gastelys vir dié groep se volgende byeenkoms onder oë gehad. Een Nelspruiter wat genader is om saam te gaan swing, vertel die byeenkomste is so geheimsinnig dat genooides eers die aand voor die geleentheid per SMS in kennis gestel word waar dit plaasvind. “Dit is aan my duidelik gemaak dat ek ’n metgesel moet saamvat.
“Die prosedure is dan as volg: Alle mans, getroud en ongetroud, plaas hul motorsleutels in ’n hoed en die vroue, getroud en ongetroud, trek ’n sleutel uit die hoed. “Die vrou moet dan die aand saam met die eienaar van die sleutel deurbring.” Op die lys verskyn die name van prominente sakemanne, prokureurs, boere en selfs dokters, om net ’n paar te noem.
Ds. Jean Strydom van die NG gemeente Nelspruit-Suid sê dit is “nie die wil van die Here dat Sy kinders by ontkleeklubs of swinger-partytjies uithang nie”. “Dit maak die deur oop vir die vyand, Satan, om sy vernietigende werk voort te sit. “Selfs vir enkellopende persone gaan hierdie plek ’n wanindruk gee van seksualiteit. “Dit sal dramatiese gevolge vir hul lewens vorentoe hê. Dit gaan getroude mans van die regte pad aflei en duistere standaarde vir die huwelik skep.” Strydom het diegene wat hulp verlang, uitgenooi om die kerkkantoor te skakel. Maar dis ’n ope vraag of die predikant se waarskuwings almal van die sleutelpartytjies gaan afskrik
Hierdie berig in die Rapportkoerant dui op die pad wat Rapport self help oop skraap het. Die lekker breë pad hel toe! ‘n Pad sonder wet en orde, sonder morele en sedelike waardes en n pad waar daar geen waarde geheg word aan Christelike riglyne soos in die Woord van God aan ons voorgehou nie. n Pad waar predikante wat self homoseksuele gedrag in die kerk gedoog en selfs sulke predikante het, hulp aanbied oor seksuele gedrag! Suid Afrika is voorwaar tot die dood toe siek, met Satan as die aanvaarde geneesheer!
