Media

By die HERE skuil ek. Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos ’n voël!

altNa aanleiding van dr. Gregory Stanton van Genocide watch se raad aan Afrikaners om te vlug, vra die AVP namens elke gelowige Afrikaner soos wat Dawid gevra het: “ By die HERE skuil ek. Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos ’n voël!”

Die voorwaarde is egter in vers 5:, Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Ons behoort bekommerd te wees indien ons godsdiens net lippetaal is. In daardie geval sou vlug soos in die geval van Jona, geen oplossing bied nie omdat God ons selfs in die doderyk kan bykom!

VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid. By die HERE skuil ek. Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos ’n voël!

2 Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart.

3 As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? 4 Die HERE is in sy heilige paleis; die troon van die HERE is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. 5 Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. 6 Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ’n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees. 7 Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.

Die AVP se raad is dus, staan vas, verootmoedig en bekeer en vertrou op God soos wat Paul Kruger ons voorvaders gelei het om te vertrou, want dan sal vers 7 van Psalm 11 ook op ons van toepassing wees! Berei uself voor, wees paraat en moet nie toelaat dat omstandighede u ons geskiedenis laat vergeet wat wemel van geloofsdade, oorwinnings en seën op ons beproewings nie!

In President Paul Kruger se optrede tydens Shepstone se anneksasie van Transvaal was veral Lukas 11:33-36 sy riglyn. "33 EN niemand steek ’n lamp op en sit dit in ’n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien. 34 Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. 35 Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. 36 As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig." Ons is die ligdraers na hierdie woesteny, het Paul Kruger in 'n toespraak gesê toe die Matabeles hulle aangeval het. Die Barbare storm op ons aan en probeer hulle uiterste om ons te verdelg omdat die lig hulle barbarisme teëwerk en aan bande le. Hulle primitiewe instink dwing hulle natuurlik na bloed. In hierdie geval Trekkerbloed. Mag God Almagtig verhinder dat die lig uitgedoof word, het hy gesê.

Paul Kruger het die trekkers in die walaer toegespreek :"Trekkers, vaders, moeders, kinders- God het ons deur diep waters gelei, maar dit was Sy wil, Sy weg, en ons het geantwoord. Ons hoef nie te vra nie, want God weet waarom. Wie weet, moontlik sal dit ééndag miskien vir ons nasate duidelik word waarom.  Wie weet, moontlik sal hulle dan 'n terugblik werp op hulle geskiedenis, en die hoeksteen wat ons in hierdie wildernis gelê het, nuttig vind om hul toekoms op te bou. Ons het ook 'n hoeksteen, gevestig om nooit te wankel nie: hierdie Heilige Woord van God.  Hieruit verneem ons die wil van God, en hierdeur spreek Hy tot ons. As ons na Sy stem luister, sal ons behoue bly. Ja, duisende en tienduisende vyande kan met gevelde assegaai op ons afstorm soos gister en eergister, dog God sal ons wapens seën en aan ons die oorwinning besorg." Mag dit ook elke lid van die AVP, ELKEEN WAT HIER LEES EN ELKE GELOWIGE AFRIKANER BESIEL MET HOOP VIR DIE TOEKOMS