In Opinie van Beeld se hoofartikel is die ontleding van regter Eben Jordaan se uitspraak in die “Boeremag”- verhoor, ʼn deursigtige propaganda oefening wat kommentaar verdien.
GEEN PLEK VIR MILITANTE GEWELD IN SA (Beeld)
2012-07-29 21:51
Uitspraak in die Boeremag-verhoor het verlede week begin ná ’n marathon-saak van tien jaar.
Twee van die beskuldigdes, onder wie Mike du Toit, is al skuldig bevind.
Regter Eben Jordaan het in sy uitspraak na Du Toit verwys as die “hoofrolspeler in die beplanning van die omverwerping van die bestaande regering”.
Die res van Jordaan se uitspraak en daaropvolgende vonnisverrigtinge lê nog voor.
Die boodskap is egter duidelik – daar sal geen simpatie getoon word vir verregse militante wat probeer om die bestel met geweld omver te werp nie.
Die staat het die mag en grondwetlike plig om regspleging te handhaaf en wys in die saak hy sal so maak.
Enige krakie in die regsorde is negatief, ongeag wie aan watter kant van die saak daardeur geraak word.
Wat Du Toit en sy makkers beplan het, is nie net ’n aanslag op die regering nie, maar ’n aanslag op swart mense in die land.
Die oorgrote meerderheid van wit mense kom goed oor die weg met hul swart landgenote en assimileer met gemak in die groter samelewing, ook omdat hulle postapartheid Suid-Afrika verwerk het en daarin meeleef.
In wese streef Suid-Afrikaners - wit of swart - dieselfde na: om veilig te bly in ’n land wat goed bestuur word en waar mense gelyke geleenthede het om hulself ekonomies, maatskaplik en sosiaal uit te druk.
Dit is dié gedeelde waardes wat sosiale kohesie op grondvlak skep, nie amptelike konferensies oor dié onderwerp soos die een wat vroeër vandeesmaand in Kliptown gehou is nie.
Ongelukkig dra andersdenkendes op die verregse randakker, soos die Boeremag, niks daartoe by nie.
Inteendeel, hulle kan baie maklik deur swart Suid-Afrikaners gesien word as die “gesig” van wit Afrikaners.
Enige sweempie van rassisme en geweld moet ten sterkste verwerp word.
Ongelukkig word die brûe wat deur gewone mense gebou word al te vinnig gebrand deur ekstremistiese randfigure. (My beklemtoning)
Die rubriekskrywer se verwysing daarna dat die boodskap uit Jordaan se uitspraak duidelik is en sy daaropvolgende klem op sekere aspekte van die uitspraak wat so duidelik afgestem is op die politieke en sosiale eise wat na die sluipmoord op dr. Verwoerd met bedrog en geweld op die Afrikaner afgedwing is, bring die politieke neutraliteit van Jordaan se uitspraak ernstig in gedrang
Asof dit nie duidelik genoeg is nie word dit beklemtoon dat die staat die mag het en deur die Boeremagsaak bewys dat hy dit sal gebruik. Die verwysing na die grondwetlike plig van die staat om regspleging te handhaaf word in die Boeremagsaak as ʼn skerm gebruik terwyl dit verswyg word wanneer ANC- hoës wegkom met lank en uitgerekte ondersoeke terwyl volle salarisse en voordele en/of posverskuiwings aangewend word om daardie plig te omseil.
Dat die oorgrote meerderheid van wit mense goed oor die weg kom met hul swart landgenote en met gemak assimileer in die groter samelewing, ook omdat hulle postapartheid Suid-Afrika verwerk het en daarin meeleef, is ʼn uiters gebrekkige waarneming en as dit Jordaan se afleiding is, bring dit sy insig ernstig onder verdenking. Blankes word gemarginaliseer, uit hulle werk en skool en eiendom gedwing. Verder word hulle gemoor, verkrag, vermink, beroof, belas en verarm en maak dit só ʼn afleiding n bespotting!
Die kriptiese verwysing dat wit en swart Suid Afrikaners dieselfde strewe het, en dan veiligheid, goeie landsbestuur en gelyke geleenthede voorhou, is om ʼn persepsie te probeer skep van iets wat glad nie bestaan nie. Om dan die gebrek aan sosiale kohesie bloot aan amptelike konferensies oor dié een wat vroeër vandeesmaand in Kliptown gehou is toe te skryf, is ʼn oorvereenvoudiging van die swart/wit verhouding waarvan die oorsprong allermins by die verregses sy ontstaan gehad het, maar by die vêr linkses!
Verder word die brûe waarna verwys word nie deur gewone mense gebou nie, maar deur mense wat nie bereid is om die bestaande skeppingsorde te aanvaar nie!
