Media

WAAROM NASIONALISME? 3

WAAROM KLOU BEHOUDENDE AFRIKANERS AAN NASIONALISME? WAT ÍS NASIONALISME? (Aflewering drie)

VERDRAAIING VAN DIE WERKLIKHEID.

Om oortuigend te kon redeneer dat apartheid ʼn sonde is, onderdrukkend in aard en euwel in uitvoering, moes die feitlikheid van etnisiteit oftewel rasverskil wat deur die term nasionalisme omskryf word, as fiksie of onwerklik gedefinieer word. Ten einde effektief daarin te slaag is die woord nasionalisme oor dieselfde kam geskeer as die ander –ismes soos Kommunisme, Liberalisme en Humanisme wat as abstrakte ideologieë bekend staan. In Engels as “fancyfull speculation”, iets wat nie werklik bestaan nie maar deur die mens uitgedink is om iets anders daarmee te bereik as wat die werklikheid en natuurlike verloop sou wees.

Deur nasionalisme dus as n ideologie te definieer, kon redeneer word dat mense se indeling nie volgens erkende rasse-eienskappe geskied nie maar volgens klasse. Indien die kerk en politici moes erken dat Nasionalisme op skeppingswette berus, is die veroordeling van afsonderlikheid, eiesoortigheid of apartheid dan nie moontlik sonder om in stryd te kom met God se skeppingsorde nie

.  Die oneerlikheid van hierdie benadering is nie minder verwerplik  as al die ander leuens wat verkondig word oor die skeidingsbeginsel wat nêrens in die Bybel opgehef is nie. Die bedenklikheid daarvan is die ooreenstemming wat bereik word met die ideologie van gelykmaking van die Liberalis en Kommunis en bevordering van hulle oogmerk om God se skeppingsdoel verdag te maak en te verydel.

POLITIEKE IMPERIALISME

In die verlede het magsugtige magstrewers van geweld gebruik gemaak om grondgebied, minerale, tegnologie, ens. te bekom en mense hulle vryheid ontneem deur volksmoord en konsentrasiekampe, verskroeide aarde beleid, anneksasie en gewelddadige onderdrukking.

Die Boerehater, Alfred Milner wat gesê het: “The South African struggle continues. It is no longer war with bullets, but it is war still”, het gekulmineer in ʼn politieke oorlog van misleiding en indoktrinering. Deur wanopgeleide teoloë en akademici, wat deur die propagering van “menseregte” en die implementering van ʼn “menseregte-akte”, groepsregte ondergeskik gestel het aan individuele regte, is die gelykmakingsproses gesanksioneer.  Daardeur is Nasionalisme in Suid Afrika as ʼn politieke mag feitlik uitgeskakel.  In hierdie proses was nie net die Britte nie, maar ook die Amerikaners diep betrokke.

Ongeag ras of kultuur is die etniese begrensing van volke verwyder en is daar ʼn beletsel geplaas op n volk om georganiseerd vir sy belange te stry.  Dit alles deur die aanvaarding van ʼn menseregte-akte wat die ideologie van gelykmaking sanksioneer en so op ʼn volk afdwing.

Dit was hierdie voorloperaksie van die wettiging van ʼn abstrakte en fiktiewe ideologiese gelykmakingsproses wat verset daarteen  ʼn misdaad gemaak het en die moontlikheid om die ondersteuners daarvan in ʼn verkiesing te verslaan, van die nasionaliste ontneem is. ʼn Bloedlose oorwinning vir die vyande van die Afrikanervolk wat die Britte en Amerikaners gebruik het om ʼn een-mens-een-stem verkiesing in Suid Afrika afgedwing te kry. Helaas ʼn oorwinning wat  Afrikaners oor onsself help voltrek het deur die geskiedenis en die rol wat nasionalisme daarin gespeel het gering te skat sodat die ideologie in teenstelling met nasionalisme die oorhand gekry het.

RIGTING UIT DIE GESKIEDENIS

Dr. Tobie Muller, ʼn teoloog en lektor aan die Universiteit van Stellenbosch skryf in 1913, ruim ses maande voordat daar ʼn Nasionale Party in Suid Afrika gestig was, dat as daar nie kontinuïteit in handelswyse en gewoontes van geslag tot geslag in ʼn volk is nie, val so ʼn groep mense in klompies uitmekaar. Dit is sigbaar wanneer Afrikaners breek met die tradisies van hulle voorgeslag dat hulle alle aanraking met hulle volk verloor en nie meer ʼn gevoel vir die waardes en belange van die nasionalisme het nie.

Dr. Muller skryf verder dat daar ʼn geheue moet wees om kontinuïteit moontlik te maak.  Terwyl herinnering van ons geskiedenis en tradisies gedeeltelik deur ons taal en mondelinge oorlewering van geslag tot geslag oorgedra word, is dit nie genoeg nie. Die geskiedenis van ʼn volk moet onderrig word om hulle geheue skerp te hou en hulle nasionale gevoel te laat groei.  Dit is dan ook duidelik waarom geskiedenis nou verdraai en verwater word om nasionalisme in die ban te doen en die lewensbeskoulike van die Afrikaner in die abstrakte te verstrik.

DIE LEWENSWET VAN ONGELYKHEID

In teenstelling met die abstrakte ideologie van gelykheid soos verkondig deur die Liberalisme en Kommunisme, is die waarneembare feitlikheid van ongelykheid n natuurlike uitvloeisel van die mens se samestelling waarvolgens sekere lewenspatrone ontwikkel en gehandhaaf behoort te word.

ʼn Onomstootlike realiteit is die ongelykheid van gesag van man teenoor vrou, ouer teenoor kind, ouderdom teenoor jeug, ervaring teenoor onkundigheid, ens. Dit bepaal verhoudings tussen mense sonder enige amptelikheid of wet wat dit hoef te reël. Dit bepaal ʼn hiërargiese orde wat n onveranderlike lewensbeginsel daarstel in menslike verhoudings wat as dit versteur word, onafwendbaar tot wanorde lei.

Die liberale benadering van gelykheid, vryheid en verandering, bots lynreg met die werklikheid van hierdie lewenswette en kan slegs deur wetgewing afgedwing word wat tot ongelukkigheid, weerstand en uiteindelik opstand lei wat dan gewelddadig onderdruk word deur  wetmatigheid wat verleen word deur wetgewing wat aangeneem is deur die bedrogvolle wyse waarop hierdie ideologieë tot moreel aanvaarbare uitgangspunte verhef is. In teenstelling word Nasionalisme oftewel die werklikheid as verwerplik en aanstootlik afgemaak.  Duideliker voorbeelde hiervan is die aanvaarding van homoseksualisme, aborsie, saamwoon buite die huwelik en derglike dinge, terwyl ander Skrifwaarhede verdag gemaak en selfs verwerp word om verwarring en verdeeldheid daardeur te bewerk.

POLITIEK AS INSTRUMENT VIR VERANDERING

Milner se stelling dat die oorlog teen die Afrikaner deur ander middels voortgesit sal word, sal deur die geskiedenis bevestig word as metodes van bedrog, verdraaiings, leuens en persepsies wat gebruik is om die waarheid in die leuen te omskep.

Deur daarin te slaag om in die beheerstrukture van die Afrikanervolk, verkose en vertroude leiersfigure los te maak van hulle geskiedenis en te korrupteer tot volksontrou oftewel verraad, het ons eie leiers in die politiek en in die kerk en in die skool, universiteit en teologiese fakulteite, stelsels en ideologieë gevestig wat daartoe gelei het dat verandering op sterkte van abstrakte en fiktiewe  ideologiese uitgangspunte, nasionalisme verdring het tot op die punt waar ons ons land verloor het.

Nasionalisme as instrument vir samehorigheid vir die vierde en laaste aflewering in ons beroep op die Afrikanervolk.