AFRIKANERS SE VERSET TEEN DIE ONREG
(EERSTE AFLEWERING: DEUR JAAP MARAIS)
Beroof van Geboortereg
In die land waar hulle volk gebore is, word Afrikaners nou behandel as 'n miskende en verstote "minderheid". Deur misleiding en bedrog is hulle geleidelik geestelik ontwapen, sodat hulle bloedloos van hul geboortereg beroof kon word. Dit is die sentrale feit van die huidige Suid-Afrikaanse toestand.
Die Afrikaner-soldate en -polisie wat hul vaderland verdedig het teen Brits-geїnspireerde en Kommunisties-gedrewe terroristebendes, word gehoon en bespot en vervolg as misdadigers. En die Afrikanervolk word deur leuens en laster simbolies op die beskuldigdebank van die geskiedenis gestel om skuld te bely voor die vyande wat hom wil vernietig.
Hy is die een gemeenskap wat ter wille van "vrede" op elke terrein moes toegee, prysgee, weggee en opgee totdat daar niks meer was om te behou nie en sy "leiers" eerloos kon oorgee aan die vyande
.
Die Engelssprekende groep van Suid-Afrika het niks prysgegee nie. In terme van kulturele en politieke invloed het hulle onmeetlik gewen. Suid-Afrika het in naam van "African nationalism" 'n Engelse land geword, met die Engelse taal oppermagtig, met Engelse verteenwoordigers in onverkose invloedryke posisies en met Brittanje (en Amerika) in koloniale afstandsbeheer.
Ook geen ander gemeenskap — Kleurling, Indier of Swart het enigiets prysgegee nie. Hulle sosiale invloed is ontsaglik vergroot en hulle verteenwoordiging in die parlement, die provinsiale wetgewers en plaaslike owerhede, die staatsadministrasie, die regswese, die onderwys, die joemalistiek en die ekonomie het met reuse spronge gevorder.
Aan wal gestoot
Die Afrikaners, egter, wat die ekonomiese middestand in Suid-Afrika gevorm het deur hulle posisie in die landbou, die klein en middelslag sake-ondernemings en die amptenary van die staat en die staatskorporasies, is progressiewelik deur 'n doelgerigte beleid uit die ekonomiese stroom aan wal gestoot.
"Middle class blown out of the economic water", het Sunday Star (8.9.91) berig. En die "middle class" was die Afrikaners.
Dit was die resultaat van 'n jarelange sosio-ekonomiese beleid wat gevolg is om rykdom te herverdeel deur die Afrikaners se besittings van hulle weg te neem. "The living standards of Whites", het dr Frans Cronje, president van Nedbank, gese, "must drop, but that of the others cannot be allowed to drop". (The Star, 4.11.76).
Hierdie woordvoerder van die georganiseerde geldmag het dus of aan die Vorster-regering voorgeskryf dat die Blankes (Afrikaners) se lewenstandaarde afwaarts gedruk moet word, of hy het uitdrukking gegee aan wat reeds aan die geldmag bekend was as regeringsbeleid.
In ooreenstemming met wat Cronje in 1976 gese het, het Rapport op 3 April 1977 geskryf: "Blankes raak al hoe armer". En The Sar (11 Jan. 1978) het geskryf "The living standards of Whites have been falling during the past five years and those of the Blacks have been rising sharply"
-presies wat die georganiseerde geldmag by monde van Cronje bepleit het. Die Staat se Jaarboek van 1981 het die berowing van die Afrikaners/Blankes gekwantifiseer. "Die reële inkomste van Blankes", is daarin verklaar, "het gedaal met 5,6 persent teenoor die van die Swartes, wat gestyg het met 7,4 persent" — klaarblyklik as doelbewuste beleid om Afrikaners sosiaal en ekonomies te verswak.
So is duisende huisbesitters en plaaseienaars tot insolvensie gedwing.
"South African families are being hit by summonses for debt at the record rate of more than 64 000 per month" (The Star, 31 Jan 1984)
"700 boere elke maand gelikwideer"
(Beeld, 24 Januarie 1992)
So is die Afrikaners ekonomies ontmagtig ter voorbereiding vir die militere en politieke kapitulasie aan 'n terroristebende wat nooit 'n oorlog teen die Afrikanervolk sou kon wen nie.
Ekonomiese oorlog voortgesit
Vanuit die verswakte posisie van die Afrikaners word die ekonomiese oorlog teen hulle voortgesit deur die huidige Swart regime. Onderwys vir Blankes word al duurder en duurder. Universiteitsopleiding vir Afrikaners word al hoe meer onbekostigbaar, terwyl Swartes miljoene rande skuld aan universiteite. Grondbelasting en dienstetariewe in stede en dorpe word al hoe meer verhoog om te vergoed.vir die nie-betaling van gelde in Swart buurte. Die pryse van brandstof word telkens verhoog om onder andere ook inkomste te verskaf vir die uitspattige besoldiging van al hoe meer mense wat al hoe minder bevoeg is om die staat se sake te hanteer. Verbeel jou 'n "konsultant" kry R500 per uur. En hy werk glo 10 uur per dag, ook oor naweke, wat uitwerk op R150 000 per maand. En natuurlik sal hy teen 'n tempo werk wat sy diens maandelank sal rek.
Intussen het 'n groot armblankedom van Afrikaners ontstaan, waardeur gesinne gedwing is om in Swart plakkerskampe te gaan woon of in tente op oop terreine. En dan moet hulle in strate bedel om aan die lewe te bly. Dit is die Nuwe Suid-Afrika waarin die Afrikaners die skyf van uitbuiting deur die huidige Swart regime is. Dit is die onreg wat Afrikaners ly.
Dit, in die land wat in die dae van apartheid onder 'n Afrikaner-regering die tweede hoogste ekonomiese groeikoers in die wereld gehad het, waarin werkgeleentheid so volop was dat immigrante van Europa na Suid-Afrika gestroom het, en amper 75 persent van die nuwe arbeid van alle jong mense van Suid-Afrika in die formele sektor werk gekry het.
