Media

DIE DE KLERK-STIGTING SE STOTTERING!

VANDAG BAAR DIE BERG 'N MUIS.

Want vandag, 25 Julie, hou die FW de Klerk-Stigting 'n beraad oor die ANC se beleidsbesluite wat enkele weke gelede in Midrand geneem is.

Die FW de Klerk-Stigting se saamtrek word by die Johannesburgse Buiteklub gehou, gewis 'n merkwaardigheid gesien in die lig van 'n opmerking van mnr. Dave Steward van die Stigting, dat mense wat veronderstel is om ernstig kennis te neem van die ingrypende gevolge van die ANC se Midrandse besluite koud daarteenoor staan want hulle is maar net op pad “vir nog 'n rondte gholf”.

Hierdie waarnemer wonder in die lig van Steward se opmerking, die feit dat die Stigting sy beraad by 'n gholfklub hou en ook die feit dat die nimlike FW de Klerk self hom gereeld laat kiek op die gholfbaan, of die ernstigste bedrywighede van die dag deur die klompie beraadgangers nie 'n potjie ligsinnige gholf sal wees nie.

 

De Klerk self is immers bekend vir sy ligsinnighede. Byvoorbeeld sy uitspraak in die Parlement dat die boere nie “opgepomp moet word oor hul kaart en transport nie, dit is veilig”.

Dis reeds bekend wie vandag teenwoordig sal wees. Die uitnodiging na Johannesburg se gholfbaan meld die volgend deelnemers aan die toernooi:

•             FW de Klerk

•             Helen Zille

•             John Kane-Berman, hoof uitvoerende beampte van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge

•             Francois Venter, dekaan van die regsfakulteit aan die NWU

•             Leon Louw, uitvoerende hoof van die Vryemark Stigting

•             Kallie Kriel, hoof uitvoerende beampte van AfriForum

Dus die wie's wie van die land se linkse kabal.

Maar weer eens 'n versweë merkwaardigheid wat die beste na vore gebring kan word deur die stel van 'n vraag: Wie tree nie vandag op die eerste bof van die Johannesburgse Buiteklub aan nie en wie gaan ook nie teenwoordig wees wanneer dié klomp prulle die aand na die hogere woorde hul sundowners by die negentiende putjie lig?

In die vorige geskarrel oor moontlike wysigings aan die grondwetkontrepsie, met besondere verwysing na Artikel 25, daar in 2008, was mnr. Pik Botha deel van 'n uitgebreide ruggespraak oor die ANC se vuilspel met grondbesit en daardie heilige koei van die liberale demokrasie, die sogenaamde vrywillige verkoop- en koopbeginsel. Nog iemand wat ek in daardie stadium op foto's saam met De Klerk sien poseer het was mnr. Bennie van Zyl van TLU SA. Waar is mnre. Botha en Van Zyl hierdie slag?

Die nuwelinge (nuwelinge na die beste van my wete) tot die beraad is egter net so merkwaardig: Dis byvoorbeeld die eerste keer dat Kallie Kriel openlik 'n openbare platform met Black Sash-lid en DA-leier Helen Zille deel. Of sulke openbare ontmoetings gaan lei tot 'n algehele openbaring van die reeds jare lange gekafoefel in die donker tussen AfriSol en die DA is 'n raaiskoot.

Steward se neerhalende verwysing na 'n rondte gholf verdien nog 'n maal oorweging...

Sou hy dié klompie dolende ridders van ons land se linkse Blanke politiek se magsmonstering dalk as maar bra eina beskou? En presies hoe sien die land se liberale Blanke kliek die stand van hul kameraadskaplikheid?

Wel, Steward is nie die enigste wat kreun dat die gewig te swaar op linkse skof druk nie. Ook Tim du Plessis het so 'n maand of wat gelede in sy “dan-is-ons-onderdeur”-rubriek dit gehad teen die sakesektor wat nie sy gewig teen die ANC-aanslag trek nie. Dis seker maar daarom dat die De Klerk-Stigting ter nouer nood vir Kallie Kriel aan die daglig as 'n linkse ontbloot.

En inderdaad ontbreek die Geldmag se Groot Sakekorporasies se openbare kreune teen die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) se sogenaamde Tweede Oorgang. Vroeg in die nuwe millennium (2003?) het Thabo Mbeki mos ook so 'n Tweede Oorgang wou waag. Van die Geldmag se groot spelers, die banke, het toe luidkeels in volbladadvertensies teen so 'n te vroeë afhandeling van die rewolusie geprotesteer.

Nie dat De Klerk en Steward die erns van die saak oorskat nie. Hoegenaamd nie. Trouens, dis al asof die land se linkses van die getrouste lesers van die AVP se webwerf geword het! Hulle weet dus kennelik dat moeilikheid blou in die blom staan.

Behalwe vir die voorbehoude wat reeds in die voorafgaande paragrawe genoem is, of daarin deurskemer, is daar nog redes vir die inleidende stelling dat die berg more 'n muis sal baar.

Kyk, as daar nou 'n gees is wat deurdrenk is van politieke korrektheid, dan is dit dié van De Klerk, ek dink hy weier om onder wit lakens te slaap. Boonop spreek die geskiedenis wat De Klerk en sy party geskryf het die hardste oordeel oor hierdie byna benoude spronge vandag in die gholfbaan se ruveld deur byna benoude katte.

Die spronge gaan in die eerste plek oor die sigbare roof van die Afrikanervolk se eiendom, sy grond, in Zuma se sogenaamde Tweede Oorgang (ofte wel die ekonomiese fase van die NDR). Rondom ons land se stede en dorpe het daar in die, let wel - afgelope 26 jaar - dramatiese veranderings in bevolkingsvestigingspatrone plaasgevind. Dis belangrik om te weet dat dit die Nasionale Party van PW Botha was wat in Julie 1986 elke wet en maatreël wat die beweging en vestiging van Swartes maar ook ander Nie-Blankes in Blank Suid-Afrika beheer het, geskrap het.

In die stel van hierdie feit dan die aanklag dat die geskiedenis van De Klerk teen hom tel wanneer hy skielik 'n beraad hou om te besin oor grondgrypery.

Die laaste en deurslaggewendste feit wat die negatiewe verwagtinge vir vandag se beraad betref en dat die waarnemer hom nie eens vir 'n lewendige muis wat uit die berg sy verskyning sal maak  moet staal nie, is 'n feit wat ek in 'n onlangse rubriek van Dan Roodt raak lees. Dit gaan oor Artikel 25 in die grondwetkontrepsie en dat Tertius Delport, een van die NP se onderhandelaars om die grondwetkontrepsie tot stand te bring, aan Roodt gesê die NP se hoofonderhandelaar, Roelf Meyer, het gesorg dat hierdie artikel, waarvan die Blanke se voortgesette eiendomsbesit in die land afhanklik is, ongewysig deur die ANC ingespan kan word om die Blanke van sy grond te beroof.

Dus: By watter oorwoë gevolgtrekkings vandag se beraad ook al uitkom en of hulle 'n Klipdrif en eish of 'n Johnny Walker na afloop van die beraad lig, Zuma en sy bende sal slegs gestuit kan word buite die grondwetkontrepsie. En dit, FW de Klerk, is onomkeerbaar.

 

Die FW de Klerk-Stigting se verklaring

NASIONALE BELEID BY DIE KRUISPAD

Die Konferensie sal die volgende oorweeg:

•             die aanbevelings van die onlangse ANC-beleidskonferensie binne die raamwerk van die Nasionale Demokratiese Revolusie

•             die ANC se beleidsaanbevelings en die Grondwet

•             die implikasies van die voorgestelde ontwikkelingsstaat

Die Konferensie sal ook spesifieke beleidsaanbevelings oor sekere belangrike onderwerpe oorweeg, insluitend grondhervorming; die kwessie van die staat wat private pensioen- en versekeringsfondse gebruik; kultuur- en taalregte en die toekoms van die provinsies.

Sprekers sluit in:

•             FW de Klerk

•             Premier Helen Zille

•             John Kane-Berman, hoof uitvoerende beampte van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge

•             Prof Francois Venter, dekaan van die regsfakulteit aan die NWU

•             Leon Louw, uitvoerende hoof van die Vryemark Stigting

•             Kallie Kriel, hoof uitvoerende beampte van AfriForum

‘n Volledige program sal volgende week beskikbaar wees.

Indien u graag die Konferensie wil bywoon, skakel asseblief vir Megan by 021 930 3622, of stuur ‘n e-pos na Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. teen 6 Julie 2012. Die koste is R400 per persoon en sitplekke is beperk.