Media

DIE AFGROND TUSSEN NASIONALISME EN LIBERALISME

DIE AFGRONDELIKE VERSKIL TUSSEN DIE BEHOUDENDES EN DIE VERLOOPTES WAT DIE RAS-,VOLK- EN NASIEKONSEPTE BETREF.

 

'n Belangrike rede waarom Afrikaner-volksgerigte organisasies ervaar dat hulle verby die AfriSol/Naspes/NG Kerk/DA-sameswering redeneer, is die afgrondelike verskil tussen die behoudendes en die verlooptes wat die ras-,volk- en nasiekonsepte betref.

Moet die Afrikaner hom nog langer verwonder oor die feit dat linkses nie die volksmoord op die Afrikaner wil erken as daar wat hulle betref nie eens iets soos 'n Afrikanervolk is nie?

In die beredenering van die AfriSol-beskouing van die van-dag-tot-dag-gebeure in ons land maar ook internasionaal, verloor waarnemers aan die behoudende kant uit die oog  Flip Buys, Kallie Kriel, Dirk Hermann, Danie Langner, en deesdae ook Ernst Roets, het afskeid geneem van  die ras-, volk- en nasiebeskouing soos die behoudende Afrikaner dit verstaan en trouens dit tot openbaring kom in dit wat die Afrikaner daagliks in die gezanifikeerde Suid-Afrika hom sien afspeel.

 

Wat dus ervaar word is soos die Engelse uitdrukking dit te kenne gee: Twee mense kyk uit die tronk, een sien tralies, die ander sterre.

Dis in elk geval die verklaring wat hierdie waarnemer het wanneer hy uiteenlopende reaksie en verwarring oor 'n SAPA-berig op 'n Afrikaner-kletswerf probeer verstaan. Nie slegs het die SAPA-verslaggewer vir Ernst Roets in 'n gesprek oor 'n Swart slagoffer verkeerd verstaan nie, Roets self kla ook dat kommentaarskrywers die kat aan die stert beet het in hul reaksie, hulle is dus besig om oor 'n stooipop te redeneer wat die SAPA-skrywer (seker onbedoeld) opgestel het.

Maar kon die kommentaarskrywers dan anders reageer op 'n, dan nou beweerde uitlating, van Roets teenoor die SAPA-beriggewer. Dat Roets sou verklaar het sy organisasie (AfriForum) steun die ANC-hoofkierieswaaier Jacob Zuma se stelling dat “plaasmoorde” nie rasgedrewe is nie

Die feit dat daar meer as 'n spraakverwarring tussen AfriSol en die behoudende Afrikaner heers, sal selfs Roets nie meer kan ontken nie.

Roets, blykbaar nou bevorder tot 'n hoër rang nadat hy sy toetrede tot die openbare lewe as 'n sogenaamde AfriForum-jeugleier gemaak het, se baard is klaarblyklik nog te sag vir die eise wat die Suid-Afrikaanse politiek stel.

Dat hy politiek naïef is, is gewis.

Dit geskryf, voel hierdie waarnemer, is 'n woord van vermaning gerig aan Roets dalk gepas. Hy moet versigtig wees dat Buys en sy ander senior trawante hom nie vir die politieke wolwe gooi nie.

Want dis nogal opvallend dat Buys en sy trawante deesdae hul lywe skraal hou wat die openbare gesprek betref, Buys wat in sy laaste beurt op sy seepkis-platform by die Naspes-liegfabriek, dis nou in die koerant Rapport, 'n redenasietjie aanmekaar getimmer het wat nie eens as kleedkamerpraatjie vir onder 13-rugbyspan kan dien nie.

Van Herman en Langner hoor 'n mens deesdae glad nie. En vir Kallie Kriel se volgelinge op die Siembamba van die Suid-Afrikaanse politiek is daar nog 'n hele paar slapies oor voor hy eers weer op 25 Julie saam met medebendelid FW de Klerk sy buiging op 'n openbare forum maak wanneer hy wyshede gaan kwytraak oor die nou al bebaarde beleids- en samehorigheidskonferensies van die ANC.

Op daardie konferensie, waar bekende linkses soos Francois Venter, Leon Louw, John Kane-Berman en die nimlike FW de Klerk van Rooi Vrydagfaam self sal optree, kan jy gaan aansit vir opgewarmde ou groente uit die yskas vir 'n nie te geringe fooi van R400. Diegene wat gedink het hulle wil daardie ja-broer-geleentheid bywoon, gaan wissel daardie R400 vir tien-rand-note, gaan staan dan onder 'n lekker warm stort en skeur die note in flentertjies dat dit in die riool wegspoel, dis groter waarde vir u geld as om na hierdie uitgediende politici te luister, moet nou net die riool in die proses verstop nie.

Wat die ras-, volk- en nasiekonsep betref...

Die geykte, en korrekte, opvattings van hierdie konsepte is mos internasionaal finaal in die ban gedoen toe George Bush senior in sy berugte “thousand points of light”-, New Age-toespraak in 1990 braaf aangekondig het: “There will be a new world order.”

Elke ras, volk en taal moes in die beplanners van dié “new world order”, 'n aksie wat ook bekend gestaan het as globalisering, finaal plat geloop, elke ras-, volks-, taal-, godsdiens- en stamgrens ook in die proses uitgewis word.

Daar was uiteraard reeds in elke uithoek van die aardbol sagmaakwerk en voorbereidings gedoen vir die Global Village waarin elkeen in utopiese onvrede sou tuiskom. In ons land was hierdie sagmaakwerk onder die Afrikanervolk veral op geestelike en kerklike vlak nodig. In die NG Kerk, die getalrykste Afrikanerkerk, het ras, volk en nasie, kan ons maar skryf, letterlik in die spervuuur gekom toe hierdie kerk se beleidstuk getiteld Ras, Volk en Nasie, vervang is deur Johan Heyns se Kerk en Samelewing.

Wat die harde politiek betref is die sluiphervormerghoeroe Samuel Huntington uit Amerika afgevaardig vir die netelige taak. In tandem daarmee het PW Botha en sy getroues in rat en met gesonde(!) magsdeling en die Driekamerparlement  gekom. Die globaliste se taktiek was om Huntington se “reform by stealth”-program openlik en by wyse van lesings in ons land van stapel te laat loop. Nog 'n kêrel wat 'n adolossente gevolg gehad het asof rasende tieners wat agter die toenmalige Boy Georg aantrek, was Clem Sunter van Anglo American. Jongie, Suid-Afrika gaan met die New World Order in swang blom soos 'n tulpetuin in Holland, het Sunter sy goedgelowige gehore belowe.

Toe kom daar kakiebos op.

Of, soos dr. HF Verwoerd, en les bes FW de Klerk in die Nasionale Party se Skietgoed van 1977 voorspel het, 'n kommunistiese tirannie aangevuur deur oorweldigende Swart getalle. Suid-Afrika verander in een troostelose en uitgestrekte bantustan.

Dis dus duidelik daar is spraakverwarring tussen die behoudende en die verloopte Afrikaners, die Roets-verklaring wat dit finaal bevestig.

Die behoudende Afrikaner het nou maar een maal sy eie politieke jargon. Of bendetaal as u wil.

'n Debat onlangs waarin ene Johan van der Merwe die lesers op 'n internetkletswerf na die oorspronlike betekenis van woorde soos liberaal en liberalsme aan die hand van woordeboeke probeer teruglei, versterk hierdie indruk. Sekere woorde en begrippe het 'n erosie ondergaan, ander het weens die mos en aanpaksels van die tyd en belewings met woorde soos “hervorming” en uitdrukkings soos “gesonde magsdeling”, nuwe betekenis gekry.

Laat dit wees soos dit wil.

Een ding staan egter soos 'n paal bo water: Ernst Roets, Flip Buys, Dirk Hermann, Danie Langner en Kallie Kriel praat die taal van 'n ander bende, die bende van Helen Zille, John Kane-Berman en FW de Klerk.

Daardie bende hou vlymskerp messe onder hul klere verberg, daardie messe téén die Afrikanervolk geslyp.

Vredeliewend soos die behoudende Afrikaner is, wil hy in hierdie laat stadium nog vir Roets, Buys, Kriel, Langner en Herman maan: Gooi weg daai messe!

Want daar kom 'n dag, een wat die behoudende Afrikaner nog tot op dag en datum probeer uitstel, dat dit nie net meer sal gaan oor lang en vermoeiende politieke begrippe nie.

Daardie dag dat jy op bloot die uitspraak van 'n woord beoordeel sal word.

Die dag dat julle sjibbolet sal moet sê.   

DIE SAPA-berig:

Die onlangse moord op die swart plaaswerker, Frans Modisa, 'n 52-jarige van Ventersdorp, is 'n rede waarom plaasmoorde tot 'n prioriteitsmisdaad verklaar moet word, sê Afriforum. Dié organisasie het pres. Zuma se stelling dat plaasmoorde nie rasgedrewe is nie, ondersteun.

AfriForum het 'n beroep op die staatspresident en die minister van polisie gedoen om plaasmoorde soos renosterstropery te prioritiseer.

AfriForum het die moord op die swart Modisa betreur en president Jacob Zuma se kommentaar aan Volksblad beaam dat dit nie net wit boere is wat op plase vermoor word nie.

Roets het bygevoeg dat AfriForum Modisa se moord sal voeg by sy lys van plaasaanvalle wat sedert 1990 in Suid-Afrika plaasgevind het en dat dit as 'n verdere motivering gebruik sal word waarom plaasmoorde tot 'n prioriteitsmisdaad verklaar en spesialiseenhede vir landelike veiligheid ingestel moet word. Kraal Uitgewers het ook bevestig dat Modisa se moord in die volgende uitgawe van die boek Treurgrond, wat in Augustus verskyn, opgeteken sal wees.

Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het nadat hy Zuma se stelling beaam het oor die afwesigheid van ras as 'n motief vir moord, gesê dat indien plaasmoorde as deel van die breër moordstatistiek beskou word, dit "nie gewig sal dra nie".

ERNST ROETS SE REAKSIE OP DIE KLETSWERF OP DIE SAPA-BERIG:

Hierdie artikel is 'n growwe verdraaiing van die waarheid. AfriForum het nooit gesê dat ras geen motief is by plaasaanvalle nie. AfriForum het wel in reaksei op 'n standpunt van Zuma gesê dat dit so is dat swartes ook op plase vermoor word, maar dat dit nog 'n rede is waarom plaasmoorde geprioritiseer moet word.

AfriForum se standpunt was nog altyd dat ras dikwels 'n rol in plaasmoorde speel.

Ek vertrou dat die skrywers van hierdie artikel hierdie verdraaiing sal regstel en so hul bona fides sal bewys.