AS JY POLITIES SIEK IS, IS JY SIEK TOT DIE DOOD TOE!
Mnr. Jaap Marais het telkens die opmerking gemaak dat sommige politici sal eers moet uitsterf. Hulle nageslag mag dalk regkom, want aan hulle self is daar nie salf te smeer nie. Dié stelling van hom het dadelik by my opgekom toe Pik Botha in Beeld van Vrydag 26 Oktober weer sy mond vol gehad het met “Reik uit na mekaar”
‘n Mens sou die stommiteite wat hy kwytraak aan sy 80 jaar kon toeskryf as dit nie was dat dit opsigtelik duidelik is hoe hy steeds die detail van hulle geknoei agter die skerms onthou en elke nou en dan nog ‘n “stuiwer in die armbeurs” kom gooi nie.
Hy hoop die boek sal uiteindelik help bydra dat Suid-Afrikaners meer na mekaar begin uitreik.
So het oudminister Pik Botha gister in Pretoria gesê by die bekendstelling van die historikus prof. Herman Giliomee se boek Die laaste Afrikaner-leiers: ’n Opperste toets van mag.
Botha (80) het gesê Suid-Afrika staan voor ’n nuwe krisis en om dít op te los “sal ons in die land na mekaar moet begin uitreik”.
Die boek vertel wat die afgelope 50 jaar in die land gebeur het en “dit leer ons ’n les om die toekoms tegemoet te gaan noudat ons weer by ’n kruispad is”.
Botha het vertel toe die ANC en die NP in Mei 1990 vir die eerste keer vergader het, het oudpres. Nelson Mandela ’n geskiedenisopsomming gegee en gesê een ding wat hom kwel, “is hoekom het die Afrikaners, nadat hulle (ná die Anglo-Boereoorlog) uit onderdrukking beweeg het, nie uitgereik het na ewe onderdrukte en arm swart mense nie”.(Ons beklemtoning)
“Kom ons reik uit na mekaar soos tóé gevra is,” het hy gesê. So berig – Sarel van der Walt in die bo-vermelde Beeldkoerant.
As daar een ding is waarin die boek uitmuntend slaag, is dat dit bewys dat die insig van behoudende politieke leiers van meet af aan reg was. Dat hulle kritiek teen die afwyking van beproefde beleid in die kol en geregverdig was. Dat veral die etiket van verraad om die nekke van mense soos Pik Botha en sy genote, met elke uitgawe van boeke soos dié van Giliomee, en erkennings en bravade soos die van Willie Esterhuizen se betrokkenheid in die gekonkel om ons land aan ‘n Kommunistiese terroristebende te oorhandig, in belang van Amerika en Britanje, veragtelik, uiters bedenklik en in enige terme verwerplik was.
Dat Pik Botha bewus is van die ellende waarin hulle Suid Afrika gedompel het, is duidelik uit sy verwysing na die kruispad en krisis waarvoor ons nou te staan gekom het. Sy oplossing, ontleen aan Mandela se wanstaltige vertolking van wat die Afrikaners vir die swart rasse na die Anglo Boere Oorlog beteken het, is pateties. As hy dink dat uitreiking die oplossing is, verstaan hy op tagtigjarige ouderdom nog niks van Afrika-politiek nie, behalwe as dit was dat hy uitreik van Afrikaners na Afrikaners bedoel het en te skaam is om dit openlik te sê! Ek sal egter verbaas wees as dit sy bedoeling is!
