Media

APARTHEID 'N EUWELE BELEID? (2)

DIE REDES VIR EN DIE WARE BEDOELING MET DIE BELEID VAN AFSONDERLIKE ONTWIKKELING (Aflewering twee)

DIE VALSE BANTOENASIONALISME SOU STEEDS VAN VERWOERD BESTRYDING KRY. 

4. Verdere stappe na Selfbestuur

Verwoerd sou in die eerste sitting van die Parlement, nadat hy regeringshoof geword het, twee wetsontwerpe laat indien wat hy as van die eerste vereistes beskou het vir die beleid wat hy van plan was om te volg ten einde die Bantoe op die weg van verdere ontwikkeling aan te help.

Die eerste van hierdie stappe was die afskaffing van die verteenwoordiging van die Bantoe in die Parlement en ter bevordering van verdere selfbestuur in hul eie gebiede. Op 18 Mei 1959 het die Minister van Bantoe-administrasie en -Ontwikkeling, mnr. M. D. C. de W. Nel, die tweede lesing van die wetsontwerp in die Volksraad voorgestel. Hy het o.m. gesê; "Die grootste vraag wat Suid-Afrika in die afgelope 300 jaar geroepe was om te beantwoord, bestaan hierin: Of ons volkswording... moes afstuur op 'n veelrassige eenheidsgemeenskap, of dit moes afstuur op die ontwikkeling van aparte volksgroepe."

 

 Mnr. Nel het verklaar Suid-Afrika "het ondubbelsinnig gekies en hy het die beleid van integrasie verwerp en die beleid van apartheid en eiesoortige ontwikkeling aanvaar". Die wetsontwerp beoog om hierdie proses voort te sit, omdat die Bantoevolke bestuur behoort te word volgens hul eie instellings. "Hierdie  stelsel skep uitingsmoontlikhede vir die begaafde en ontwikkelde Bantoe binne sy eie gemeenskap. Hy het nie nodig om te vlug van sy eie volksgemeenskap in die blanke gebied in nie." Die magte van die gebiedsowerhede, soos in die wet van 1951 omskryf is, sou belangrik uitgebrei word. Die Bantoe sou o.m. in sy gebiede sy eie howe kry).

 

Die, wetsontwerp is deur die Verenigde Party teengestaan omdat dit o.m. Suid-Afrika sou verdeel in swart state en 'n veelrassige staat2). 'n Driedaagse debat is daarop gevoer waaraan ook 'n paar lede van die Kabinet deelgeneem het.

Op 20 Mei het Verwoerd tot die bespreking toegetree met 'n toespraak wat meer as 'n uur geduur het. As sodanig was dit een van die grootste en vernaamste redevoerings wat Verwoerd oor die rassevraagstuk gehou het. Dit het bestaan aan die een kant uit 'n verduideliking van die eie beginselstandpunt en aan die ander kant 'n ontleding van die standpunt van die Verenigde Party in sy logiese konsekwensies.

'n Eerste beginsel wat Verwoerd gestel het, was dat met die wetsontwerp beoog word om voort te bou op wat die Bantoe reeds self aan bestuurstelsels geskep het. Hy het gesê: "Net soos die blanke beskawingsontwikkeling begin het by relatief eenvoudige bestuurstelsels, maar tog ontwikkel het tot die hoogste peile wat ons vandag het, sal hulle stelsel ook, maar met vergrote spoed, uitgaan van ... wat die Bantoe ken en daarvandaan ontwikkel word na wat dit kan word in die lig van sy ervaring van die progressiewe moderne blanke maatskappy waarin hy reeds lering verkry het en nog meer sal verkry."

 

Net soos in die jare toe hy nog Minister van Naturellesake was, het Verwoerd andermaal daarop gewys dat in hul eie gebiede daar vir die Bantoe geleenthede geskep word om net so hoog te klim as waartoe elke individu in staat was. "Honderde en honderde jong geleerde Bantoe het posisies van verantwoordelikheid en aansien gekry, wat hulle voorheen nooit geken het nie, in diens van hul nasie."

 

'n Tweede beginsel wat Verwoerd beklem-toon het, is dat daar geen perke rus op die strewe van die Bantoe om hul gebiede tot onafhanklike state te ontwikkel nie. Na aanleiding van 'n vraag van die leier van die opposisie het Verwoerd verklaar dat, "as dit binne die vermoë van die Bantoe is en as die gebiede wat... reeds sy eie ... is, kan ont­wikkel tot volle selfstandigheid, dan sal dit so ontwikkel. Nog hy nog ek sal dit kan keer... en geeneen van ons opvolgers sal dit kan keer nie ..."

 

Moet Suid-Afrika tussen blank en nie-blank verdeel word of moet dit as 'n politieke eenheid gehandhaaf bly? Verwoerd het geen illusies gehad oor wat die gevolg sou wees, indien laasgenoemde die beleid moes word nie. Hy het verklaar: "Hier is niks anders moontlik nie as 'n gemeenskaplike Suid-Afrika, 'n veel-rassige land, hoewel die Bantoe die blanke drie en vier maal sal bly oortref in getalle. Dan se ek weer: Dan kies ek met ope gemoed en in die beste belang van die blanke ... 'n versekerde blanke staat... , wat ook al van die ander gebiede word, liewer as om my volk te laat opneem in een gemengde staat waaroor die Bantoe uiteindelik heerskappy moet voer. Een Bantoestan van die hele Suid-Afrika is die onvermydelike gevolg van die Verenigde Party se beleid." Verwoerd het sy formulering van hierdie aspek van die saak afgesluit met te verklaar dat die Verenigde Party " 'n bloedlose verowering aanvaar van die blanke gebied deur die Bantoe wat die blanke net as werker wou aanvaar het en as iemand wat vennoot en later oorheerser van sy land sou word ... As daar enige nasie ... is wat bereid sou wees om op hierdie wyse sy land van hom te laat roof..., dan sê ek ons aan hierdie kant is nie bereid om saam met die Verenigde Party die hendsoppers te wees wat hul land afstaan aan 'n bloedlose verowering nie".

 

Verwoerd het. beslis nie gehuiwer om beginsels te verkondig wat vir meer as een waarskynlik moeilik sou gewees het om te aanvaar nie. Daarmee het hy weer sy eerlikheid geopenbaar en so ook bewys dat dit in die politiek by hom nie om goedkoop populariteit gegaan het nie. Aan hierdie tweede beginsel van onafhanklike Bantoestate het hy nog die opmerking geknoop dat "ek liewer op die ou end sit met 'n kleiner staat in Suid-Afrika wat blank is... en wat sal staan as 'n bolwerk vir die blanke beskawing ..., m.a.w., liewer 'n blanke nasie hier wat kan veg vir sy voortbestaan as met 'n groter staat wat al klaar weggegee is aan Bantoe-oorheersing".

Die toespraak is met die volgende samevatting afgesluit: "Die Nasionale Party se standpunt is die van te strewe na 'n permanente blanke Suid-Afrika, watter gevaar dit ook mag bedreig, met gereedheid tot die ontwikkeling van gebiede waarin die Bantoebeheer kan toeneem onder die blanke as voog en met die verstandhouding dat, selfs al sou dit lei tot Bantoeselfstandigheid, dit deur staatsmanswysheid beoog word om te sorg dat daardie ontwikkeling in so 'n gees en op so 'n wyse sal plaasvind dat vriendskap moontlik sal bly, hoewel sonder dat die blanke ooit onder enige vorm van Bantoe beheer sal verkeer, hetsy in federale ... of in uniale vorm. Dit is die keuse.)"

 

Wet Nr. 46 van 1959 wat ten doel het "om voorsiening te maak vir die geleidelike ont­wikkeling van selfbesturende Bantoevolkseenhede en vir regstreekse oorlegpleging" tussen hulle en die Regering, erken die etniese verskeidenheid van die Bantoe en verdeel hulle daarom dan ook in agt volksgroepe. As skakel tussen hulle en die sentrale regering tree 'n vyftal kommissarisse-generaal op. Met die in-stelling van die amp van kommissaris-generaal is inderdaad iets nuuts geskep want nie alleen woon hy in die gebied van die volk wat hy verteenwoordig, sodat hy die Bantoe met raad en advies kan help nie, maar hy staan ook in direkte verbinding met die Regering om laasgenoemde te verteenwoordig.

(AVP beklemtoning)