Media

ONTROUHEID VAN N SIEL IMPLISEER SIELESTRYD

“EINDSTRYD” EN DIE BEGIN VAN WILLIE ESTERHUYSE EN SY SIELSGENOTE SE SIELESTRYD!

’n Boek van Esterhuyse genaamd Eindstryd, wat handel oor gesprekke agter die skerms met verbanne ANC-leiers en ’n groepie Afrikaners in die tagtigerjare, sal waarskynlik meer lig werp op hoe die Afrikanervolk deur Afrikanerleiers en akademici om die bos gelei is en om aan te toon hoe ons eerloos uit ons land uitgedruk is.  Daar het ’n artikel van Esterhuyse in  By van Beeld verskyn in die rubriek Brandpunt, waar hy bv. Mbeki as ’n intellektuele rolmodel beskryf, “terwyl dit na my mening, in Afrikanergeledere ietwat sukkelend onder sy intelligentsia en senior joernalistieke meningsvormers gaan” sê  Esterhuyse.

 

Beide prof. Willie Esterhuyse en die liberalis Rian Malan  erken bv. dat:  “Ek dink ek moet met ’n joernalistieke ontboeseming begin:..... Ek sou miskien selfs geval het vir oudpres. Thabo Mbeki se legendariese sjarme, soos wel met Esterhuyse gebeur het, en strategiese ANC-standpunte gesteun het in die vredesamesprekings wat gevolg het. Ek sou net graag wou glo dat ek vandag sou getwyfel het oor die uiteindelike uitslag.

Selfs dit is ’n bietjie onbillik teenoor Esterhuyse, want hy erken die ANC-bewind het in belangrike opsigte misluk.”(Aldus Rian Malan).

 Dit is waarskynlik pogings om die sielestryd waarmee hulle sit, te probeer versag sonder om te erken dat hulle insig in die politiek van ons land, klaaglik ontoereikend was.

(Per slot van sake stem ek (Rian) met prof. Willie Esterhuyse oor feitlik alles saam: Apartheid móés padgee, en die laat 1980’s was die geleë tyd.)

Malan se afleiding dat: Esterhuyse, soos Nadine Gordimer, Max du Preez, Ben Turok en ander hedendaagse bekeerlinge tot skeptisisme, nie gebore in staat is om te erken sy afkeer van apartheid het hom verblind vir die ware aard van dié wat dit probeer omverwerp het nie, is sekerlik eweseer op homself van toepassing.

Die feitlikheid van hulle betrokkenheid by die verwydering van apartheid en beywering vir die teenpool daarvan, nl. Integrasie, laat hulle hande net so bloedbevlek en hulle persone net so aandadig soos dié van de Klerk en sy swakkeling parlement, aan die rioolput waarin dit ons beland het! Niks wat hulle nou sê sal dit ongedaan kan maak nie. In die geskiedenis van ons volk sal dit so aangeteken staan, en dit deur hulle eie toedoen!

Sedert die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966, was Afrikaner kiesers in die duister oor al hierdie verwikkelinge op politieke gebied.

Die ontplooiing van die politieke toestand na sy dood is ewe-eens onder ’n dekmantel van leuens en misleiding in ’n rigting gestuur ten spyte van vrae en daaropvolgende beskuldigings dat hulle besig was om die volk te mislei deur ’n gekonkel agter die skerms.  Hierdie praktyk is versluier deur misleidende versekerings dat daar nie afgewyk sal word van beleid en beginsel nie, terwyl daar agter die skerms ylings geknoei is om vooraf berekende oogmerke te bereik waarteen die Afrikanervolk in opstand sou kom indien hulle dit geweet het.

Nou, nadat meeste van die oogmerke bereik is en die medewerkers daaraan ook graag hulle aandeel aan dié “grootse”  prestasies erken wil hê, kom die geknoei en onderduimse gekonkel soos  onkruid op ‘n mishoop na die oppervlak deur middel van boeke, outobiografieë, besprekings en artikels.  Mense wat dink dat verraad verhef kan word tot voortreflike prestasies omdat hulle van mening is dat dit wat hulle eers in die geheim moes doen, nou as heldedade vertolk sal word.  Dit is egter nou besig om suur te word!  Namate die realiteit van hulle onbesonne liberale denke in die praktyk sigbaar word en hulle onvermydelik deur hulle verwaande verklarings daaraan verbind word, sal die uitsprake hoe langer hoe meer krities word met die hoop dat hulle op dié wyse dalk die blaam kan vryspring.

Prof. Willie Esterhuyse  openbaar sy eie en andere se verraad.

Sy ontboeseming  in Eindstryd van die rol wat NI (Nasionale Intelligensie)  gespeel het, impliseer hom en hulle as mede trouelose Afrikaners  in  die voorbereiding tot die oorgawe aan die Kommuniste!  In Nasionale Pers se koerante van vroeg Februarie 2010, waarin frases verskyn soos: “Mense soos Barnard en Mike Louw het selfs in Afrika oop deure op hoë vlakke gehad”,  is ʼn bevestiging van die gekonkel wat plaasgevind het.

 Vóór 1990 was Barnard, Louw en die lede van hul span myns insiens die hoofakteurs ter voorbereiding van die onderhandelingsdrama wat van die einde van 1989 in Suid-Afrika sou ontvou.  “Hulle was “vóórspelers” vir 2 Februarie 1990! “My kontak met dié span het in 1987 begin. Twee senior lede van die NI het my aan huis kom besoek.  “Daar is oorlog gevoer. Mense is gevang. En vermoor. Werklike strategiese kwessies was nie hoog op die agenda nie. Selfs buitelandse sake het aan ’n agterspeen gesuig. Daar was maar baie wantroue.

“Dis ’n verhaal wat seker nou maar vertel kan word, al klink dit dalk meer dramaties as wat dit is. In ’n ‘veilige huis’ van die NI het ek, met die oog op my nie-amptelike en vertroulike kontak met Thabo Mbeki en sy span in die laat 1980’s in Brittanje, opleiding in die hantering van persoonlike veiligheid ontvang.  “Die soort voorberedeneerde optrede veronderstel natuurlik ’n vertrouensverhouding. En veral nie publisiteit nie! Hoe dit vermy is, is ’n storie op sy eie.

Esterhuyse verklaar onlangs oor Thabo Mbeki, top Kommunis en voormalige opvolger van Mandela:

“Thabo Mbeki plant sy vlag as ’n openbare meningsvormende intellektueel en leier in diens van ’n demokratiese bestel waaraan hy sy lewe gewy het. Ja, hy is “terug”.  Wat my betref, hopelik as ’n leidende lig binne ’n groeiende  nie-rassige korps openbare meningsvormende intellektuele  wat kan bydra om ons swaar verworwe demokrasie te verdiep en te verbreed.” Aldus Esterhuyse.  Het hy dalk verwys na mense soos dr. Piet Croukamp en 70 Afrikaanses wat met Mantashe saam, meningsvormende intellektuele  uitmaak wat moet besin oor waarom die Afrikaners nie wil saamwerk nie?

Daar is ’n lang lys van sg. Afrikaners en hulle  trouelose optrede teenoor hulle volksgenote en die AVP sal gaandeweg elkeen van hulle “heldedade” in perspektief plaas soos wat dit tot ons kennis kom, het ons al vantevore beloof. 

Ons sal veral graag diegene wat berou het oor hulle optrede se erkennings plaas as bewys van herstel. Ons verwerp egter met veragting alle  pogings om sulke trouelose optrede te probeer regverdig.  Ons aanvaar dat daar mense is met wie ons niks in gemeen het nie en waar geen debat oor verskille enige positiewe bydrae sal maak tot samewerking waaruit eenheid moet groei op pad na ons vryheid toe nie!

redaksie