2012-07-29 21:45
Boere word glo geboelie om plase met grondeise vir net sowat 60% van markwaarde aan die regering te verkoop.(Beeld)
In die Beeld koerant verskyn n berig van die waarde van onderhandeling waarmee Suid Afrika se boere sedert 1994 deur Agri SA en TLU SA gyselaar gehou word. Die resultaat is onafwendbaar soos wat dit hier onder uiteengesit word.
Agri SA het ’n lys van meer as 400 boere in Suid-Afrika wat beweer hulle is slagoffers van die regering se “slinkse taktiek”.
Talle boere op die lys, van wie sommige in sak en as sit en geen heenkome het nie, het aan Beeld vertel hulle is “gedwing” om hul grond teen ’n fraksie van die markwaarde aan die regering te verkoop.
’n Piesangboer wat anoniem wil bly, het gesê amptenare van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming het ’n grondwaardeerder na sy plaas gestuur om die waarde te bepaal.
Die departement het ’n aanbod aan hom gemaak gelykstaande aan die markwaarde.
Hy het die aanbod aanvaar en ’n koopkontrak ontvang, onderteken deur die grondeisekommissaris. Hy het dit geteken.
Maande later terwyl hy gewag het op die koop om deur te gaan, het die departement hom ingelig dat hulle net 60% van die bedrag waarop ooreengekom is aan hom gaan betaal.
“Hulle sê net eenvoudig daar is nie genoeg geld om die grond mee te koop nie, so dit is hoe dit is.
“Ek het terugverwys na die ooreenkoms, maar hulle het gesê die transaksie is onderhewig aan goedkeuring van die minister van landbou en die minister het die bedrag afgekeur.
“Hulle onderhandel dan weer met jou oor die prys, maar dit gaan oor kleingeld. Hulle is bereid om sowat 5% meer te betaal net sodat hulle kan sê hulle het weer onderhandel.”
Die boer het gesê ’n mens kan die prys in die hof betwis, maar bygevoeg: “Dit kos te veel en sloer jare, terwyl jy dan al ooreenkomste aangegaan het om nuwe grond te koop.”
Ander boere met wie Beeld gepraat het, het gesê dieselfde het met hulle gebeur.
Sommige is met leë hande by hul plase weg omdat die koopprys net hul skuld op die grond gedek het en al hul spaargeld en pensioen wat in die plaas belê is, is ook daarmee heen.
Volgens dr. Theo de Jager, adjunkpresident van Agri SA, het hulle die saak al in 2008 na die Menseregtekommissie (MRK) verwys omdat dit “’n menseregtekwessie is wanneer jy weens politieke redes van jou grond vervreem en minder as markwaarde betaal word”.
“Die MRK het niks gedoen nie. Ons het hulle lêers vol korrespondensie gestuur, maar ’n jaar later het hulle gesê hulle kyk nog na die saak.”
Pulane Molefe, woordvoerder van die departement, het gesê hulle hoef nie die boere markwaarde te betaal nie, hoewel die waarde in ag geneem word.
“Ons kyk ook na die plaas se gebruik, geskiedenis, hoe dit bekom is en bepaal dan ’n prys. As die boer ontevrede is, kan hy hof toe gaan.”
