Media

DIE VERLORE SEUN?

 

AAI,AAI DIE KAAPSE DRAAI, BY DIE GROOT SEE OMGEDRAAI?

Hoog gevlieg en laag geswaai!

In Kommentaar en Ontleding van die Beeldkoerant van Dinsdag 8 Mei 2012, waai daar n fris windjie van verandering in beide die kommentaar van prof. Koos Malan, en die feit dat sy kommentaar in Beeld gepubliseer is.

Persoonlik ken ek nie prof. Malan nie en derhalwe moet die afleiding nie gemaak word dat ek met hierdie artikel wil voorgee dat sy kommentaar van nou, sou verskil met wat hy aanvanklik geglo het nie.

 

Aai, aai die Witborskraai, hiervandaan na Mosselbaai!

Wat egter betekenisvol is, is prof. Malan se nugtere ontleding van die wrokkige, verstote en wraakgierige Afrikaners wat vir verskeie redes, aanvanklik  aanklank by die ANC gevind het, saam met die enger, beterweteriger en en afknoueriger Afrikaner-establishment van die eens suiwer Nasionale Party, en nou ontnugter is!  ʼn Groep Afrikaners wat nou besef dat hulle klaaglik mislei is en nou skaam-kwaad moet erken dat hulle verkeerd was. Hulle dwaalpad het hulle ver weg gelei van die beginsels en beleid wat noodsaaklik was vir vreedsame naasbestaan in ʼn veelvolkige samelewing.  Hulle toegewing aan die “Winds of Change” van Harold Macmillanfaam.

By die Groot see omgedraai!

Hoewel ek van mening is dat daar nog ʼn beduidende getal Afrikaners is wat hardnekkig weier om te erken dat hulle verkeerd was om die behoudende Afrikaner se beginselvastheid te verkleineer en inderdaad deel was van die probleem, maar veral ook van die dood en lyding van duisende van ons volksgenote, is dit tog n vars briesie om vanuit die akademici en die media, hierdie insig en bereidheid tot publikasie daarvan te kry.

ʼn Nuwe visie is dit bepaald nie!  Inteendeel! Wat hier in Suid Afrika ontplooi het sedert  Vorster, Botha en de Klerk se regerings, as deel van die beterweteriger en afknoueriger   “Afrikaner establishment”, afgewyk het van die bewese suksesvolle Nasionalistiese pad van regte Afrikaners soos Hertzog, Malan, Strydom en Verwoerd, het presies gebeur wat hulle voorspel het en by herhaling teen gewaarsku het!

Mag hierdie windjie van verandering al sterker waai totdat al die Afrikaners wat uit innerlike oortuiging by mekaar tuis hoort, bymekaar gebring is!  Dit is beriggewing soos dié wat in Beeld geplaas is en deur Radio Pretoria voortgesit is met ʼn onderhoud met prof. Malan, wat ʼn mens van Afrikaner media verwag!  Dit kan ons volk by die “Groot See” laat omdraai, terug na ons land toe. Want hiérdie land is óns land!