DIE OEPPS VAN DIE AFRIKANERS
In die bylaag Weekliks, onder redaksie van Pieter Malan, is die opskrif op die voorblad,
“RIGTINGBEDONNERD”. Dit is die titel van n boek geskryf deur n Nederlandse joernalis, Fred de Vries, wat volgens die berig reeds tien jaar in Suid Afrika woon en n intense belangstelling in die Afrikaners het. Blykbaar is hy die mening toegedaan dat die Afrikanervolk nou na ’94 verward is oor welke rigting die regte is vir die Afrikaner om te volg.
Om onder die indruk van rigtingloosheid te kom deur bv. Pieter Mulder, Dan Roodt, Steve Hofmeyr en Flip Buys se politieke sienings te be-oordeel, is werklik nie vreemd nie. Die gemene deler by hulle is dat hulle al vier apartheid as n fout beskou en derhalwe daarmee n streep trek deur die Afrikaner se geskiedenis!
Sonder daardie anker verg dit nie meer politieke insig as dié van Zuma of Malema om polities jou rigting te verloor nie. Om die waarheid te sê, sonder daardie anker in Suid Afrika, is daar nie n enkele lewensterrein waar jy kan seker wees of die rigting wat jy ingeslaan het, jou by die verwagte bestemming sal uitbring nie.
De Vries se vertolking van hierdie vier karakters is in volgorde opportunis, ekstremis, populis en pragmatis. Die eerste letter van elk spel OEPPS! Dit is wat hy gekry het toe hy hulle as verteenwoordigend van die Afrikaner beskou en hulle uiteenlopende ankerlose politieke sienings gebruik het om die Afrikaner te be-oordeel. Dat Afrikaners polities verdwaal het sal ek de Vries gelyk gee. Dit het egter nie ontstaan na ’94 nie. Dit strek van John Vorster se tyd af toe ons volk mislei is en in goedertrou agter verkose leiers aan gevolg het wat soos hierdie vier genoemdes, in die geheim reeds apartheid afgesweer het.
Die kern van die Afrikanervolk is egter koersvas en steeds nasionalisties gebonde om eiesoortigheid te handhaaf. Ons volk is verdwaal en verdeeld vanweë die doelbewuste en planmatige wyse waarop daar sedert die moord op dr. Verwoerd te werk gegaan is deur die Huntington resep van die skep van persepsies van optrede in volksbelang terwyl die teenoorgestelde die oogmerk was. Diep onder in elke Afrikaner se gemoed brand die vlam van nasionalisme steeds onblusbaar! Daar mag by dié wat geloof verloor het of selfs net swak is in die geloof, veral diégene wat hulle geskiedenis vergeet het en dan soos OEPPS redeneer, twyfel bestaan oor die moontlikheid om weer vry te wees.
Die AVP wil dit weer onomwonde stel dat dit vir God nie daarop aankom om deur baie of deur min te verlos nie! Moet nie op prinse vertrou nie en moet veral nie dat die kerke u verdwaal oor die skeidingsbeginsel, wat terloops niks met rassisme uit te waai het nie! Glo in God, glo in jou volk en glo in jouself, het dr. Malan gesê. Dit is dan wat jou wil om te stry vir dit wat jy is en wat jy het by opportunisme, ekstremisme, populisme en pragmatisme verbygaan in die vorm van nasionalisme wat ons vasbind aan God en volk en vaderland. Dit is eers wanneer jy die wil om te stry verloor het wat jy die stryd sal verloor soos Oepps wat tóg graag Afrikaners wil wees maar hulle rigting verloor het!
Danie Varkevisser.
16 Julie 2012
