Geskryf deur Joseph Secreve
Na aanleiding van die skuldigbevinding van die Boeremaglede, terwyl dit bekend is dat die Boeremag deur die polisie georganiseer was, begin ek, soos sekerlik baie besorgde burgers, die nodige kritiese vrae te stel. Wat gaan hier aan? Is hier sprake van 'n komplot van rampokker polisieagente of is hier meer op die spel? Dit is in elk geval 'n verskynsel met 'n langer verlede, soos ons kan sien met die Ossewa Brandwag se Hans van Rensburg wat in Britse uniforms destyds op Vrystaatse Boere geskiet het, terwyl Jan Smuts niks gedoen het om die OB te stop nie.
Dalk is ek effens voorbarig met my konklusies, maar ek vermoed dat ons hier te make het met 'n vorm van sielkundige oorlogvoering. Aan ons word 'n bepaalde realiteit getoon terwyl agter die skerms ander spelreëls geld. In elk geval weet ons wat die uitwerking is van hierdie "skuldigbevinding", naamlik ons moet die wetlike gesag van die huidige stelsel aanvaar sonder protes.
Waar Genocide Watch se Gregory Stanton ons waarsku dat die ligte van volksmoord bloedrooi flikker moet ons enige vorm van verset laat vaar. Nie net is daar sprake van "rigtingbedonnerd" soos Fred de Vries dit gestel het nie, maar ook van morele verlamming sodat ons soos tydens Stalin se Rooi Terreur al voetslepend soos zombies na die galgtrokke sal loop om opgehang te word.
As my vermoedens klop, naamlik dat hier sielkundige oorlog gevoer word, sal dit 'n goeie idee wees om name en instellings te noem wat hiervoor verantwoordelik sou kon wees, en 'n bietjie naslaanwerk het my goed oppad gehelp.
Tydens my studie sosiale sielkunde aan die Universiteit van Amsterdam was ek nogal verbaas gewees hoekom ons geen geskiedenis oor hierdie rigting gestudeer het nie. Die "vader van die sosiale sielkunde", ene Kurt Lewin (1890 – 1947) se naam is bekend vanwee 'n instituut wat na hom vernoem is, maar verder het ek eers na my studie self gaan ondersoek wat hierdie man so besonder maak en hoekom daar geen aandag aan sy teorië gegee was tydens die lesings nie.
Soos 'n kraak in 'n muur het die lig in die duisternis begin skyn. Lewin was 'n man wat nogal weinig gewetensbesware gehad het. Ek dink ons kan met reg sê dat hy die Josef Mengele van die sielkunde was. Die voormalige CIA agent dr. John Coleman beweer in sy werk The Conspirator's Hierarchy: The Committee of 300 dat Lewin die geheime argitek agter die gruwelike Dresden bombardemente van 13 Februarie 1945 was. Volgens Lewin se berekeninge sou 'n 65% lewensverlies onder burgers die Duitse moraal so ernstig ondermyn het dat hulle veggees gebreek sou word om 'n verdere oorwinning vir die geallieerdes te verseker. Ons weet natuurlik dat dit slegs gehelp het om die stryd meer verbete te maak en het Duitsers wat min of meer neutraal was slegs verder in die arms van die Führer gedryf.
Benewens hierdie prestasie was Lewin se teorieë en gedagtes oorgeneem deur sy volgelinge wat later gekulmineer het in die daarstelling van die Tavistock Institute te Londen. Hierdie instituut wat homself voorgee as 'n denktenk op allerlei maatskaplike vraagstukke is heimlik besig met navorsing om die sielkundige oorlogvoering teen die gewone burger verder op te voer deur ons aan allerlei polities korrekte propaganda bloot te stel. Een van Lewin se bekendste teorieë is sy "Change Model", wat 'n stapsgewyse plan is om mense se opvattings oor sekere kwessies te verander.
Hierdie verandermodel behels kortliks dat mense daarop gewys word dat hul bestaande opvattings nie meer geldig is nie en dit is belangrik dat dit moet verander. Hierdie fase word "unfreezing" genoem. Daarna word taktieke ingespan om 'n nuwe stel waardes te indoktrineer, wat gepaard gaan met beloning of straf en word allerlei pogings aangewend om die vorige waardestelsel te vervreem van die indiwidu. Vervolgens moet die nuwe waardestelsel 'n deel word van die persoon se lewensuitkyk en word pogings onderneem om dit "in te vries" oftewel te "refreeze". Klink dit bekend?
Verbasend genoeg het Lewin toegegee dat die doel van die nuwe waardestelsel nie altyd so duidelik sigbaar is nie en dit is nie altyd duidelik presies watter nuwe waardes nou eintlik moet geld nie, want die realiteit is nou ongelukkig altyd komplekser as die teorie. In plaas daarvan om sy teorie te diskrediteer het hy maar besluit dat dit 'n goeie ding is om die einddoel nie te skerp te omskryf nie sodat mense op 'n later stadium weer ontvries en heringevries kan word as blyk dat die plan misluk het. Ai, die arrogansie van die twintigste eeu se wetenskap!
Ek vermoed dat die skrywer van die roman A Clockwork Orange, Anthony Burgess, ook van Lewin se stompsinnige hoogdrawendheid geweet het. In Stanley Kubrick se filmweergawe van hierdie boek sien ons hoe die hoofkarakter – 'n gewelddadige skurk – geherprogrammeer word om 'n awersie vir geweld te ontwikkel. In die agtergrond speel toevallig sy gunsteling musiek, naamlik Beethoven oor die radio van die sielkundige wat hom programmeer. Die sielkundige het kennelik vergeet dat die geweldenaar versot is op Beethoven en het dus per ongeluk hiermee ook die estetiese aspek van sy karakter aangetas (die akteur wat die sielkundige vertolk lyk verdag baie soos Lewin). Uiteindelik het hierdie programmeerfout, die assosiasie van 'Beethoven' met 'uiters onaangenaam' hom tot 'n selfmoordpoging gedryf en was die plaaslike regering gedwing om die skade teen hom te vergoed.
As dit nie sy ergste was nie het Lewin ook gedrag ontleed van mense wat geterroriseer was (ons sal maar nie vra waar hy hierdie geterroriseerde mense vandaan gehaal het nie), en in sy opstel Time Perspective and Morale (1941) skryf hy: "Indeed, one of the main techniques for breaking morale through a 'strategy of terror' consists in exactly this tactic – keep the person hazy as to where he stands and just what he may expect. If in addition frequent vacillations between severe disciplinary measures and promises of good treatment, together with the spread of contradictory news, make the 'cognitive structure' of the situation utterly unclear, then the individual may cease to know even whether a particular plan would lead toward or away from his goal. Under these conditions , even those individuals who have definite goals and are ready to take risks will be paralyzed by severe inner conflicts in regard to what to do."
En ondanks al hierdie uitinge bly Lewin se naam in eer. Dit ly min twyfel dat hy saam met Freud en Wilhelm Reich tot die gevaarlikste sielkundiges behoort wat ons die afgelope eeu gehad het.
Om terug te keer na vandag en die Boeremagverhoor kan ons sien hoe bogenoemde verandermodel en reaksie op terreur vandag op die gees van die Afrikaner geprent word. Hierdie skuldigbevinding (van 'n Afrikaanse regter na Afrikaners), tesame met die histrioniese rubriekskrywers van Naspers en News24 probeer ons oor te haal om hierdie gewelddadige nuwe orde en tweederangse burgerskap te aanvaar ("refreeze"). Dit is pogings om die gees van protesterende burgers te breek en mense verder te verwar en op te saal met innerlike konflikte oor wie hulle is en wat hulle wil bereik.
Dit mag duidelik wees dat Suid-Afrika 'n perfekte laboratorium vir sielkundige oorlogvoering is. Soos proefkonyne word behoudende Afrikaners se waardes verguis en heropgevoed met 'n nuwer, dodelike stalinistiese formule. Die gemak waarmee Afrikaners gebreek gaan word sal 'n aanduiding wees vir die res van die westerse wêreld wat steeds meer met hul eie identiteit stoei as gevolg van massa-immigrasie na hul gebiede. En ondanks die gevare van wittes wat deur die presedent van die Boeremagverhoor geskep is, die anti-wit haatspraak onder Zuma, en Gregory Stanton se waarskuwing gaan die ywer oor rugby en die Olimpiese Spele onverpoosd voort.
Ek dink as Julius Caesar vandag geleef het sou hy seker Mortem et Circenses geuiter het, oftwel [gee die gepeupel] dood en spele.
