Media

MULDER EN MINDERHEDE

onse Piet is voorsitter van omtrent die helfte van die niksbeduidendste.

Iemand lewer kommentaar op 'n besoek aan België deur dr. Pieter Mulder, Vryheidsfront Plus-leier, om 'n vergadering van 'n organisasie vir sogenaamde minderhede by te woon (uit Engels vertaal en hier onder aangeheg):

“Joe! Al hierdie ryery, seminare, komitees, vergaderings... en onse Piet is voorsitter van omtrent die helfte van die niksbeduidendste. Laat my my orakel raadpleeg om vas te stel hoe sy jongste skuif inpas by 'n loopbaan gebou op verklarings en strategieë wat voldoende leweskeppend was om die voortgang van wat eintlik 'n geheel en al steriele loopbaan is te verseker.

 

“Dit skyn dat Piet hom posisioneer vir die opeis van voogdyskap van Afrikaner-aangeleenthede, sowel as te word die klaarblyklike leier van alle minderhede. Dis reg, neem kennis daarvan, in die woorde van die hoogwaardige lid van die Parlement self moet hy beskou word as nie net Afrikaner-verteenwoordiger nie maar insonderheid verteenwoordiger van 'minderhede'.

“Dus lig die orakel my in dat onse Piet sy volgende jaar sal spandeer as 'n soort algemene toevlug  ten opsigte van die behoeftes van die Minority Front (dit sal die Moodleys wees wat dié minderheid is) en WIMSA (hul belang die behoeftes van die San). Hy sal ook die Venda en die Sjangaan verteenwoordig – albei ook minderheidsgroepe – en ook wees die filantropiese selfaangestelde segsman vir die uitgeweke gemeenskappe van waar ook al oorkant die Limpopo.

“Dus, met die versending van die volgende stapel handboeke sal die kinders vra:

Wie was Dotter Piet Muller? Antwoord: Weet nie.

Wat het hy gedoen? Antwoord: Besig gebly.

Wat het hy bereik? Antwoord: Weet nie.

Wie het hy verteenwoordig? Antwoord: Is nie seker nie... Piet self?

Wat was sy doelstellings? Antwoord: Hy het geen gehad nie. Dit sou hom vasgepen het en hom verantwoordbaar gemaak het.”

Nou laat hierdie kommentaarskrywer vir dr. Pieter, maar ook sy broer Corné troos: Dit gaan darem nie so bar met hul politieke loopbane nie.

Ek betrek dr. Corné by die rasionalisasie wat in die klompie paragrawe wat volg voorkom deurdat dr. Pieter en dr. Corné nie net broers is nie, hulle is vinkel en koljander, die een soos die ander. Met dr. Corné wat dalk net so effens minder as dr. Pieter is, klaarblyklik omdat dit 'n geval is van 'n ouboet en kleinboet, en, soos dit vir my lyk, sedert Chris Louw die Afrikaner-politiek met sy boek, Kleinboet is die bliksem in, getref het, kleinboet wat ook in hierdie geval telkens dreig om sy humeur te verloor.

Die karaktertrekke van hierdie twee broers het met meer as hul akademiese voorbereiding vir die politieke loopbane te doen, dr. Pieter die diplomatiese kommunikasiekundige, dr. Corné wat skynbaar skopbok lesse en ander gevegskunste bemeester het tussen die bitter min vrye tyd wat hy op Potch gehad het terwyl hy hom as staatkundige van die hoogste orde voorberei het.

Ek was bevoorreg om die oggend toe dr. Corné, pas in die Kaap aangeland nadat hy die kiesafdeling Randfontein in 'n tussenverkiesing vir die Mulder-clan behou het, in die hysbak van die Parlementsgebou na dr. Corné se nuwe kantoor op die tweede vloer ry, dr. Pieter ook by.

Dr. Corné was soos 'n opgehitste veghond, dr. Pieter wat as't ware met 'n leiband daar gestaan het, ouboet se lyftaal wat vir kleinboet maan: Pas op, Corné! Hierdie is 'n ander hondehok! Onthou wat met Pa gebeur het!

Dr. Pieter en dr. Corné se pa was dr. Connie.

Nou is dit nodig vir 'n verstaanbare rasionalisasie dat daar op die geskiedenis terug geloop word en ook  by die loopbaan van dr. Connie stilgestaan word.

Ek is na die 1987-verkiesing as verslaggewer na die Parlement en kon dr. Connie Mulder tot en met sy dood aan kanker in Januarie 1988  as LV vir Randfontein, in debatte in aksie sien. Hy was natuurlik die hoofslagoffer van die sogenaamde Inligtingskandaal, vandaar sy verhuising uit die NP na die KP.

Hierdie Inligtingskandaal was niks anders as 'n bedekte staatsgreep nie en ek verlaat my op wat IJ Strijdom in sy boek, Anneksasie van die volksiel (bl. 10) skryf waarin Strijdom vir die destydse Amerikaanse onder-minister van buitelandse sake vir Afrika, dr. Chester Crocker, soos volg aanhaal: “Since taking office in 1978, (PW) Botha and his coalition have been carrying out the equivalent in Afrikaner nationalist terms of a drawn out coup d'etat.”

Daardie staatsgreep het al voor 1978 begin toe daar van dr. Connie Mulder en sy hoofluitenant by Inligting, dr. Eschell Rhoodie, ontslae geraak is met behulp van die Inligtingskandaal.

Met dr. Connie Mulder terug in die Parlement, hoewel nou as KP-Volksraadlid, kon P.W. Botha nie gerus slaap nie. Die planne van Botha en sy bondgenote was klaarblyklik dat dr. Connie of koud gelei word deur hom in die KP as 'n soort losloper te brandmerk en te isoleer, of, wie weet, hom na die NP terug te lok.

En dit was ook nie lank nie, of die Volksraad hoor hoe dr. Mulder deur die NP besing word as die enigste KP-volksraadslid met 'n visie na aanleiding van 'n onderhoud wat dr. Mulder met 'n Engelse publikasie gehad het waarin dr. Mulder hom uitspreek ten gunste van Afrikaner-tuisland met die naam “Southland” of op Afrikaans dan “Suidland”.

Aan hierdie stukkie aas het dr. Connie Mulder nie gebyt nie.

In Januarie 1988 is hy oorlede en dr. Corné het Randfontein in 'n tussenverkiesing gebuit en is in Maart 1988 Volksraad toe.

Uiteraard met drome en versugtinge. Een daarvan om sy pa se politieke teenstanders op hul plek te sit?

Dat hy, en sy broer Pieter, nie hul pa se drome en versugtinge vergeet het nie, dis onmiskenbaar vervat in die VF Plus se doen en late, hoewel die strydbyle wat P.W. Botha en sy makkers betref, blykbaar nou begrawe is.

Van dr. Connie Mulder se drome was 'n suider-Afrikaanse streekskikking.

Een van die onvergeeflike stukke leed wat P.W. Botha vir dr. Connie aangedoen het was om op sy en dr. Rhoodie se bloudrukke vir 'n suider-Afrikaanse streeksontwikkeling beslag te lê, daardie planne wat voortgevloei het uit John Vorster se sogenaamde détente (of uitwaartse beleid) met Afrika en selfs tot in Israel. Vir so 'n suider-Afrikaanse streeksontwikkeling is uiteindelik 'n Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsbank en 'n Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) daargestel, baie potente ondernemings vir die tyd van tussen die 1970's en vir die toe afsienbare toekoms, sê maar tot die jaar 2000.

Hoe potent?

Soveel so dat dit in hoogste internasionale beraadslagings opslae gemaak en selfs tot geheime onderhandelinge tussen die Rooi Chinese, Richard Nixon en Henry Kissinger aanleiding gegee het en waaruit planne gebore is om tot elke prys die ontwikkeling van 'n Suider-Afrikaanse super-nywerheidkompleks onder leiding van die Afrikaners af te weer. Dit is met hierdie ooreenkoms as agtergrond dat die Amerikaners, onder leiding van Henry Kissinger, se verraad teen die SA Weermag, in opmars in Angola, beskou moet word, die beplanning so geplooi dat Rooi China as die derde hond op die agtergrond met die been sou wegloop, selfs Rusland wat in die proses gesnoep is.

Maar dis lank nie meer die jaar 2000 nie...

Die najaag van 'n super suider-Afrikaanse nywerheidstreek kan net die Rooi Chinese ten goede kom, Indië, soos Rooi China met 'n dermiljoene oortollige bevolking waarvan hulle ook graag in Afrika ontslae sou wou raak, 'n kortkop agter in die ry.

Terselfdertyd is daar 'n swart mag in die Christen-Westerse bakermat, in ons stamlande, aan die ontwikkel. Hierdie swart mag span saam met Asiatiese lande, die oordonderende kenmerk van hierdie Asiate dat hulle Moslems is. 'n Afro-Asiatiese magsblok dus.

 

Ras-, geloofs- en volksgetroue Europeërs is wel besig om die kop op te tel in Wes-Europa, op die oomblik nog word hul egter as  randverskynsels, die lunatic fringe en mense wat 'n klap van samesweringsteorieë weg het, beskou.

Die Protestantse Afrikaner moet vir die huidige, mense, groepe en partye soos die Britse Nasionale Party, die Nederlandse Partij voor de Vrijheid, Vlaams Blok in België en die nasionaliste in Frankryk, Duitsland, Swede en Noorweë inlig en op hoogte bring met wat in Suid Afrika besig is om te gebeur onder die vaandel van “democrasy”. Die inligting moet so wyd as moontlik versprei word, van Ysland in die noorde tot Vuurland aan die punt van Suid-Amerika, van die Noord-Amerikaanse yssirkel tot Nieu-Seeland “down under”, elke plek waar die nageslag van Jafet, ofte wel die Kaukasiër, sy voet neergesit het en hom nou probeer handhaaf teen 'n wêreld wat hom wil transformeer tot 'n Wit niks van 'n enkeling.

Of ons hier in Suid-Afrika dan nou in die woorde van 'n Tommy Bedford, destyds in die 1970's in Britse empaaier-verband, 'n last oupost sal word, skitterend in isolasie?

Nie in hierdie tegnologiese eeu van kommunikasie, lug- en skeepsvaart nie.

Destyds, toe Mosambiek nog 'n Portugese kolonie was onder Salazar was die deursnee Portugees in Mosambiek se houding “aqui Portugal”. Plakkate aan openbare geboue in Mosambiek het hierdie strewe so uitgedruk: “Mosambiek is slegs Mosambiek omdat dit Portugal is”.

Die Afrikaner se houding in  Suid-Afrika moet wees, dis slegs  Suid-Afrika omdat dit protestants Westers is; Suid-Afrika moet ons Blanke land wees en ons sal ons nie daaroor skaam nie.

As dr. Pieter Mulder in die buiteland met sogenaamde minderheidsgroepe op hierdie grondslag aansluiting kon vind, kan die behoudende Afrikaner nie beswaar hê nie.

Hoe ver hy egter in sy soeke na gemeenskaplike grond met ander sogenaamde “minderhede” moet gaan, daar lê die knoop.

Om byvoorbeeld gemeenskaplike grond te soek met die Dalai Lama van Nepal, 'n Boeddhis wat dromery, ure sittend op sy agterkant, peins noem en die pyn en ongemak wat daaruit voortvloei karma terwyl almal tog weet dis niks anders as 'n pyn in die g-t nie. Of gemeenskaplike grond met die koppesnellers van Borneo sodat hulle hul baie bepaalde eetvoorliefdes sonder internasionale inmenging kan beoefen.

Hierdie voorbeelde word bloot genoem om te wys dr. Mulder kan, soos die kommentaarskrywer wat aan die begin aangehaal is, sake te ver voer in sy uitreikpogings.

As hy 'n georganiseerde Christelik-Westerse drukgroep help skep, goed, hierdie “Christelik” is die voorvereiste ook om verskynsels soos die Skin Heads en Wica-hekse uit die prentjie te hou.

Dat dr. Mulder hom vir so iets sou beywer, is egter valse hoop. Valse hoop deurdat 'n waarnemer soos Dan Roodt ná VF Plus-vergaderings rapporteer hy het vergeefs gepleit dat die VF Plus hom eerder op die verkryging van die Afrikaner se volksregte moet toespits in pleks van die nuttelose minderheids- of gemeenskapsregte waarvoor die VF Plus hom beywer. En dat sy, Roodt, se standpunt met 'n oordonderende meerderheid deur die VF Plus afgelag is.

 

DIE BERIG OOR DR. MULDER SE BESOEK:    

Donderdag, 12 Julie 2012 12:23

"Dit is belangrik dat die probleme wat minderhede in Suid-Afrika ondervind nou reeds in die buiteland bekend gestel word al irriteer dit tans die ANC. Dit is 'n versekeringspolis vir die toekoms," het dr. Pieter Mulder, VF Plus leier, na 'n besoek aan België gesê.

Dr. Mulder het in België onder andere onderhoude gevoer met Piet de Bruyn, Belgiese senator en Karel Uyttersprot, lid van die Belgiese Federale Parlement.

"Die wêreld moet op hoogte gehou word van die positiewe en negatiewe gebeure in Suid-Afrika. Dit is deel van die internasionalisering van Suid-Afrika se situasie. As daar 'n krisis in Suid-Afrika sou kom, moet die internasionale wêreld ingelig wees ten einde die nodige besluite betyds te kan neem. Dit is te laat om tydens 'n krisis eers te begin met 'n buitelandse inligtingspoging," volgens Mulder.

Positiewe verwikkelinge soos die nuwe taalwet in Suid-Afrika asook die toename van korrupsie, misdaad en die negatiewe ekonomiese gevolge van regstellende aksie is tydens die gesprekke bespreek. Moontlike opvolgaksies is ook met die Parlementslede bespreek

"In Brussel het alle strate twee name ten einde die Frans- en Vlaamssprekende dele van die bevolking te akkommodeer. Die Belge het meer begrip vir die probleme in Suid-Afrika vanweë hulle eie taal- en kultuurverskille," het Mulder gesê.

Dr. Mulder het ook die veertiende vergadering van die UNPO presidensie in Brussel bygewoon. By die vergadering het hy die aanwesiges ingelig oor die algemene politieke toestand in Suid-Afrika, oor die huidige posisie van Afrikaans asook oor geweld en plaasmoorde.

Dr. Mulder is in 2009 tydens 'n kongres in Rome tot lid van UNPO se dagbestuur verkies. Die huidige UNPO president, Ngawang Choephel, is van Tibet. UNPO is 'n internasionale organisasie wat optree in belang van minderhede regoor die wêreld. UNPO het tans ongeveer 50 lede wat meer as 200 miljoen mense van regoor die wêreld verteenwoordig. (Vir meer info oor UNPO kyk http://www.unpo.org)