Media

DIE MEDIA. VRIEND OF VYAND VAN DIE AFRIKANER

DIE MEDIA:VRIEND OF VYAND VAN DIE AFRIKANER?Dit was die Romeinse politikus en filosoof Marcus Tillius Cicero wat al eeue gelede gewaarsku het dat die verraaier nie die vyand is wat sy banier by die poort opsteek nie, maar die man wat soos jy lyk, dieselfde klere dra dieselfde taal praat. Dit is hy wat met sagte fluisteringe in die gange van die parlement, die pilare van die parlement ondergrawe.  Gordel vas vir die onderbeklemtoning van die millennium! Dié onderbeklemtoning is egter terselfdertyd 'n bekentenis. Hierdie onderbeklemtoning/bekentenis lui só: Daar is talle “jeukplekke” in die nuwe Suid-Afrika. Ja, daar staan dit geskryf in die hoofartikel van eergister se Volksblad, 'n koerant wat in Lalaland vir Lalalanders geskryf word. Lalaland? Dis 'n misterieuse plek, vermoedelik kleiner as die Vatikaan, 'n soort koerantstaat, of sal “toestand” die ding beter saamvat, waar alles soos die eerste Toyota-advertensie in Suid-Afrika “altyd reg” gaan. Behalwe vir so 'n jeukplekkie of twee. Bygesê, skryf Volksblad, “die volkslied” is níe so 'n jeukplek nie.

Om dié salige mening uit Lalaland woord vir woord, punt vir punt, aan te haal: “Die punt is dat, ofskoon daar talle jeukplekke in die nuwe Suid-Afrika is, die volkslied nie een van hulle is nie. Dis nie verniet dat die spreekwoord sê moenie krap waar dit nie jeuk nie. Vanjaar is die gees van die Suid-Afrikaanse erfenis reeds geskend toe Paul Matashile, die minister van kuns en kultuur, met die aanvang van erfenismaand aangekondig het dat die tema vir die maand die verering van 'die helde en heldinne van die bevrydingstryd' is.”

Lalaland, volgens 'n bron op 'n sekere webwerf in die heel laaste en vernaamste instansie die domein en graafskap van een van die heel grootstes van Groot Kapitaal, J.P. Morgan, ja, daardie J.P. Morgan agter die skepping van die Amerikaanse Federal Reserve, daardie pulpfabriek wat Amerika ten duurste van dollars voorsien. Lalaland wat uiteraard ook bestaan uit Die Burger, Rapport en Beeld en in die jongste verlede ook Radio Pretoria as deel van hul portefeulje ontvang het.

Nou ja, gister het Zef-êfrikins sogenaamde erfenisdag gevier en lees u vanoggend Soliforum se nuuskommentaar soos versorg deur Herman Toerien (Op Maroelamedia), dan was die langnaweek soos 'n familiekuier van ouds waar almal van heinde en ver in Lalaland saamgetrek, en, soos dit maar met so 'n familiekuier gaan, saam in 'n kermisbed beland het, jy ruik net ou tone en stink sokkies en sorghum- en Castlebierasems. So erg dat dit Toerien noop om sy beskouing in die volgende woorde af te sluit:

“Baie mense sal dus vandag hul vakansiesdag vier deur te fokus op Nasionale Braaidag. Maar die Afrikaner-erfenis bied oneindig meer as om ‘n paar kastele se nekke te knak.”

Maar wag, dat daar weer by die begin gekom word, die inleidende opmerking dat om van 'n falende, stakende, Afrikanervolksmoordlustige en korrupte staat as 'n gejeuk te skryf.

Daar is al geskinder dat die skryf van die Naspespulpkartel se hoofartikels die uitsluitlike voorreg is van Jakes Gerwel, Tim du Plessis en Peet Kruger. Maar met die aanwending van sulke buitensporige eufemismes wonder 'n mens of daardie salige skrywers nie elke dag van Capri of St. Moritz of een van daai hemelse plekke ingevlieg word vir die taak nie. En, gedagtig daaraan dat ná die ervarings van ons mense in hierdie volksmoordparadys van 'n land, dié bepaalde hoofartikelskrywer in Volksblad na 'n “gejeuk” verwys of hulle nie dalk hondehokke ontvlooi in hul regte werk nie.

Maar voor daar voortgegaan word met hierdie beskouing, eers 'n woord van waardering aan Toerien. Wat Toerien dalk nie weet nie is dat hy met sy ondersoekende blik op die viering van hierdie misnoemer van 'n erfenisdag (verbeel u: in die jaar 2012 toe Jacob Zuma op 'n ANC-beleidkonferensie bekend maak die ANC gaan álles vat, daar is niks te erf vir die Afrikaner en die Witman nie), aan die nuuskierige met die katelkaskenades van al die nuwe zêf-êfrikin-saamslapers vertroud maak. Toerien noem enkeles van hierdie ondersteuners van die kamtige “volk” wat hierdie kamtige “volkslied”, daardie kakafoniese samevoeging van nkosi-sikellel en Die Stem sing. Die opvallendste is F.W. de Klerk.

Die verstand duisel eenvoudig as iemand dit nog in hierdie laat dag van die nuwe Suid-Afrika, waar honderde-duisend Afrikaners met net hul name en 'n paar karige besittinkies sit, en nog honderde-duisend die land moes uit op soek na 'n heenkome, juis weens De Klerk se boedeloorhandiging in 1994 aan 'n ANC-bende, De Klerk se naam kan noem in verband met 'n erfenis en 'n erfenisdag. Dis eenvoudig sotlik.

Toerien op Maroelamedia:

Die herkoms en bedoeling van Erfenisdag in Suid-Afrika word waarskynlik ten beste in die Nederlandse Wikipedia beskryf:

“Erfenisdag is een Zuid-Afrikaanse feestdag die wordt gevierd op 24 September. Tijdens de overgang naar een democratisch Zuid-Afrika heeft de regering van dat land besloten dat er een dag moest komen waarop Zuid-Afrikanen, van elke bevolkingsgroep dan ook, hun afkomst moesten gedenken. Dat betekende dat niemand moest vergeten wie hij was en waar hij vandaan kwam. Iedereen moest op die dag zijn eigen geschiedenis en cultuur in ere houden. Oud-president Nelson Mandela heeft zelf het woord regenboognatie verzonnen om de unieke verscheidenheid aan culturen in Zuid-Afrika te beschrijven. Erfenisdag moest een viering van die verscheidenheid worden. De eerste erfenisdag was op 24 september 1995. Erfenisdag gaat echter niet over elke culturele groep apart. Het is juist een feest die over die grenzen heen kijkt en de samenwerking viert.”

In die Suid-Afrikaanse vredesakkoord is daar nie sprake van ʼn verslane vyand nie, en het die bedeling deur ʼn breë vredesproses, wat die Kemptonparkse Akkoord insluit, tot stand gekom. Die ooreenkoms bevat ‘n wye reeks kompromieë, is der mate dat die FW de Klerkstigting in sy Erfenisdagboodskap skryf dat die erfenis van alle Suid-Afrikaners belangrik is.

Gedeelde vreugde in ‘n gedeelde erfenis is in die aanloop tot Erfenisdag erg geskud toe die polisievakbond, Popcru, by Cosatu se nasionale kongres voorgestel het dat die Engelse en Afrikaanse strofes uit die Volkslied gehaal word. Dit is nie aanvaar nie, maar die blote feit dat dit op die tafel geplaas is dui daarop dat daar by ‘n groep mense so ‘n minagting van die skikking is dat hulle bereid is om nie net die Grondwet te wysig nie, maar die gees waarin dit gegiet is.

Presies hoe sensitief die kwessie is, blyk daaruit dat die groot Afrikaanse koerante met die Burger vooraan, die kwessie in ‘n hoofartikel aangespreek het, gevolg deur Beeld en op die vooraand van Erfenisdag, ook Rapport. Vandag, op Erfenisdag, is dit ook die tema van Volksblad se hoofartikel. “Die idee wat verlede week op die Cosatu-kongres in Midrand geopper is – dat die Afrikaanse en Engelse dele van Die Stem uit die volkslied verwyder moet word – is een van die skadelikste voorstelle wat in ’n lang tyd die lig gesien het. Die inklusiewe en verdraagsame gees van die 1994-skikking was gegrond op die harde feit dat geeneen van die vegtende partye ’n klinkklare oorwinning oor die ander behaal het nie.“

Onsensitiewe plek- en straatnaamsveranderings skep al lank spanning, en ironies is vanuit die drywers van hierdie veranderings al dikwels aangevoer dat dit juis verander word om versoening te bewerkstellig.

Hierdie soort optredes plaas diegene buite die ANC-dampkring, soos die FW de Klerkstigting wat die huidige Suid-Afrika se belangrikste erfenis beskou as juis die grondwet “wat eeue se bitterheid en verdeeldheid oorkom het om ‘n nuwe, nie-rassige grondwetlike demokrasie te vestig,” binne die Afrikanergemeenskap wat meen dat sy volkeregtelike minderheidsregte vertrap word, in ‘n baie moeilike posisie.

Die Woolies-debakel ontlok in die kuberruim steeds intense debat, waarvan die kern goed deur Beeld se rubriekskrywer, Ferdie Greyling saamgevat word: “Die antwoord hierop is dat die menswaardigheid ontken word van ’n wit jeugdige wat van geleenthede uitgesluit word weens velkleur. Net so met middeljarige wit mense wat hul werk weens hul velkleur verbeur. Hul lewe is dan mos ‘minder werd’ as swart lewens.”

Die polarisasie wat in Suid-Afrika vaardig is het die regering genoop om vanjaar, in Kliptown, ‘n kongres oor sosiale kohesie te hou. By dié beraad het dr. Corné Mulder gevra vir ‘n ministerie van minderhede, wat minagtend – en heel waarskynlik on grondwetlik – deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma afgemaak is. Die afloop van die beraad is goed deur die Afrikanerbond saamgevat wat in ‘n verklaring gemeen het die regering het meer kwaad as goed met die beraad gedoen en het met dié beraad die wig tussen Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde en rasse dieper ingedryf.

Dr. Mulder self skryf in Beeld: ‘Die aanhef van ons Grondwet sê duidelik: “Ons, die mense van Suid-Afrika, glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.” Dit is ’n baie sterk stelling. Indien hierdie stelling ernstig deur die regering opgeneem is, sou ons reeds sosiale kohesie gehad het en sou ons baie verder op die pad van nasiebou gewees het. Suid-Afrika het een van die mees diverse gemeenskappe ter wêreld.’

Beeld en Die Burger in ‘n baie eendersluidende hoofartikel skryf vanoggend oor Erfenisdag: “Die magsoordrag van 1994 en die tydperk sedertdien het verskillende reaksies by mense uitgelok, reaksies wat relevant is vir ’n dag soos vandag, synde Erfenisdag. Sommige het ná 1994 oordrewe polities korrek geword: Erfenis, veral die Afrikanererfenis, is weens die apartheidsverlede besmet en verwerplik en moet in die buitenste duisternis uitgewerp word. Ander weer het juis in reaksie hierop oordrewe gaan vasklou aan alles uit die Afrikanerverlede. Die houding van sommige kom in die praktyk daarop neer dat hul liefde vir hul eie erfenis gemeet word aan hul haat en afkeer vir die erfenis van alle ander groepe.”

In die VSA val die fokus met erfenisdae op die kulturele erfenis van verskillende groepe, soos die Native American Heritage Day, die Dutch American Heritage Day en ander. Die naaste ekwivalent van dit wat die regering in Suid-Afrika met Erfenisdag probeer bereik, is wat in die VSA as “Thanksgiving” bekend staan. Daarin kry elke kulturele bydraer tot die Amerikaanse droom egter volledige erkenning sodat dié dag werklik feestelik en wyd gevier word.

Dlamini-Zuma het die Suid-Afrikaanse droom wat by Kemptonpark gebore is by Kliptown stukkend geprik, en as daar skadebeheer uit haar party gedoen is, was dit nie baie sigbaar nie.

Baie mense sal dus vandag hul vakansiesdag vier deur te fokus op Nasionale Braaidag. Maar die Afrikanererfenis bied oneindig meer as om ‘n paar kastele se nekke te knak.

Volksblad:

DIE idee wat verlede week op die Cosatu-kongres in Midrand geopper is – dat die Afrikaanse en Engelse dele van Die Stem uit die volkslied verwyder moet word – is een van die skadelikste voorstelle wat in ’n lang tyd die lig gesien het.

Die inklusiewe en verdraagsame gees van die 1994-skikking was gegrond op die harde feit dat geeneen van die vegtende partye ’n klinkklare oorwinning oor die ander behaal het nie.

Enersyds is apartheid afgeskaf; andersyds het MK nie die mag gegryp deur seëvierend in Adderleystraat in Kaapstad en Kerkstraat in Pretoria te marsjeer en die Parlements- en Uniegebou te beset nie.

Daardie waarheid geld steeds. Die nuwe Suid-Afrika se staatsinrigting is ’n kompromis. Nie almal is ewe geesdriftig daaroor nie, maar dis een waarmee die meeste mense basies kan saamleef.

Die wyse waarop Die Stem en Nkosi Sikelel’ iAfrika tot één lied saamgevoeg is, simboliseer daardie kompromis. Die Grondwet is die praktiese neerslag.

Aan dié pilare moet nie ligtelik getorring word nie. Gebeur dit wel, word die grondslae van die demokratiese bedeling prysgegee.

Die punt is dat, ofskoon daar talle jeukplekke in die nuwe Suid-Afrika is, die volkslied nie een van hulle is nie. Dis nie verniet dat die spreekwoord sê moenie krap waar dit nie jeuk nie.

Dit is met kommer dat ’n mens dag ná dag aanskou hoe die fondamente onder die skikking van 1994 weggekalwe word. As dit nie die ANC is wat persvryheid wil aantas nie, is dit die ANC-jeugliga wat grond links en regs wil konfiskeer, of Julius Malema wat die hele land op sy kop wil omkeer. Die demokrasie, as uitkoms van die 1994-skikking, is in die weegskaal, en die burgerlike samelewing sal sy spiere moet bult om te keer.

Hopelik is die idee op die Cosatu-kongres slegs van ’n aantal melkbaard-heethoofde sonder lewenservaring afkomstig. Hopelik is daar genoeg grys ringkoppe wat hulle met wysheid kan oorreed.

Anders wag daar steeds meer swarigheid vir Suid-Afrika en al sy mense.

 

 

Beeld:

Die magsoordrag van 1994 en die tydperk sedertdien het verskillende reaksies by mense uitgelok, reaksies wat relevant is vir ’n dag soos vandag, synde Erfenisdag. Sommige het ná 1994 oordrewe polities korrek geword: Erfenis, veral die Afrikanererfenis, is weens die apartheidsverlede besmet en verwerplik en moet in die buitenste duisternis uitgewerp word.

Ander weer het juis in reaksie hierop oordrewe gaan vasklou aan alles uit die Afrikanerverlede. Die houding van sommige kom in die praktyk daarop neer dat hul liefde vir hul eie erfenis gemeet word aan hul haat en afkeer vir die erfenis van alle ander groepe.

Albei benaderings is verkeerd. ’n Mens kan veel eerder die laaste boodskap van pres. Paul Kruger navolg: “Neem uit die verlede wat edel en goed is, en bou in die toekoms daarop voort.”  Dit geld alle groepe in die land. Alle groepe het genoeg rede om ’n gesonde trots te hê op hul eie erfenis en kultuurgoed.  Let wel: ’n Gesonde trots, geen sieklike obsessie nie, geen haat vir ander nie. erselfdertyd hou liefde vir die eie nie in dat jy jou van ander moet afsluit nie.

In ’n etnies diverse land soos Suid-Afrika, waar die harde praktyk nou eenmaal verskillende groepe saamgegooi het, kan so iets op die duur slegs op toenemende onderlinge vervreemding en uiteindelike rampspoed uitloop. Bowendien wys die geskiedenis dat kulturele kruisbestuiwing juis tot enorme ontwikkeling lei. Om jouself in jou eie politieke en kulturele hoekie te gaan toeverf, beteken dat jy op die duur stagneer.  Uiteindelik verloor jy die dinamika en lewenskrag om te oorleef.

Met ander woorde: Wees gerus voluit Afrikaner en Afrikaans, voluit Zoeloe of Xhosa. Niks mee verkeerd nie. Maar wees ook voluit Suid-Afrikaans. Wees oop vir ander invloede. Gaan ontspanne om met dit wat jou eie is. Dít is die resep vir vreedsame naasbestaan.

Soos iemand by geleentheid gesê het: Deurmekaar boer? So in jou m..r, so in jou m..r!