Media

Grondwetlike Demokrasie of Grondwetlike(lees Besmetlike)Misgeboorte?

alt'n Menseregte-akte  kan nie etnisiteit as 'n middelpuntsoekende krag in die Suid-Afrikaanse politiek uitskakel nie, 'n feit wat deur die Marikana-debakel bevestig is.

Die Lonmin-slagting het die Afrikaner se vertroue in die grondwet en sogenaamde grondwetlike regte, dit is die geloof dat die owerhede dit kán handhaaf, 'n onherstelbare knou gegee.

Nee, dit lyk ná die polisie se raaiselagtige aanwending van skerppuntammunisie teen die mynwerkers van Marikana of die vraag by die Afrikanervolk en ander Blankes ontstaan het of 'n owerheidsinstelling soos die polisie hul grondwetlike regte, een daarvan die reg op lewe, hoegenaamd sal wíl handhaaf.

Daardie instellings wat gevolglik vir hulle 'n staanplek onder die Afrikaner beding het op sterkte van die feit dat hulle in staat is om 'n leefbare politieke omgewing vir die Afrikaner te skep met behulp van die grondwet, fraaiings soos 'n menseregte-akte en 'n konstitusionele hof, burgerregte-opvordering en les bes, 'n sogenaamde regstaat (rule of law), is dus behoorlik onder druk.

Hulle geloofwaardigheid is onder skoot, nie net van die gewone Blanke nie maar ook van eie kant.

In die week het die eerste walgooipoging van die voorste opvorderaar onder die Afrikaners vir wat genoem word 'n “grondwetlike demokrasie” dan ook onder die naam van Herman Toerien op die SoliForum-webwerf, Maroelamedia, verskyn.

In die artikel skryf Toerien oor hoe die SoliForum-groep besig is om die natuur op 'n plek êrens noord van Pretoria te beskerm, alles in navolging van die geregtelike raamwerk wat die hooggeroemde grondwetlike demokrasie sou skep. Of 'n ander staatregtelike bedeling, kom ons skryf maar 'n primitiewe monargie, nie ook 'n wetlike raamwerk vir die beskerming van die natuur daar kan stel nie, daaroor laat Toerien sy lesers in die duister.

Hy wei ook uit oor die hofsaak wat SoliForum in Suid-Afrika gevoer het oor die grondgrypery in Zimbabwe. Weer eens, oor die onmag van Zimbabwe se boere-vereniging, 'n sogenaamde burgerregtegroep, om self in Zimbabwe in te spring en hul eiendomsreg te beskerm, daaroor skryf Toerien niks.

Hy meld ook nie 'n dooie woord oor wat van al die ander Blanke burgerregte-inisiatiewe wat eens in Zimbabwe bestaan het en weens die Blanke ontvolking van ons buurstaat 'n noodgedwonge dood gesterf het, geword het nie.

Die begrip grondwetlike demokrasie in ons land het niks anders as leë gonswoorde geword nie, vir die gewone Blanke burger in elk geval.

Toe ek dié woorde so 'n keer of wat in Toerien se artikel raak lees het my gedagtes teruggegaan na my tyd in 1984/85 as militêre verslaggewer by Die Vaderland en die ou SA Weermag verslaggewers genooi het vir 'n demonstrasie van die G5-kanon op St. Lucia aan die Natalse noordkus.

Twee ander Vaderland-verslaggewers, André Verster (ook 'n bekende akteur, lank reeds oorlede), en Johan Liebenberg (ook reeds oorlede) was deel van die joernaliste-kontingent wat in 'n vliegtuig van die Grand Central-lughawe in Midrand vertrek het . Voor ons opstyg het André vertel van 'n besoek van die Britse renjaer Stirling Moss aan ons land om deel te neem aan 'n wedren op die voorganger van die Kyalami-baan, die Grand Central. Oor daardie renbaan in die Afrika-boendoe sou Moss volgens André gesê het “it is not grand, nor central”.

Daar is 'n paar sake wat bewerings dat die land 'n sogenaamde grondwetlike demokrasie is belaglik maak.

Die eerste is dat COSATU, een vennoot in die sogenaamde drieledige alliansie wat die bewind in die hande het, van die grondwet, die wet en reg en geregtigheid 'n ronde nul dink.

So lees ons in Beeld, een van die knievallers voor die grondwetlike demokrasie, se hoofartikel van 22 Augustus onder die opskrif, Dubbele standaarde vir vakbonde, na aanleiding van die dood van 34 AMCU-stakers en COSATU-hoofsekretaris Joe Vavi se geveins daaroor:

“Want COSATU se vakbonde kom in stakings letterlik met moord...weg sonder dat daar 'n vinger op die vakbonde gelê word.”

Die koerant gaan dan voort, verwys na die arrestasie van 259 AMCU-lede ná die Marikana-slagting en verklaar dat in 2006 het lede van die COSATU-verbonde SA Transport and Allied Workers' Union onder veiligheidswagte 60 lyke van nie-stakendes gelewer. Toe is niemand in hegtenis geneem nie.

In 2010 het die land se Swart onderwysers die land se ganse onderwysstelsel onder beleg gehad en klaskamers en onderwysgeriewe verwoes. In die hospitale, op hul beurt, het COSATU-verbonde verpleegsters pasiënte laat sterf.

Nie 'n goeie getuigskrif vir 'n grondwetlike demokrasie, van die soort wat in Amerika en Wes-Europa aan die orde is nie, nè?

Tereg kla die koerant daar was nie 'n “piep” van Vavi, Blade Nzimande (SA Kommunistiese Party), Gwede Mantashe en Kgalema Mothlante, almal uit die COSATU-stal, nie.

Dit sal insiggewend wees om die reaksie van mense soos Flip Buys by Solidariteit op hierdie vernietiging, moord en doodslag, as daar was, vir 'n slag weer onder oë te kry.

Die naarstige inkap van die hakke deur SoliForum en sy segsmense oor 'n beweerde grondwetlike demokrasie het uiteraard te doen met die feit dat toe die ou Blanke Mynwerkersunie met die aanvaarding van Flip Buys as sy hoofsekretaris, ingekoop het in die Nuwe, Verbeterde Suid-Afrika.

Dalk was Buys en sy kornuite, wat spoedig van die Blanke Mynwerkersunie Solidariteit gemaak het, maar bloot naïef en het op niks meer as sigwaarde aanvaar dat hierdie kamtige grondwetlike demokrasie die toets van die tyd sou slaag. Onthou, dit was nog in die tyd van allerhande beloftes soos wigte en teenwigte, en geen booswigte en prokureurs (soos die whisky-advertensie beloof) in die weer wat allerhande grondwetlike regte onder die komende Swart diktatuur sou beskerm.

Ook in die weer was die gebruiklike rojale beloftes van Amerika wanneer daar met bewindsveranderinge in Afrika gesmous word. Beloftes soos dat die sogenaamde Washington-Konsensus, wat deur die ANC aanvaar is, eiendomsreg sou verseker.

Wat wel duidelik is is dat die Amerikaners se smouse van politiek en gebruikte karre baie bedrywig onder Solidariteit was. In die tyd van bewindsverandering word die Council on Foreign Relation-getaaktes, Lawrence Schlemmer en Hermann Giliomee, dikwels in Solidariteit-geselskap gesien.

 

Slotsom

Dus, om te waag om enige politieke bedeling in Afrika, veral daardie bedelings suid van die Sahara, grondwetlike demokrasieë te noem, is om die saak efffens aan te dik.

Die feit dat 'n klomp papiere hul verskyning in Kempton Park in 1994 gemaak het, glo 34 “beginsels”, en hulle toe in die Kaap in 'n praathuis omgeskakel is in 'n sogenaamde grondwet, het nog lank nie van Suid-Afrika 'n grondwetlike demokrasie gemaak nie.

Dis klaarblyklik nodig om Toerien, SoliForum en ander wensdenkers aan die hand van die reaksie van mnr. Jaap Marais op die SA Regskommisie se konsep-mensregte-akte van 1989 (aangehaal uit Afrikanernasionalisme in die nuwe Suid-Afrika), te herinner aan hoe dit gebeur dat gewigtige regsdokumente soos grondwette en menseregte-aktes in Afrika uitgewis word.

Sentraal tot mnr. Marais se argument staan sy uitgangspunt dat 'n menseregte-akte nie etnisiteit as 'n middelpuntsoekende krag in die Suid-Afrikaanse politiek sal uitskakel nie, 'n feit wat deur die Marikana-debakel bevestig is.

Mnr. Marais maan die voorsitter van die kommissie regter Olivier oor 'n stelling dat “politiek moet kruissny deur etniese verdeling” (bladsy 78): “Die moontlikheid van 'n politieke party wat uitstyg bo rassegrense is nog nooit verwesenlik waar sulke uiteenlopende rassegroepe bestaan soos in Suid-Afrika nie.”

Oor hoe die getalsterkste etniese groep uiteindelik die politieke voortou in die land sou neem, verklaar mnr. Marais: “In so 'n stelsel sal die verloop van sake in Suid-Afrika so eenvoudig wees soos die maak van 'n optelsom. Die sterkste rassegroep sal die politieke mag verower, en die kleiner etniese groepe sal of hul belange en waardes ondergeskik moet stel en hulle met die etniese meerderheid moet vereenselwig, of hulle sal etniese belange probeer handhaaf op die gevaar af dat hulle eintlik voëlvry verklaar sal word soos die Matabeles nadat die Sjonas (of die Xhosamynwerkers van Lonmin?), met Mugabe aan die spits, die mag oorgeneem het in Zimbabwe en meer as 12 000 van hulle gedood het.”

Hy gaan voort (bladsy 80): “In die opsigte waarin dit (die voorgestelde meneseregte-akte) buite die bestaande regs- en politieke orde gaan, is dit egter 'n bloudruk vir 'n rewolusionêre ingryp in die Suid-Afrikaanse bestel deurdat (enkele punte opgesom):

# dit betoog om die juridiese regverdiging te verskaf vir 'n politieke orde gegrond op 'n pluralistiese nasie waardeur 'n hoë voorrang gegee word aan die abstrakte idee van 'n samevoeging van heterogene individue in wat in werklikheid 'n anti-nasie sal wees;

# dit die waarheid misvat dat gesag net kan bestaan wanneer volstrekte standaarde (soos voorgeskryf deur 'n akte?) geld, en die enigste volstrekte standaard van die gelykheidsdogma is nul.

Mnr. Marais maan dat om gelykheid gelyk te stel aan geregtigheid 'n dwaling is.

Oor die sogenaamde “rule of law”, die gedagte waaruit die Suid-Afrikaanse regstaat gebore is, haal hy die filosoof Thomas Hobbes aan wat verklaar het hierdie “rule of law” is “the rule of those who determine and administer the law”.

En hierdie waarheid en nie onderskeidings dat Suid-Afrika 'n sogenaamde regstaat en grondwetlike demokrasie is, sal in die komende dae, weke en maande in die aanloop tot die ANC se Mangaung-leierskapkonfensie, en die konferensie self, die deurslag gee.