Media

'n Teoloog oor die Doodstraf

DIE DOODSTRAF

 Ds AE van den Berg 

Gen.9:1-7; Ex.21:22-25; Rom.13:1-7

 ʼn Eerbare regering skuld sy burgers nie bloot ʼn bestaan nie, maar ʼn goeie bestaan.   Om dit te verwerklik is die toepassing van die doodstraf ’n vereiste.  Dis nie liefdeloos en onmenslik nie, maar in lyn met die Skrif wat dit gebied.

 Die mees basiese uitspraak word in Gen.9:6 gevind:“Hy wat die bloed van ’n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak” Mense wat daarvan verskil, verskil van die Skrif.   God gee immers Self die motivering vir die doodstraf, ’n motivering wat by geen ander godsdiens gevind word nie.   Omdat die mens na die beeld van God geskape is, is moord ’n vergryp teen God.

 

 

Wat word met die beeld van God bedoel?   Dat God die mens aangestel het om oor die skepping te heers en God se eienskappe te weerspieël: “Maar elkeen wat sy woord bewaar, in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword… Hy wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Joh.2:5,6).

 

Om die beeld van God te vertoon, het God aan die mens die lewe gegee.  Net God het die reg om dit te neem.  Luister wat sê Job: “…Die Here het gegee en die Here het geneem; die Naam van die Here sy geloofd!” (Job.1:21).  Geen mens durf wederregtelik die lewe van iemand wegneem nie.

 

Let daarop dat die bepaling van Gen.9:6 lank voor die ontstaan van Israel gegee is.   Dit sê dat God die doodstraf vir alle mense van alle tye gebied het.   Toe Israel die doodstraf later as amptelike regeringsbeleid aanvaar het, was dit op grond van Gen.9:6 en derhalwe ’n vollediger omskrywing daarvan.

 

Volgens die wette wat God vir Israel gegee het, was daar 21 oortredings waarvoor die doodstraf opgelê kon word.   Dis in vier basiese groepe verdeel:

 

    misdade waarby mense gesterf het

    godsdienstige misdade

    etiese misdade en

    vormlike (seremoniële) misdade.

 

By misdade waarby mense gesterf het, is die vergeldingsreg van krag - soos wat jy aan ’n ander doen, moet aan jou gedoen word; ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand en ’n lewe vir ’n lewe.  Die Bybel eis dat moord vergeld moet word, ’n taak wat God uitsluitlik aan die staat oplê.   In oud-Israel was daar vrystede, plekke waar vermeende oortreders ’n regverdige verhoor kon verkry.  Indien so ’n persoon wel aan moorde skuldig was, is hy tereggestel.

 

Mense wat aan godsdienstige misdade soos Sataniese rituele skuldig was of God gevloek het, is ook tereggestel.   Israel moes weet dat God ’n heilige God was.  Sy hoogheid durf nie bespot, geminag of belaster word nie.

 

Onder etiese misdade is die slaan of vloek van ouers gereken (Ex.21:15,17) asook die koppigheid van ’n seun wat hom boonop ook aan drank oorgegee het (Deut.21:18-21).  So ook verskeie vorms van verbode geslagsgemeenskap (Deut.22:13-30).   God het aan Israel sekere heiligheid- en reinheidswette gegee sodat hulle anders as die heidene moes leef.  “En julle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees” (Ex.19:6).

 

Om heiden elemente by eredienste in te bring, is as vormlike misdaad beskou wat die doodstraf verdien het.  In Lev.10:1,2 vertel Moses van Nadab en Abihu, die seuns van Aaron, wat vreemde vuur (heidense reukwerk) geoffer het waarna God self as teregstellings-beampte opgetree en die twee met vuur uit die hemel verteer het.   Selfs die skending van die Sabbat kon met die dood by wyse van steniging gestraf word (Num.15:32-36).   Al hierdie dinge was nodig om die heiligheid van God by Israel in te skerp.

 

Desondanks lees ons in die Bybel van moordenaars wat nie tereggestel is nie. Kain het sy broer doodgeslaan en Moses ’n Egiptenaar.  Dawid het Uria, die man van Batseba, laat ombring.   Daar word nie gesê waarom hulle nie aan die pen gery het nie.

 

Die doodstraf op moord moet in die lig van Gen.9:6 verstaan word.  Omdat hierdie opdrag voor Israel se ontstaan as volk gegee is, is dit logies dat dit vir die ganse mensdom bedoel is en later plek in die wetgewing van Israel sou kry.   Dis universeel en geld vir alle tye.   Die rede vir die doodstraf vir die ander oortredings is nie so voor die hand liggend nie.  God het waarskynlik daardeur sy Goddelikheid en heiligheid by Israel ingeskep en was die doodstraf in daardie gevalle lerend van aard.

 

Nêrens in die NT is die doodstraf ooit opgehef nie.   Die NT maak dit egter baie duidelik dat slegs die staat die doodstraf mag oplê en voltrek en nie ’n individu nie: “Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte….want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede, maar as jy kwaad dien, vrees dan, want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:3,4).

 

Dat die owerheid die swaard dra, dui op sy bevoegdheid om die doodstraf te voltrek.   Onthoofding was in die NT ’n baie algemene teregstellings-metode.  In Hand.12:2 skryf Lukas dat Herodes die apostel Jakobus met die swaard laat doodmaak het.  Die swaardmag was sinoniem met die reg om booswigte dood te maak.   God het aan die staat die opdrag gegee om wet en orde te handhaaf.   Gevolglik het burgers die reg om van die staat te verwag om in hul basiese behoeftes te voorsien.     Daarvoor is die doodstraf ’n vereiste.  Daarsonder kan wet en orde nie gehandhaaf word nie.  Lande wat dit afgeskaf het, het almal met wetteloosheid te kampe.

 

Paulus stel dit duidelik dat die staat sy mag van God ontvang en derhalwe ’n dienaar van God is.   Wie hierdie mag nie gebruik nie, word ’n dienaar van die Satan!    Daar staan geskryf dat die owerheid die swaard nie verniet dra nie.   Dis sy goddelike plig om diegene wat die doodstraf verdien, regmatig te straf.   Indien hy weier, is hy nie ’n dienaar van God nie.  Wat sleg is vir die bye, is sleg vir die korf!

 

Toe Jesus voor Pilatus verskyn, sê Pilatus vir Hom: “….Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?” (Joh.19:10).  Hierop het  Jesus hom geantwoord: ” …U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie…” (:11).  Jesus het Pilatus se gesag ’n Godgegewe gesag geag.

 

Toe Paulus later voor Festus staan, sê hy: “….Ek staan voor die regterstoel van die keiser waar ek geoordeel moet word….as ek oortree het of iets gedoen het wat die dood verdien, weier ek nie om te sterwe nie…” (Hand.25:10,11).  Paulus het die owerheid wat die reg het om die doodstraf op te lê, eerbiedig.

 

Die NT vermeld geen voorskrifte vir die oplegging van die doodstraf soos die OT nie.  Ons weet wel van die twee kwaaddoeners wat saam met Jesus gekruisig is.   In daardie tyd kon die Joodse Raad die doodstraf op oortredings van godsdienstige, sedelike en vormlike aard by wyse van steniging voltrek.  So is Stefanus byvoorbeeld op ’n klag van lastering gestenig (Hand.7).  Jesus het egter wel verhoed dat hulle Hom by geleentheid wou stenig.  So ook die owerspelige vrou (Joh.8:3-7).

 

Uit Jesus sy optrede teenoor dié vrou blyk tog dat Hy in gevalle van godsdien-stige en sedelike oortredings ’n ander weg as dié van doodstraf aangewys het nl. berou en bekering.   Die doodstraf vir godsdienstige, etiese en vormlike oortredings is geleidelik uitgefaseer.

 

’n Owerheid wat booswigte straf, is ’n instrument in God se hand wat namens Hom die boosheid vergeld.   Geen mens durf in ’n persoonlike hoedanigheid wraak neem nie.  Ons moet kan vergewe.  In die Onse Vader bid ons dat God ons moet vergewe soos wat ons ook ons skuldenaars vergewe.   God het die alleenreg om te vergeld: “Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Rom.12:19).

 

God oefen sy wraak en vergelding o.a. ook deur gehoorsame owerhede uit wat doodvonnisse oplê en voltrek.  Daarom word die owerheid ’n wreker genoem.  Die doodstraf dien om voornemende misdadigers af te skrik (Rom.13:3,4).  Vrees vir vervolging weerhou mense oor die algemeen van wandade.  Daarom is die doodstraf ’n beskermingsmaatreël die samelewing ten goede.  Owerhede is ’n instelling van God ten einde mense in staat te stel om rustig te leef en beskerm gevolglik die samelewing.  Daarom moet die straf altyd met die oortreding ooreenstem.

 

Elke mens het die reg om hom teen aanvallers te verdedig.  Hy het die lewe as gawe van God ontvang en dis sy plig om dit op te pas.   Indien hy in die proses van selfverdediging ’n aanvaller dood, is hy nie vir sy dood aanspreeklik nie.

 

’n Eerbare owerheid sal sy burgers teen booswigte beskerm, die doodstraf oplê en vinnig voltrek. . “Omdat die oordeel oor ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11).   Om moordenaars net lang gevangenisstraf op te lê, is nie reg nie.  As hulle vrygelaat word, kan hulle weer moor, soos al telkens gebeur het.  Om jare lank in ’n gevangenis te bly, is buitendien baie onbillik teenoor wetsgehoorsame belastingbetalers.

 

Vrysinniges sê dat die doodstraf geen afskrikmiddel is nie.   Rom.13 sê dat dit wel so is.  Ongelowiges dink graag anders as die Skrif.    Diegene wat teen die doodstraf gekant is, hou voor dat die lewe heilig is en onder alle omstandighede beskerm moet word.   Aanvallers mag selfs nie uit selfverdediging doodgemaak word nie.   Sulke pasifisme stuit gelowiges teen die bors!

 

Vrysinniges sê ook dat die doodstraf barbaars is en nie in ’n beskawing tuis hoort nie.   God gee dan self die doodstraf opdrag; hoe durf mense sê dat dit barbaars is!   Slegs die voltrekking daarvan kan barbaars wees.

 

Sommige mense sê dat Jesus se kruisdood aan God se eis voldoen het.  Daarom moet barmhartigheid aan alle mense bewys word, ook aan hulle wat gemoor het. Ja, Jesus het wel die straf vir alle mense gedra.  Dit hef egter nie die doodstraf per sè op nie.

 

Die sg. Bevrydingsteologie span egter die kroon as dit by verwarde denke kom.  Teoloë soos Boesak en Tutu glo dat die doodstraf onvanpas is omdat die verkeerde party gestraf word.   Bose samelewings moet eerder vir die kwaad verantwoordelik gehou word want bose samelewings kweek bose burgers.   Terug by die ideologie van die edel barbaar!

 

Is alle moorde aan die invloed van bose samelewings toe te skryf?  Onsin!  Die probleem lê by regerings wat hul goddelike plig versaak en ʼn misdaad-paradys skep.  Waar reg en geregtigheid ontbreek, heers die bose.   ʼn Goeie regering het herders en nie slagters nie.  ’n Slegte regering het slagters, maar nie herder nie !

 

’n Regering wat God se Woord gehoorsaam en aan moordenaars die doodstraf oplê, maak dit vir wetsgehoorsames goed om in so ’n land te bly.  So ’n regering staan nie skuldig aan die bloed van onskuldiges wat dalk mag vloei nie.   Die teendeel is egter ook waar – as ’n regering nie doelgerig teen misdadigers optree nie, is hy aandadig aan die selfde misdaad en ’n gruwel in die oog van God (Deut.21:1-9).

 

Wat staan ons hier aan die suidpunt van Afrika te doen?   Om God vir ’n nuwe regering te bid wat sy Woord sal gehoorsaam en wat orde in hierdie fiasko wat demokrasie genoem word sal bring!