JAAP AAN DIE WOORD
Viertipes voortgebring
Soos na die afgelope terroriste-oorlog, was daar na die Engelse Oorlog, ook vier tipes leiers onder die Afrikaners: die verraaiers (soos Piet de Wet, Andries Cronje, e. a.), die oorgeers {soos genl Piet Cronje, Ben Viljoen, Marthinus Prinsloo), die vredepraters (soos genls Botha en Smuts) en die Bittereinders (soos pres Steyn, genl De Wet, genl De fa Rey, genl Hertzog en ander). Dit vereis nie veel verbeelding om die verraaiers, oorgeers en vredepraters van ons tyd te identifiseer nie. Waar FW de Klerk volgens Beeld deur die Britte as 'n held beskou en op die hande gedra word, staan "volksverraaier" op sy voorkop gebrand. En die deelnemers aan die vredesonderhandelings te Kemptonpark in 1993, met genl Constand Viljoen en Tienie Groenewald op die voorpunt, was die sigbare oorgeers wat die stryd gewonne gegee en op die ANC-SAKP se voorwaardes vrede gemaak het, en wat derhalwe saam met De Klerk verantwoordelik is vir die swak posisie waarin die Afrikanervolk gelaat is.
Bittereinders
By die vredesonderhandelings van 1993 was dit die verraaiers en oorgeers en vredepraters wat vreemd aan die gees van die Bittereinders, hulle volk se vryheid op vernederende voorwaardes weggegee het. In 1902 het die vegtende Bittereinders hulle volk verteenwoordig by die vredesonderhandeling en 'n eervolle vrede beding. Die geskiedenis sedert 1902 is die verhaal van voortgesette stryd van daardie Afrikaners wat die gees van die Bittereinders verteenwoordig het. Die ark van die Afrikanerdom is gedra deur die Bittereinders van elke geslag Afrikaners.
Na 1902 was daar nie 'n Boereleier wat kon sê: dit is ons "strategie", en dit is ons "taktiek" op die pad vorentoe nie. Die land was verwoes, die volk in rou en in armoede gedom-
pel. Die leiers moes koers aandui. Elkeen van die vier groepe was verbind tot die wese van huile vorige optrede — verraad, oorgee, vredemaak, enersyds, en stryd wat voortgesit word, andersyds. Die verraaiers (Piet de Wet, Andries Cronje, Vilonel) is uit die volk gestoot; die oorgeërs (Piet Cronje en Ben Viljoen) wou die Boere-generaals na Europa vergesel na affoop van die oorlog, maar Botha, De Wet, en De la Rey wou hulle nie in die geselskap hê nie, en hulle het met ln gevoel van ontuis-wees die land verlaat. Viljoen vir goed; die vredepraters (Botha en Smuts) het opgegaan in die nuwe bestel en so teen hulle volk gedraai dat hulle in 1914 op hulle voormalige Boerestrydmakkers geskiet het ter wille van Britse belange. Van vredemakers het hulle deur 'n proses van volksvervreemding gegaan en 'n Britse aanhanklikheid verwerf wat hulle in die oe van die Bittereinders verraaiers gemaak het.
Gees van Bittereinders
Die riglyn van die daaropvolgende ontwikkeling het geloop vanaf die Bittereinders van 1902 na 1914, 1924, 1934, 1939, 1948, 1960, 1961... En dit het in 1969 geloop oor dr Albert Hertzog wat, soos pres Steyn in 1900, geweier het om die stryd om die Afrikanervolk se eer te staak en in naam van "verandering" en "hervorming" toe te gee en prys te gee en weg te gee en oor te gee, soos nou die sigbare resultaat is van die taktiek en strategie wat die Nasionale Party-leiers na die moord op dr Verwoerd gevolg het, beginnende by Vorster se toegewing aan Britse druk oor sportkompetisies en binne dertig jaar eindigende in ln Afrikanervolk onderworpe aan 'n Kommunistiese-beheerde Swart regering.
Dr Hertzog het die heersende werklikheid van na 6 September 1966 reg vertolk, die verband tussen dinge ingesien, gewaarsku teen die nuwe strategie, geweier om dit te steun en horn liewer uit die NP te laat skop as om verraad
te pleeg teen sy vo!k se belange, toe te gee aan die vyandelike druk, en gaandeweg vernederende vredesvoor-waardes met die vyand aan te gaan, soos ander Afrikaners paaiementsgewys gedoen het in die periode vanaf die sluipmoord op dr Verwoerd tot tans.
Die kosbaarste besit van die Afrikanervolk is die gees en tradisie van die Bittereinders teen die ontrou van die verraaiers, die lafhartigheid of onbevoegdheid van die oorgeërs, die dienstigheid en ambisies van die vredepraters en die ja-nees van die halfhartiges.
Weerstandsbeweging bly buite bestel
Dit is reg dat daar tans in Suid-Afrika verwys word na die voorbeeld van weerstandsbewegings in Frankryk, Nederland en ander Europese state wat in die Tweede Wereldoorlog deur Duitsland oorwin is. Wat meestal misgekyk word, is dat leiers van die Europese weerstandsbewegings na die verowering beslis nie deelgeneem het aan die nuwe politieke magsbestelle van die veroweraars in die verskeie lande nie. Trouens, die waardige patriot en beroemde veldheer, maarskalk Petain, wat in Frankryk 'n regering daargestel het om die verowerde Franse volk se belange ten beste te beskerm in samewerking met die Duitse besettingsowerheid, is byvoorbeeld na die oorlog krimineei aangekia en tot die buitenste duisternis van Fransmanskap verban. Genl De Gaulle wat ook uit patriotiese vereenselwiging met Frankryk, die weerstand selfs van ver buite Frankryk se grense met Britse hulp aangespoor het, het uiteindelik die byna tydlose simbool van Franse volkstrots en nasionale selfrespek geword.
Die les hiervan is dat weerstand en verset in die stryd om herwinning van vryheid van buite die bestel, nie van
binne, gevoer moet word, en dat volgehoue weerstand en verset die grondslag is vir uitbuiting van die foute en misvattings van die teenstanders.
De Gaulle het nie tydens en net na die oorlog 'n strategie gehad om Frankryk weer selfstandig te maak nie. Hy het net die Franse se eergevoel en patriotisme aangespreek as die primere voorwaarde vir herstel van volkstrots. Hy het aan die mag gekom toe die na-oorlogse orde in Frankryk in die een krisis na die ander beland het en hy as die vaste steunpunt en patriotiese heldefiguur die Franse om horn versamel het. Dit toon ooreenkoms met die vordering van die Bittereinders se stryd na 1902, wat grotendeels toe te skryf is aan die gees van verset teen die onreg wat hulle volk aangedoen is en ook die dade en foute van hulle teenstanders en vyande, wat in 1924 uitgeloop het op die oorwinning van genl Hertzog oor genl Smuts. Genl De Gaulle se opkoms na die wereldoorlog het in hoe mate gespruit uit die swakhede en die misvattings van sy teenstanders.
Die HNP
Die HNP se strategie rus op een uitgangspunt, net soos die van die Europese weerstandsbewegings: ons berus nie in die bedrogvolle verowering deur 'n terroristebende nie; ons beskou die nuwe regime as onregmatig, daarom neem ons, soos die Europese weerstandsbewegings, nie daaraan dee! nie.
Ons taktiek is, na 27 April 1994, soos die van die Boeremagte na Junie 1900, aangepas by die nuwe situasie, naamlik die van 'n politieke guerilla-stryd, met die primere doel om, soos die Boeremagte destyds, ons volkstrots en nasionale selfrespek te herstel as die voorvereiste vir die opwekking van Afrikanernasionalisme as die bewegingsmag van die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
Guerilla
Die destydse guerillaleiers se taktiek was om die vyand se swak plekke uit te soek en aan te val, die uitdaging tot magsametrekkings te vermy, die vyand se toevoer van wapens en proviand te ontwrig, die stryd uit te rek en die vyand se soldate en ondersteuners te frustreer en te ontmoedig. Oor hoe hierdie taktiese aksies in die huidige politieke guerillastryd uitgevoer en aangepas moet word na gelang die strydtoneel verander, kan besin word, terwyl die strategiese doelwit onvoorwaardelik bly: die herwinning van die vryheid.
