Met Afrikanernasionalisme verfris vorentoe, reg vir die opdraand wat nou voorlê!
Dis net die nomadiese woestynbewoner wat 'n oase na waarde skat.
Daardie oog waar hy lewe-gewende water ná die dorspad agter en die dorspad vorentoe vind.
Dis waarskynlik net die Afrikanervolk wat in hierdie, vir die Afrikaner, “wye, droewe land”, die waarde van 'n verfrissende politieke fontein sal begryp.
Dis egter nie deurdat die Afrikanervolk noodwendig onheilig verknog is aan die politiek nie, die politiek is maar deel van sy doodgewone voorbereiding vir die Suid-Afrikaanse dorspad, daardie watersak wat saam met die ander losgoed heen en weer aan die voorttrekkende volkswa oor die land se vlaktes, vasgemaak aan 'n handige plek heen en weer swaai.
Dis ook nie dat die Afrikaner noodwendig van sy politieke watersak hou nie, dit kom voort uit sy oorlewingsnood in Afrika en die wêreld.
Weens die Afrikaner se ander mens- en wêreldingsteldhede is hy egter ook geseën (soms geplaag!) deur 'n sterk individuele vryheidsdrang en dis veral in sy of haar jeug, in die vormingsjare, dat hierdie drang as 'n soort weerspannigheid na vore tree, so erg, daar is dikwels nie huis met hulle te hou nie!
Dis egter nie alle Afrikaners wat hierdie weerspannigheid afskud nie, dit word in hoofsaak om twee redes deel van die res van sy volwasse politieke lewe:
- Kompromittering weens verbintenisse wat jeugdige Afrikaners met vertroulike organisasies met vertroulike agendas (nie altyd noodwendig met “sondige” uitgangspunte nie!), aangaan.
- Sy individuele onafhanlikheidsin wat in 'n hardnekkige verontagsaming van die waarheid en werklikheid in sy politieke volwasenheid voortgesit word.
Daar kan meer redes wees waarom 'n Afrikaner sy ou en vertroude maar dalk al verslete politieke watersak behou, al is hierdie noodsaaklike gereedskap lankal nie meer waterdig nie.
Daar is egter ook die verkeerde redes wat die Afrikanervolk kan lei in die keuse van sy politieke watersak en om van sy staatmaker-watersak ontslae te raak. Een van hulle is die geneigdheid van mens en volke om modes na te volg, ook die Afrikanervolk.
Soos byvoorbeeld 'n watersak te kies met dalk Boesmantekeninge op en 'n tuit gemaak uit renosterhoring, die klaarblyklik nikswerd tuit ter wille van 'n Afrika-voorkoms wat dit aan die watersak gee, dis nou om die toeskouers oorsee en ook ons Afrika-bure te imponeer
En die praktiese oorwegings heeltemal uit die oog verloor, oorwegings wat handel oor vrae soos hoe lank is die trekpad, waar is die volgende fontein, gaan die sak die water verkwikkend hou en nog meer.
Die Afrikanervolk het in die afgelope nagenoeg dertig jaar ondervinding van twee sulke watersakke gehad, die driekamerparlement van mnr. P.W. Botha (gesonde(!) magsdeling) en die heersende onderhorigheidsbedeling wat met behulp van mnr. F.W. de Klerk ingevoer is.
En nog is het einde niet...
Daar slaan allerhande suggesties deur dat daar agter die skerms met invloedrykes (dit moet aanvaar dis plaaslik, dis die ANC, én internasionaal) oor een of ander verwaterde vorm van Afrikanerselfbeskikking in gesprek getree is.
Nou ja, as politieke “vryheid” vir die Afrikanervolk uit die heersende grondwetkontrepsie sy verskyning maak, dan het die nuwe watersak wat aan die Afrikanervolk gebied is al klaar nog 'n gat in, is dit te meer waardeloos.
Nog 'n gat in die watersak wat vir die Afrikanervolk aangebied is?
Ja, dit lyk of die ding elke dag meer gate inkry, soos die gate wat Jacob Zuma en sy kaders weer met hul nasionaliseringspraatjies verlede week met hul sogenaamde beleidskonferensie in hierdie sak geskiet het met Zuma se masjiengeweer (die masjiengeweer van Zuma se masjiengeweerliedjie!).
Van die “ligpunte” wat vir Afrikaners en Blankes aangebied word wat verlede week se konferensie betref is die onenigheid onder die lot wat daar in Midrand saamgetrek was en dat weens die verwerping van beskrywingspunte of dele van beskrywingspunte wat Zuma se agenda vir 'n tweede termyn dien (sy Tweede Oorgang), die ANC eintlik kniediep in die moeilikheid is, 'n moeilikheid wat veel erger na bo sal kook tydens die ANC se sogenaamde Mangaung-konferensie aan die einde van die jaar.
Die voorspooksels wat gemaak word is dat die Zoeloe Zuma gedoem is om 'n tweede Dingaan te word.
Dingaan is uit die aard van die geskiedenis en die bloedige veldtog wat hy teen ons voorouers gevoer het onder aanstigting van Engelse sendelinge die bose figuur wat hy verdien om te wees.
Maar uit die oogpunt van die Zoeloes?
Gewis nie boos nie. Dalk 'n verloorder. Deurdat hy hom op sleeptou laat neem het deur sy bloeddors en onomsigtige raad en 'n militêre veldtog aangepak het wat tot die Zoeloes se vernedering by Bloedrivier gelei het. Gaan Mangaung Zuma se Bloedrivier wees?
Wat ons te doen staan
Moet die ANC se onenigheid en leiers- en ideologiese verskille as 'n oorwinning vir die Afrikanervolk beskou word?
Nee.
Eerstens deurdat die land vasgevang is in wat bekend staan as selfbesturende sosialisme, wel op die Afrika-wyse. Selfbesturende sosialisme deurdat as die geforseerde magte en kragte wat van bo af losgelaat is self sy loop neem tot al hierdie magte en kragte uitgewoed is.
Die gedagte agter hierdie “selfbestuur” is dat die proletariaat, dit is die Swart menigte op sogenaamde voetsoolvlak, dit is die populis, dit is populisme, sy eie leierskap na vore stoot, eie brandhout vir die voortgaande rewolusie vind.
Daarvoor moet die Afrikanervolk hom staal en die nodige voorsorg tref, te meer met die breukspul wat allerweë aan die einde van die jaar by “Mangaung” verwag word.
Nadele
Daar is ongelukkig instellings wat die Afrikanervolk dien wat weens verouderde agendas afkomstig uit die laat 1980's, die 1990's en na 2000 verstrik geraak het in programme waarvolgens hulle die venynige hiel van ANC-heerskappy op die Afrikanervolk bloot probeer versag het. In hierdie proses het die uitgesproke vryheidsideale van hierdie organisasies namens die Afrikanervolk verduister en verstrik geraak in allerhande vae omtrentjies wat met die Afrikanervolk se vryheid niks uit te waai het nie.
Iemand skryf op 'n internet-kletswerf selfs die verloopte Solidariteit het 'n klousule in sy grondwet waarvolgens hierdie organisasie vir selfbeskikking staan!
Na Solidariteit se betogervleuel AfriForum pas weer en baie openlik 'n konferensie saam met die FW de Klerk-stigting en die Black Sash-lid van die DA Helen Zille gehou het, kan die hande maar net saamgeslaan word.
Maar dan herinner jy jou daaraan dat Solidariteit in die tyd toe Zuma aan bewind gekom het deel was van Dinokeng, 'n gonsgroep wat bestaan het uit al wat volksondergrawende organisasie is, die SA Kommunistiese Party ingesluit.
Dinokeng beteken glo saamloop.
In die ou taal dus meelopers, kommunistiese meelopers, 'n skelduitdrukking waarmee geen ordentlike Afrikaner hom sou vereenselwig nie, selfs nie in John Vorster se tyd nie.
So is daar ook instellings vir georganiseerde Afrikanerlandbou.
Waarom hierdie organisasies nie hierdie sogenaamde Tweede Oorgang van Jacob Zuma luid en vir elke reggeaarde Afrikaner om te hoor verwerp het toe hulle verneem het die dokumentasie vir die ANC se Midrandse konferensie is na die rolperse onderweg nie, is eenvoudig onverklaarbaar.
Maar die geleentheid is nog nie heeltemal verby nie.
Hierdie organisasies, verfris julle self uit die watersakke van onverdunde Afrikanernasionalisme. So kan julle van julle verlore eer herwin. Of julle daarna nog vir die Afrikanervolk se vryheid van enige nut sal wees, dit sal egter eers gesien moet word.
