Media

LONMIN SE ONMIN VERSPREI AL WYER.

AS DIE HUIS OP SAND GEBOU WORD!Die geskorste ANC-jeugligaleier Julius Malema se weergawe van die ANC se Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) word deur Zimbabwiese en Kongolese soldate gesteun.

Dit is van die bewerings wat op internetwerwe gemaak word wat gereeld deur behoudende Afrikaners geraadpleeg word ten einde te poog om tussen al die “ingeligtes en kundiges” se ontledings, ʼn gebalanseerde en nugtere verloop van die NDR weer te gee.

Wat die skets van die verloop van die NDR betref het die inligting wat deur middel van die sogenaamde hoofstroomnuusmedia die Afrikanervolk en ander lede van die Blanke gemeenskap bereik, so te sê nutteloos geword.

 

In die Naspes-nuuskartel word daar nog geskerm oor die wenslikheid van vieringe van sinnelose verskynsels soos sogenaamde erfenisdag en die sing van 'n ding wat deur hulle as die “die volkslied” bestempel word.

Op die AKSKA-groep se webwerf, bedryf deur Lukas Swart, 'n beweerde gewese lid van die nuwe Suid-Afrika se inligtingsdienste, het Swart gister geskryf: “Malema se politieke profiel het dit amper net so onmoontlik gemaak om hom sommer net te arresteer as wat dit destyds was om vir Al Capone die gedugte mafia baas te arresteer.”

Wat ook al die benadering van die behoudende Afrikaner ten opsigte van figure soos Swart, moet Swart gelyk gegee word dat hy gister al gegis het dat die Zuma-regime nie kans sal sien om Malema vir die beweerde misdade wat hy gepleeg het in hegtenis te neem nie.

“Al Capone was net te slim vir die wet en die enigste manier wat hy toe aangekeer kon word, was om hom vir belasting-ontduiking te arresteer. As ek reg gehoor het, skuld Malema die staat in die omgewing van R 16 miljoen. Ek vermoed dat dit ook die rede vir sy lasbrief sal wees,” het Swart geskryf.

Dit beteken nie dat alles wat Swart skryf, vir soetkoek opgeëet kan word nie.

Lukas Swart voer ook aan hy is 'n veiligheidskonsultant vir groot maatskappye en myngroepe en dat hy betrokke is/was by die oplos en ontlonting van arbeidsgeskille by Lonmin en die Medupi-kragsentrale in aanbou naby Ellisras.

Swart het gister sy stelling oor Malema gewaag onder die opskrif, “Hoe stabiel is die land?”

Dis in die ontleding wat daarop volg dat Swart verklaar dat Malema op die steun van Zimbabwiese en Kongolese soldate kan staatmaak.

Hy skryf: “Terwyl die twee Unies (COSATU en NACTU, waarby AMCU ingeskakel is) gereedmaak om die land te destabiliseer, kom daar ook ’n geslepe skelm op die toneel, wat van die unies vat wat hy nodig het om sy eie beul te blaas. Malema is nou eers verwaand. Altans so kom dit vir my voor”.

“Nadat Malema as jeugleier geskors is, maak hy met sy groot vyand APLA maatjies. APLA is die PAC se gewapende vleuel en hulle is dan ook vir die militante of gewelddadige optredes tydens onlangse onluste verantwoordelik. Malema het volgens ons informasie skynbaar sy eie militêre element wat uit oud-soldate van Zimbabwe bestaan. Hy voer hulle in en hy genereer dan geld uit die gemeenskap om die soldate te onderhou. In ruil daarvoor sal hulle dat tydens onluste die gewelddadige klimaat skep.

“Tydens die insident by Lonmin waarin daar meer as dertig mense dood is, het die polisie volgens ons informasie ontdek dat baie van die mense wat dood is, nie myners of landsburgers was nie. Die geweld wat deur die huursoldate gestig was, was al wat die unies nodig gehad het om die momentum in plek te kry.

“Die polisie is reeds van hierdie element bewus maar kan Malema nie daarvoor arresteer nie. Hulle sal nog baie infiltrasies moet doen voor hulle die nodige bewyse teen Malema kan kry. Intussen is die lasbrief vir belastingontduiking die beste manier om die geslepe skelm aan bande te lê.”

 

Swart skryf toe Robert Mugabe sy soldate na die Kongo gestuur het om Mugabe se belange in ’n Kobaltmyn te beskerm het hierdie soldate nie 'n salaris ontvang nie “en moes self diamante roof om hulleself te finansier. Ons het destyds vermoed dat hulle met Kongolese rebelle vriende gemaak het en vandaar moontlik die band wat toe gesmee is.

 

“Gaan ons land hierdie jaar ontspoor ? Ek dink dat niemand dit met enige sekerheid kan voorspel nie. Die ingevoerde Zimbabwiërs wat aan die Pedi in die magspel ʼn bedingingsmag moet gee, kan uiteindelik net so min ’n bedreiging word as wat Zuma se troepe vir ons ’n bedreiging tydens die vorige magspel geword het.

 

“Wat die onstabiliteit in die land betref, kan die Zimbabwiërs soos in die geval van Lonmin, die vlammetjie by die kruitvat wees. Op Medupi word die geveg tussen Zuma en Malema direk ’n realiteit van die magspel. Dié groot Eskom-projek waarby die ANC groot baat vind, word hier deur die Malema-span bedreig om die Pedi se mag te bewys. Malema se strategie om die Zimbabwiërs te gebruik, het Kgalema Motlanthe nou skielik ook ’n uitgesproke ondersteuner van Malema gemaak.

 

“Vir die eerste keer lyk dit of hy Malema ondersteun deur Zuma doelbewus in die openbaar te diskrediteer.

 

“Hoe lyk die kampe waarin hulle verdeel is?

 

“Polities is daar twee kampe. 'Liberal international' en 'Socialist International'. Dit veroorsaak dat daar binne die drie-party-alliansie ’n gesonde verdeeldheid tussen die maatjies ontstaan. Die PAC en die ANC is nou in twee kampe.

 

“Die ANC en die SAKP is saam maar dan is daar ANC-lede wat ook teen die SAKP is. Die wat teen die SAKP is, neig na die PAC wat meer in dieselfde rigting as die DA beweeg.

 

“Die SAKP se militêre vleuel is Cosatu. Cosatu het unies soos NUM en NUMSA wat ook verdeel word omdat hulle leiers na die PAC se Nactu-unies soos Mewusa en Amcu oorloop.

 

“Dan is daar nog die magstryd binne die ANC waar verskillende etniese groepe vir die leierskap van die party meeding. Elke faksie het sy eie magsbasis en elke groep het sy eie ystervuis. Die Zoeloes het die nuwe 'self defense units'. Die Xhosa wat tydelik uit die resies is, kon in ’n mate op ’n deel van die MK staatmaak. En die Pedi het nou sy eie huursoldate.

 

“Die vraag is of dit enige invloed op Mangaung gaan hê.

“Mangaung is die groot ANC-vergadering waar die nuwe president van die ANC verkies sal word. Vir die ANC is dit ’n baie gespanne tyd omdat dit nie net etniese wrywing veroorsaak nie maar ook faksie wrywing binne die party. Dit is baie moontlik dat dit nou die Pedi se beurt is om president te word en soos wat Mbeki nie wou los nie, wil die Zoeloe ook so bietjie langer in die posisie van mag bly.”

Aldus Swart.

Ondertussen wag die land gespanne op verwikkelinge op die stakingstoneel en veral of die COSATU-verbonde vervoervakbond met 'n staking sal voortgaan. Die stakings is blykbaar voorlopig in die weegskaal maar vanmiddag het SABC-TV berig dat die stakers 'n 9 persent verhoging van die hand gewys het.

Die ekonoom Mike Schussler maan dat die uitwerking van 'n vervoerstaking baie erger nagevolge as die mynstakings kan hê. Hy verklaar dat dit die land kan lamlê, onder meer deurdat daar twee keer soveel werkers in die vervoerdienste as in die mynbousektor is.

 

AMCU en Nactu se sege by Lonmin was nietemin 'n behoorlike knuppel in die hoenderhok vir COSATU en in 'n nader ontleding van die skikking word die gevolge so gestel:

Die oënskynlik dramatiese oorwinning wat Lonmin-werkers met loonverhogings behaal het, het die afgelope week verdere stakings aangevuur wat nou na die goudsektor uitgekring het.

 

Die aanpassing aan ’n staande ooreenkoms van 9% tot 10% tot “tussen 11% en 22%” wat Dinsdag die staking by Lonmin se Marikana-myn beëindig het (sien kassie), is nou regdeur die mynbousektor op werkers se lippe, het die beleërde National Union of Mineworkers (NUM) gewaarsku.

 

Gold Fields én AngloGold Ashanti het nou stilstaande goudmyne en dieselfde looneise word by kontrakwerkers by Mpumalanga se steenkoolmyne gehoor.

 

Die NUM het Donderdagoggend die AngloGold-staking voorspel en gemaan dat Harmony nóg ’n “brandpunt” is.

 

Die uitvoerende hoof van ’n maatskappy met 1 650 kontrakwerkers by steenkoolmyne in Mpumalanga sê die “22%-skikking” by Lonmin het onmiddellik sy loononderhandelinge ontspoor.

 

Daar is groot “krapperigheid” in arbeidsverhoudinge in dié bedryf, sê die kontrakteur-baas, wat anoniem wil bly.

 

Hierdie maatskappy was op die punt om ’n loonooreenkoms vir die volgende drie jaar te sluit toe die nuus van die Lonmin-skikking werkers bereik. Sedertdien is dit ’n stryd om onrealistiese verwagtinge te bestuur, sê hy.

 

“Hulle (die werkers) verstaan nie dat die verhoging wat Lonmin toegestaan het, nie werklik 22% was nie.” Daar is volgens hom druk op al die werkgewers en hy is bewus van vier steenkoolmyne waar al die werkers al twee weke lank staak en toerusting beskadig het.

 

Anglo American Platinum se vier myne in Rustenburg staan grootliks stil nadat die mynreus Dinsdag amptelik bedrywighede “hervat” het.

 

Die NUM meen ’n nuwe staking by Impala Platinum (Implats) is amper onvermydelik. Vroeg vanjaar is ’n ses weke lange staking beëindig met ’n massa-afdanking en daarna ’n kleiner loonaanpassing as wat Lonmin nou gedoen het.

 

By Gold Fields se KDC-Wesmyn (Driefontein) by Carletonville staak 15 000 werkers sedert 9 September terwyl sowat 5 000 werkers by die staking by AngloGold se Kopanang-myn buite Orkney sedert Donderdagaand betrokke is. Albei dié myne is, soos Lonmin se Marikana-myn in Noordwes, in die middel van groot mynboustreke, omring deur talle ander bedrywighede, waar nuus en onrus gou van skag tot skag versprei.

 

NUM-amptenare landwyd is aangesê om soortgelyke nuwe stakings met nuwe loononderhandelinge te probeer voorspring, het Frans Baleni, hoofsekretaris van die vakbond, gesê.

 

Nick Holland, Gold Fields se uitvoerende hoof, het vroeër gesê hy weier om sy staande loonooreenkoms nou te herbeding en sy groep maak glo gereed om die KDC-werkers eensklaps af te dank.

 

Die gevolg van die Lonmin-skikking is dat sommige Lonmin-werkers meer as hul eweknieë by Implats verdien. Lone by Anglo American Platinum is steeds die hoogste in die sektor, sê die NUM.

 

Lonmin het Donderdag aangekondig dat hy hom nou aktief beywer vir ’n bedingingsraad vir die platinumbedryf. Gesprekke word gevoer tussen die platinummyne wat tot die Kamer van Mynwese behoort, het Simon Scott, waarnemende uitvoerende hoof, gesê.

 

Volgens Scott sou gelyke lone tussen myngroepe die aansteeklikheid van stakings teenwerk en minstens een deel van die sektor se arbeidsprobleme oplos.

 

Oor die skokgolwe wat dit in COSATU meegebring het moet ook van die volgende ontleding kennis geneem word (Lukas Swart) :Cosatu was die afgelope tyd kwaai onder druk toe sy eweknie, NACTU, wat ’n PAC-unie is, met Amcu die mynbedryf begin lamlê het. Die twee groot koppe wat unies betref, het vir die eerste keer ordentlik gebots. En toe begin die besigheid momentum kry. Die werkers besluit toe oor ’n wye gebied wat ek ook oor wonder, dat die unies nie vir hulle saak baklei nie en die werkers begin toe met onbeskermde stakings. Dit is stakings waar hulle nie deur die unies beskerm word nie en waar hulle op hulle eie en onvoorspelbaar begin staak.

 

“Ons aanduidings is dat selfs die onbeskermde stakings deel van NACTU se strategie is om die werkers weer tot nuwe insigte te oortuig. Hulle hits die werkers aan om self te staak en dan wanneer die werkers geld en werk verloor, sal die twee unies met ’n nuwe krag probeer om die steun van die werkers te herwin.

 

“Cosatu wat die afgelope jaar half lam begin word, het, is nou skielik ook besig om nuwe motivering te kry. Die stakende vervoerdienste word deur Cosatu veroorsaak en dit is een van hulle pogings om hulle mag te bewys. Die momentum wat deur Nactu-unies veroorsaak is, het aan Cosatu die geleentheid gegee om in beweging te kom. Cosatu is nog steeds die grootste unie maar kon dit nog nooit regkry om die land in momentum te kry nie. Maar nou dat Nactu-unies die momentum skep, is daar duidelike ’n magstryd wat op die oomblik tussen die twee unies begin ontstaan.”