‘N NUGTER VERTOLKING VAN DIE KONFERENSIE IN MIDRAND, MET DIE OOG OP DIE ANC SE GRONDGRYP DOELWIT
‘n Berig waarmee die AVP grootliks saamstem, deur ‘n Johan van der Merwe wat in die elektroniese media verskyn het:
Ek was nog altyd nuuskierig oor kulkunstenaars. Vir jare lank het ek gewonder of daar nie ‘toordery’ betrokke is nie. Soos wat mens ouer raak besef mens egter daar is geen toordery nie, maar jy weet eenvoudig net nie hoe doen hulle dit nie. So tydjie gelede het ek ‘n program op televisie gekyk wat al die geheime openbaar en vandag weet ek waarvoor om te kyk.
Die groot geheim van ‘n kulkuns is dat die ‘toordery’ reeds gedoen is voor die kunsie begin. Al wat die kulkunstenaar moet regkry is om jou aandag te vestig op iets wat ‘skynbaar’ belangrik is en terwyl jy fokus daarop is hy besig om jou anderkant te verneuk. Regte, egte boereverneukery!
Mens is geneig om te vergeet, selfs lede van die ANC is skuldig daaraan, waar die ANC vandaan kom en wat hulle doelwitte is. Die Vryheidsmanifes is en was nog altyd die fondasie van die party se beleid, maar meer as dit- Dit is hulle doelwit. Dit is waarnatoe hulle nog steeds werk. Baie mense is salig onder die indruk dat die ANC klaar hulle doelwit bereik het deur die land te verander in ‘n demokratiese bestel waar hulle regeer, maar hulle kyk na die verkeerde hand...
Kom ons vermy groot woorde en lang stories: Die ANC is op pad na ‘n Sosialistiese bestel. Dit is wat Ubuntu eintlik beteken. Alles is almal s’n. Almal deel in alles. Die grond is ons almal s’n. Die probleem wat die ANC het is dat demokrasie en dalk eerder kapitalisme, hulle verhoed om by die rykes te neem en vir die armes te gee. Die vraag waaraan die ANC werk, agter die skerms, is hoe om verby dit te kom.
Volgens die ANC is 60% van die ekonomie nog in die hande van blanke mans. As ons in ag neem dat blankes, hoogstens, 10% van die bevolking uitmaak, dan kan ons ook naastenby aanvaar dat die blanke mans 5% van die bevolking uitmaak. Met ander woorde, 60% van die ekonomie word beheer deur 5% van die bevolking. (‘n Ongelooflike statistiek!) ‘n Statistiek wat die ANC walg.
Die konferensie in Midrand was baie effektief bestuur. Die eerste groot besluit was om die terminologie te verander van ‘n “Tweede oorgang” na ‘n “Tweede fase van oorgang”. Vir een of ander rede was die media en al wat ‘n kenner is van politiek vreeslik opgewonde oor die linguistieke verandering. Die vraag is egter, in die woorde van Shakespeare, sal ‘n roos anders ruik met ‘n ander naam? Deur net die terminologie te verander het die druk op die ANC heeltemal verlig. Skielik was almal minder gespanne, maar het dit waarlik iets verander?
Die CODESA onderhandeling het uitgeloop op ‘n ‘sonsak’-klousule. ‘n Fase waarin die ANC hulle doelwitte sou bestuur op so wyse dat dit nie ekonomiese ontwrigting en konflik sou veroorsaak nie. In ander woord, die water sou stadig verhit word in hierdie tyd.
Na 18 jaar is dit duidelik dat die ANC-gevolg moeg raak om te wag. Die ANCJL is sterk uitgesproke oor die kwessie van grond. Die ANC-ondersteuner op straat is moeg om arm te wees terwyl die ‘wittes’ nog klaarblyklik in oorvloed lewe. Die gaping tussen arm en ryk is eenvoudig te groot, ‘n direkte kontras met die doelwit van die Vryheidsmanifes.
Deur dus die terminologie te verander van ‘n “Tweede oorgang” na ‘n “Tweede fase van oorgang” stel hulle, ‘die wat het’ gerus. Dit blyk dat die ‘sonsak’-klousule van CODESA nog in plek is en dat niemand die NDR hoef te vrees nie. Dit alles oor woordspelings!
In die “Eerste Oorgang” het ons onder andere die volgende beleef:
- Ongekende misdaad
- Plaasmoorde
- Korrupsie
- Die verval van die infrastruktuur
- Nepotisme
- Die marginalisering van ‘wittes’ deur middel van Regstellende Aksie en Swart Ekonomiese Bemagtiging as beleid
- Die misbruik van mag
- Ekonomiese onsekerheid
- Swak dienslewering
Voeg hierby die terminologie wat deur die konferensie aanvaar is van “radikale” ingryping en veranderings. Dit is dus net logies om dan te redeneer dat dit wat in die “Eerste fase” gebeuer het, nou erger gaan word. Mantashe verklaar in ‘n onderhoud op SAFM, volgens ‘n artikel in The Citizen die volgende:
"If we have a weak resolution on the economy it would be flying in the face of what is intended in the second transition document, which is the second phase of our transition.”
“Then we will go strong... which means taking bold actions. [The] time has arrived for us to do something new and get in, [take] the plunge, take a decision, take a risk."
Dus, in sy eie woorde, is dit dieselfde dokument, net met ‘n ander naam. Die beginsels bly dieselfde en die idee van ‘take a risk’ behoort groot gevaarligte te laat flikker!
Behalwe vir die media se opwinding oor die naamsverandering van die beleid, fokus hulle verder op twee ander aspekte. Die eerste is die kwessie van die myne. Die mymeringe onder die ANC het daarop gedui dat die myne wel genasionaliseer kan word. Die kongres het egter nie ‘n woord gepraat oor nasionalisering nie, maar wel oor ‘n hewige belasting wat ingestel gaan word. Daar gaan ook gekyk word na die stigting van ‘n staatsmynmaatskappy wat sal bestaan uit die huidige mynbelange van die staat. Die staat se rol sal ook oor tyd vermeerder word, natuurlik sonder om die woordjie ‘Nasionalisering’ te gebruik.
Die ander kwessie, dalk die kwessie wat die doelwitte van die ANC die duidelikste sal reflekteer, is die van grondhervorming. Met dit wat in Zimbabwe gebeur het nog vars in ons geheue sowel as die ANCJL se uitsprake oor die gewelddadige onteiening is hierdie ‘n baie sensitiewe kwessie. Die ANC se doelwit is dat grond in wit boere se besit moet verwissel na die van swart mense. Die manier waarop hulle dit gaan doen is vir ons almal nog ‘n groot vraagstuk.
Dit was volgens die media ook vir die kongres ‘n taai toffie en volgens sekere bronne het die geveg oor grond so laat aangehou dat selfs die mediakonferensie eers baie later plaasgevind het. ‘n Uittreksel van ‘n berig in Die Burger lees as volg:
"Grondhervorming moet 'n radikale skuif verteenwoordig ... breek met die verlede sonder om landbouproduksie en voedselsekuriteit te ontwrig," het Zuma gesê aan die ANC-afgevaardigdes by die afsluiting van die party se beleidskonferensie.
"Die konferensie het ook bevestig dat die voorstel van gewillige koper, gewillige verkoper onmiddellik vervang sal word met die regverdige en billike beginsels in die Grondwet - waar die staat grond vir grondhervorming doeleindes wil verkry."
Die impak van hierdie beleid sal seker eers op Desember se konferensie in Bloemfontein duidelik word, maar dit wil voorkom dat die staat homself die reg eien om grond te kan opkoop, wat volgens hulle onwettig bekom is, teen wat hulle bereid is om te betaal. Met ander woorde, die Grondwet verander nie, maar die grond is nog steeds in gedrang. Die klem verskuif dus na die fyndruk toe wat moet bepaal hoe grond wettig bekom is. Deur Apartheid as die grootste misdryf teen die mensdom te klasifiseer kan dit redelik geag word dat enige grond bekom in daardie tyd, onwettig is?
Wat wil die ANC bereik met grond? In kort- Hulle wil die eiendomsreg op die grond vervreem van die blanke boere, maar hulle wil nog steeds die boer aanhou om voedselsekuriteit te verseker. Die mooi woord daarvoor is Sosialisme.
Die artikel in Die Burger gaan aan:
Joemat-Pettersson het gesê die artikel is 'n eiendomsklousule wat "ons in staat sal stel om te doen presies wat ons wil met grond".
Terwyl almal fokus op die nuwe terminologie en grondsake is daar ‘n paar ander sake wat nie soveel aandag getrek het nie, onder andere:
Die huidige provinsies sal hersien word en daar sal in Bloemfontein ‘n voorlegging gedoen word oor hoe die nuwe verdeling daarna sal uitsien. Klaarblyklik moet die getal provinsies van nege na ses toe verminder word. (Deur die Wes-Kaap by die Oos-Kaap te voeg sal die DA houvas oor die Wes-Kaap eindig)
Akademiese hospitale sal voortaan onder die Nasionale regering staan in plaas van provinsiaal. Sowat ‘n 1000 studente sal later die jaar na Kuba vertrek vir opleiding as dokters.
Poligamie is volgens sommige ANC-vroue nie aanvaarbaar nie, maar moet geduld word omrede die ANC ‘n party is wat verskillende tipe gedagtes kan akkommodeer. Volgens hulle is die idee van poligamie nie eie aan Afrika nie, maar ‘n internasionale verskynsel. Hulle het ook voorgestel dat prostitute opleiding moet kry in lewensvaardighede sodat hulle meer onafhanklik kan wees.
Die idee van gratis onderwys was ook op die agenda. Die voorstel is dat almal toegang moet kry tot gratis onderwys.
Daar gaan ook gekyk word om die Nasionale verkiesings saam met die plaaslike verkiesing te hou.
‘n ‘Vrywillige’ verpligte diensplig gaan ingestel word vir skoolverlaters (Niemand weet wat hulle hiermee bedoel nie)
Alle studente moet ‘n jaar ‘staatsdiens’ doen soos wat nou die geval is met dokters.
Die media se fokus was die laaste tyd ernstig gerig op die kongres. Daar was baie vrae oor spesifiek grondhervorming en die nasionalisering van die myne. Dit is egter nodig om so bietjie terug te staan om ‘n beter beeld te kry van wat aan die gang is.
Die ANC is die jaar 100 jaar oud. Vir meer as ‘n eeu veg hulle onder die vaandel van gelyke regte vir almal. Wat egter verskuil was onder hierdie vaandel was die Vryheidsmanifes, ‘n dokument wat in wese ‘n sosialistiese karakter het. Die sogenaamde ‘Nuwe-Suid-Afrika’ was egter nie die finale doelwit nie, maar net nog ‘n stappie nader aan wat die ANC wil bereik. Die ANC het geen behoefte om die land beter te regeer nie, hulle is nog steeds besig met ‘n aanslag. Die “struggle” is nog nie verby nie, die ANC is nog nie tevrede nie. Die wit man wat 60% van die ekonomie dra het nog te veel ‘regte’, die handjievol wit boere wat die land se kosmandjies vol hou is ‘n probleem vir die ANC. Die ANC sit nou tussen twee vure: Aan die een kant is die massas wat ongeduldig raak met die tempo waarteen die rykes verarm moet word en aan die ander kant sit hulle met ‘n Grondwet en internasionale beleggings. Die vraag voor Midrand was- Hoe hou ons almal gelukkig?
Laat niemand weer die ANC beskuldig daarvan dat hulle dom is nie. Die kongres in Midrand is ‘n voorbeeld van baie fyn beplande strategie. Wat het die kongres bereik?
Hulle het druk op hulle doelwit verlig deur die naam te verander, sonder om enige van die doelwitte te verander.
Hulle het almal wat grond het gerus gestel deur hulle ‘toegewydheid’ tot die Grondwet, maar ook almal wat nie grond het nie, gerus gestel deur radikale ingryping rondom die kwessie as beleid te aanvaar, sowel as die afskaffing van die gewillige koper, gewillige verkoper.
Hulle het die internasionale belegger gerus gestel dat myne nie genasionaliseer gaan word nie, maar ook die ANC-ondersteuners tevrede gehou met hierdie heftige belastings wat geplaas gaan word op die myne. (Meer geld sonder werk)
Hulle het ‘n gevoel van kalmte bewerkstellig deur te wys hoe aanpasbaar hulle is, hoe hulle almal wil ken in die saak, hoe sensitief hulle is oor al die kwessies, sonder om enige opofferings te maak in terme van hulle beleid.
Die afgelope 18 jaar het ons al male sonder tal gesien hoe die ANC ‘n saak aanpak. Hulle begin om hulle uiteindelike doelwit aan te kondig, wat gewoonlik ‘n radikale verandering behels. Dan is daar ‘n groot teenstand uit die gemeenskap en hulle laat vaar die planne. ‘n Paar maande later kom hulle terug met dieselfde gedagte, net anders bewoord en weer is daar teenstand uit die gemeenskap, maar die keer nie so erg nie. So hou hulle aan totdat die teenstand stil raak en dan doen hulle in elk geval wat hulle van die eerste dag af beplan het om te doen.
Die feit dat ons tevrede is met ‘radikale ingryping’ en die skraping van die ‘gewillige koper, gewillige verkoper’ is ‘n baie duidelik teken hiervan. ‘n Paar jaar terug was dit die kern van talle debatte en teenstand, vandag is ons dankbaar dat hulle ‘klaarblyklik’ nie die grond wil vat nie.
Midrand was ‘n ongelooflike sukses vir die ANC. Dit was ‘n klassieke oefening in publisiteit. Hulle het die aandag geskuif van die een hand na die ander. Hulle kulkunsie is besig om te gaan volgens beplanning. Hulle het nou die regte bewoording om almal gelukkig te hou, hulle het die voorbrand gedoen vir Desember, hulle doelwit is op koers en dit alles reg voor ons neuse.
Moenie verbaas en geskok wees as die ANC Desember maand, ‘n hasie genaamd Sosialisme, uit die hoed trek nie. Hulle werk nog die hele tyd daaraan. Ons realiteit is dat ons volgende jaar die tyd in ‘n sosialistiese bestel kan sit. Dit alles omdat ons nie verstaan het hoe die ANC hulle hand oor die hoed geswaai het in Midrand nie... Kul jou hier, kul jou daar...
