FEESREDE BY GELEENTHEID VAN KRUGERDAG IN DIE AMFITEATER, UNIEGEBOU, PRETORIA, 10 OKTOBER 1959
Ons gedenk ons helde. Dit beteken eintlik niks anders nie as dat ons hulle huldig wat alles wou gee aan hulle land en aan hulle volk. Dit is hulde aan die onselfsugtige volksmanne van die hele periode van ons jong geskiedenis!
As ons so in die dorre woestyn van ons alledaagse lewe staan, wil ons soms verder kyk na die beloftes oor die toekoms wat voorlê en na die ideale wat vir ons nagelaat is deur ons voorgeslag. Dan is dit asof tussen ons woestyn en daardie land van hoop, 'n bergreeks staan waar-agter ons nie net wil kyk nie, maar mettertyd ook beweeg. Die berg-reeks simboliseer die reeks van ons heldedom. Daar in die verre verte sien ons, half deur die newels versluier, toppunte in 'n bergreeks uitsteek wat ons tog nog kan herken.
Hulle is die helde van lank gelede: die stigters van ons land, die stigters van ons nasie. Tussen die newels deur sien ons die kruine uitsteek van hulle wat die binneland ingetrek het — die voorste Voortrekker — en nader, maar tog ook versluier — die eintlike Voortrekkers na hulle! In daardie hoë kruine sien ons nie net diegene wat gelei het as die staatsleiers nie, maar sien ons ook die geloofshelde van ons verlede, die wat die opvoeding aan ons volk gebring het, diegene wat vir ons gely het op die slagveld — om 'n land oop te maak, om 'n land skoon te maak, om 'n land vry te maak, om 'n land groot te maak!
Maar nader sien ons die blou berge wat helder in perspektief staan dog in die afstand deur die ruwe klowe reeds onsigbaar geword het. Dit is die helde van nie so lank gelede nie, die helde wat geleef het in 'n tyd van moeilikheid en stryd en wat onder mekaar seker ook maar die moeilikheid ondervind het soos ons onder mekaar vandag. En tussen daardie blou berge en die kruine deur, steek 'n bergspits uit, die hoogste top, die baken waaraan ons ons rig, waaraan hierdie volk hom sal rig tot in sy verste toekoms. Dit is Paul Kruger! Soos die hoogste top, sneeubedek weens die hoogte waarin hy reik, staan hy daar vir ons volk
.
Maar digterby sien ons berge met klowe en skeure in hulle rotswande wat, omdat ons nog naby staan, nie heeltemal in perspektief gesien kan word nie. Hierdie berge naby ons, maar berge nietemin, simboliseer generaal Hertzog, dr. Malan, adv. Strijdom! Vanaand gedenk ons by uitstek die twee wat naaste was, wat laaste heengegaan het.
In die lewe van elke volk loop daar 'n goue draad wat aandui waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan. Dit is 'n goue draad wat ons in ons volkslewe ook kan sien. Dit strek van baie vroeg in ons geskiedenis af, net toe ons begin het om 'n nasie te word. Vandaar af is dit voortgedra deur 'n idee van wat hier aan die suidpunt van Afrika tot stand moet kom: 'n eie blanke volk, 'n Christelike volk wat miskien die voorpunt moet wees en moet bly selfs in die swaarste van alle tye van die Blankedom met sy sending in die wêreld. So 'n goue draad wat die nasionale gedagte van 'n volk verteenwoordig, ryg deur die lewe veral van die manne wat geroep is om leiding te gee. Nou sien ons die goue draad voortgesit in die lewe van 'n Paul Kruger en ʼn president Steyn en 'n generaal De Wet en 'n generaal Hertzog en 'n dr. Malan en 'n adv. Strijdom, en andere wat u kan byvoeg in u eie hart. Dit is nie net die staatsmanne wat met die goue draad deurryg is nie; dit is die geloofsmanne, die opvoeders, die navorsers en al die bouers van die nasie. Maar ek het die name genoem om daarmee ook te sê dat daar leiers is, soms van groot formaat, wat nie mededraers van daardie volksgedagte kan of wil wees nie. Hulle is soos die los berge — losstaande van die bergreeks. Hulle is persone deur wie se lewens die goue draad nie ryg nie. Hulle raak vergete in die volkslewe omdat in die volksgedagte alleen bly vaskleef dit wat van nature aan hom diep-gebonde was. So moet ons ons eie volkslewe en eie volksgeskiedenis ook sien. Dit moet ons help om te weet hoe om ons in die toekoms te gedra. Ons moet ons meet aan die maatstaf van daardie manne met wie ons geskaar en gesnaar wil wees in die tye wat kom.
As ons ons lewens wil toets, dan het wat ek genoem het die sneeu-kruin in ons gebergte van groot manne, vir ons die maatstaf gegee . . .”Soek in die verlede wat goed en mooi is, vorm daarna u ideaal en probeer — probeer ten minste — om dit te verwesenlik." Wat is nou die mooie en die goeie in ons verlede?
Een van die eerste mooi dinge in ons volksgeskiedenis was tog sekerlik ons volkstrots en ons volkstrou. Volkstrots om met jou hele siel en met jou hele hart bly te wees oor wat jou volk presteer! Om, wetende dat hy klein is in die ry van volkere, hom tog die hegste te hê en nie te hunker om aan enige ander volk te behoort nie! En volkstrots gaan gepaard met volkstrou; want waarop jy trots is, wat jy liefhet in sy wel en sy wee — in wie se voorspoed jy wil deel en in wie se teen-spoed jy sal berus — daaraan is jy getrou.
'n Ander deug van die verlede was volharding. Moes ons voorvaders nie volhard het om vir ons na te laat hierdie land wat ons beërf het nie? Groter volharding as wat die vroegste pioniers, die skeppers van ons staat, moes beoefen, kan daar nouliks van mense geverg word.
Volharding in die stryd was een van die kenmerke wat so mooi en so goed was in daardie verlede en dit was tog sekerlik ook 'n kenmerk van die leiers wat ons onlangs ter ruste gele het — dr. Malan en adv. Strijdom. Sou ons nie ons volkstrots en ons volkstrou ook aan hulle lewe mag meet en soek om dit te ewenaar nie? Sal ons nie ook die volharding aan ons volk wil skenk wat hulle twee aan hulle volk in hulle lewens geskenk het nie? Die een in 'n lang lewe — die ander in 'n lewe helaas, so gou, so kort geknip!
Vooruitstrewendheid was 'n derde van die groot trekke van daardie verlede. Ek weet dat gesê is dat Paul Kruger ʼn konserwatiewe ou boer was wat nie sy staat wou laat ontwikkel nie; maar ek weet ook dat die geskiedenis die bewering as onwaar bewys het. Dit is waar dat hy in verset gekom het teen bepaalde uitingsvorme van vooruitstrewendheid. Maar dit ken ons vandag ook. Dit seil soms onder die naam van liberalisme en in sy tyd ook was die prysgawe van die eie heil, die prysgawe van die eie volksbestaan as vooruitstrewend beskou. Jy sou in die rang van die volkere hoog geag kan word as jy jou vryheid en jou aansien prysgee, as jy nie net 'n klein volk wou wees nie maar 'n deel van 'n groter geheel. Daardie vorm van vooruitstrewendheid was vir hom ewe onwelkom as vir ons vandag. Maar sy land wou hy ontwikkel. Sy land wou hy die toegang na die see gee. Sy kinders wou hy opvoed vir die nuwe tyd wat sou kom. Hy was vooruitstrewend! Hy was vooruitstrewend as vaderlander, as die vader van sy volk, as die skepper van sy nasie se toekoms binne sy eie landsgebied. En so wil ons ook vooruitstrewend wees en nie anders nie.
En daaraan het hy eensgesindheid gekoppel. Eensgesindheid het hy in hierdie laaste boodskap, vanaand nog aan u voorgelees, self vooropgestel as 'n grootse ideaal, as die mikpunt van 'n volk wat wil voort-bestaan en voortbou: “Eendrag maak mag" — die leuse wat ons volk nooit mag versaak me.
En nou, weer terugskouend na die twee leiers so onlangs heengegaan: was vooruitstrewendheid en die soeke na eensgesindheid nie ook hulle leuse nie? Was dit nie meer as 'n leuse by hulle nie? Was dit nie die strewe van hulle lewe nie? Albei, dr. Malan en adv. Strijdom, het vir die groei van ons land, vir sy voorspoed op alle terreine, alles ingewerp wat hulle kon. Vir die saambring van die volk was hulle bereid om alles anders prys te gee.
“Bring bymekaar wat bymekaar behoort" -— die bekende leuse wat dr. Malan aan Suid-Afrika gegee het, sal ook in ons lewe vorentoe 'n deug van die verlede wees wat mooi en wat goed is. En laat ek dit byvoeg: “bring bymekaar wat bymekaar behoort" kan miskien tot nog toe slegs in beperkte kringe verwesenlik word, maar as ons volkslewe groei, as ons vryheidstrewe tot sy voleinding kom, sal daardie leuse uitstrek ook buite die taalgrense in ons land. Dan sal daar veel meer wees om bymekaar te bring en hulle sal almal bymekaar hoort omdat hulle almal alleen aan Suid-Afrika behoort.
“My volk moet 'n vrye volk wees," het Paul Kruger gesê en daarmee 'n mooi en skoon ideaal uit die verlede aan ons gelaat. Vir 'n vrye volk en 'n vrye staat het hy geywer. Hy het begin aan die opbou daarvan toe daar niks was nie. As Jong man het hy help ontgin; as ou man moes hy daardie vryheid prysgee. Maar sy lewe was daaraan gewy. Is dit nie ook wat ons twee leiers, onlangs heengegaan, as die doelwit van hulle lewe gestel het nie? Hulle mog dit nie beërwe nie. Laat ons dan probeer om in ons lewe dit reg te kry. Maar vryheid is nie alleen iets wat duur gekoop word nie, is nie alleen iets wat offers vra nie — dit is iets wat deur die hart en die verstand aanvaar moet word en wat nie net aan jou leiers oorgelaat kan word nie. Jou volk sal dit vir hom moet toeëien!
Maar dan het Paul Kruger ook nog na iets anders verwys wat mooi en goed is. Hy het gesê: “My volk moet 'n Christelike volk wees." In die geloof het hy gelewe; uit sy geloof het hy regeer. Vir hom was die Bybelboek sy rigsnoer en hy het verlang dat dit ook sy volk se rigsnoer sal wees. Was dit nie ook die rigsnoer van die lewe van die twee leiers wat ons vooruitgegaan het nie? Die een 'n kerkman voor hy staatsman moes word — die ander man 'n liefhebber van sy kerk, so diep soos 'n mens in jou lewe kan hoop om aan te tref. Albei wou dien maar het hulle diens aan hulle volk ondergeskik gemaak aan diens aan hulle God.
Vriende, ek het vir u 'n paar van die mooie en die skone uit die verlede probeer stel, veral in die lewenstydperke van presidente Kruger en Steyn en soos geprojekteer in die onlangse verlede wat ons veral vanaand gedenk. Maar nou berus dit by my om daaruit 'n lering te trek. U weet dat die rigters van Israel nie net verskuldig was om te regeer nie; hulle moes ook waarsku en vermaan. En nou pas dit ons vandag ook, en veral op dae soos hierdie, om van diegene wat ons moet lei ook waarskuwings te ontvang, sodat ons werklik van ons toekoms kan maak die verwesenliking van die belofte wat die verlede inhou.
Ek wil net 'n paar woorde tot u rig oor twee van hierdie goeie en mooie om daaruit lering te trek. Ek het gesê dat Paul Kruger wou gehad het dat sy volk 'n vrye volk moes wees, en dat dr. Malan en adv. Strijdom se lewensstrewe was om te help dat ons in die voller sin van die woord 'n vrye volk sal word hoewel ons dit in staatkundige opsig in 'n hoe mate, en miskien amper die hoogste mate, reeds is. Maar om 'n vrye volk te word, beteken nie net dat die leiers of die regering die volk staatkundig selfstandig moet maak nie. As die volk innerlik dit nie verdien nie, nie gedissiplineerd is nie, nie gereed is om hom in te span en te ywer nie, as hy gereed is om diegene te verwerp wat hom tot inspanning oproep om van sy vryheid iets waardigs en vol te maak, dan verdien die volk sy vryheid nie. Bloot staatkundige onafhanklikmaking in republikeinse vorm is nie die end van ons strewe nie. Die land moet ook selfstandig wees op ekonomiese gebied in die hoogste mate waartoe 'n volk in die huidige wêreldorde selfstandig kan wees, Dit is noodsaaklik dat ons die vryheid wat ons wil hê, sal bevrug deur die werk van ons hande en die arbeidsaamheid van ons gees; dat ons deur die soek na kennis en deur die onselfsugtige diens aan ons staat, sal wys dat ons verdien om republikeine genoem te word.
Maar dan wil ek 'n tweede voorbeeld noem. Ons het gesê Suid-Afrika moet blank wees. Ons wil — en ons hele politieke strewe is daarop gerig om te sorg dat billikheid en reg teenoor blanke en nieblanke geskied, maar dat ons ons blanke landsgebied alleen sal bestuur. Dit is egter nie genoeg as ons politieke leiers dit so vir ons verkry nie. Ons moet — en dit kan die politieke leier nie doen nie, en dit kan geen wet op die ou end doen nie ■—■ ons moet, almal moet, ons volk blank hou. As ons met bewondering terugkyk na hoe die voorgeslag deur die reinheid van sy lewe aan ons 'n blanke volk nagelaat het, dan moet ons besef dat dit ons taak is om ook deur 'n reine, sierlike lewe, 'n blanke volk hier in stand te hou. Groot is die pyn en die smart van enige gesin en enige vriend wanneer gesondig is teen hierdie hoogste wet. Maar groter nog is die pyn en die skade vir 'n volk wanneer van sy kinders gesondig het teen sy bloed.
H.F. Verwoerd
