DIE REAKSIE VAN HENRY JACKSON VAN ZIMBABWE OP DIE ONTNEMING VAN SY PLAAS EN DIE AVP SE STANDPUNT DAAROOR
Beeld 2012-04-30 22:17
Hoe reageer ’n boer wanneer daar op sy plaas beslag gelê word? Henry Jackson, ’n boer van Gweru in Zimbabwe, het die volgende boodskap gister aan vriende en familie gestuur nadat dit verlede week met hom gebeur het.
‘My plaas is gevat! Daardie frase is amper so skrikwekkend as die woord ‘kanker’. Dinsdag 24 April, terwyl ek besig was om kuilvoer te sny, het vier spoggerige voertuie my plaaswerf ingejaag en omtrent 20 mans het uitgespring, donker van woede en siedende haat.
Ek het oorgestap en vriendelik gegroet, maar net mompelende antwoorde gekry. Die leier, die grondkommissaris, het begin: ‘Jy weet dat die regering alle plaasgrond verkry het en dat jy onwettig op die plaas bly.’ ‘O,’ het ek geantwoord.
‘Wel,’ het hy voortgegaan. ‘Ons het ’n nuwe eienaar wat ons wil bring en aan jou wil voorstel.’ Hy het gevra of daar plek is waar ons kon sit en praat, en toe ons (bene uitgestrek) ons sit gekry het op ons stoep se stoele, het die intimidasie begin. ‘Ons verwag dat jy saamwerk met die nuwe eienaar. Ons wil hê die oorgang moet vlot verloop.’ ’n Besonder groot individu het bygevoeg, met diep haat wat uit sy gesig straal: ‘As jy nie saamwerk nie, sal ons ons kêrels stuur en jy sal sonder enigiets weggejaag word – nie eens jou klere nie. Jy sal niks saamvat nie.’
Nog ’n man het gevra: ‘Weet jy wie ek is?’ Ek het gesê ek weet nie. Hy het gesê: ‘Ek is mnr. *** (ek kan nie sy naam onthou nie) en ek kan mense binne twee uur van hul plase afkry!’ Hy het twee vingers in die lug gehou en kragdadig herhaal: ‘Twee uur!’
Ek was taamlik stil tot op dié punt, maar het toe sag geantwoord: ‘Mnr. ***, ek wil vir jou iets sê wat ek wil hê jy moet hoor.’ ‘Wat is dit?’ het hy nors gevra. Terwyl ek my vinger na hom wys, het ek sag gesê: ‘Ek vrees jou nie. Ek vrees slegs vir God. Ek en jy sal albei eendag sterf en in ons eie skoene sal ons voor God staan en verantwoording doen vir wat ons in dié lewe gedoen het, jy vir jou dade en ek vir my reaksie daarop.’ Dit het gelyk of dit hom taamlik van stryk gebring het.
Met nog baie dreigemente is hulle daar weg, so vinnig as hulle gekom het, en met die belofte om die middag terug te wees om die nuwe eienaar aan my voor te stel. Toe hulle terugkom, was daar minder van hulle en net twee motors, en ek het tyd gehad om tot verhaal te kom.
Die man, sy naam is Philemon, wou weet hoeveel tyd ek nodig het en ek het gesê: ‘Ses maande sou ideaal wees sodat ek deur die winter kan kom.’ Hy het gesê dis te veel en ek het gevra hoeveel tyd hy my sou gee. Hy het gesê: ‘Drie maande.’ Ek het besef dit was baie welwillend vergeleke met wat ander boere gekry het en dit aanvaar.
Binne ’n paar uur was die saak beklink en ek het my plaas, my lieflike huis en blyplek verloor, met nêrens om te gaan nie.
Maar die Here het my voorberei op dié dag. Oor die afgelope twee jaar het die Here baie met my gepraat oor my eie hart se houding en daar het baie reiniging plaasgevind. Veral die afgelope drie maande het hy dikwels die gedagtes in my hart geplaas dat ek my plaas gaan verloor. Ek het geweet daar kom ’n toets in my lewe en dat Hy van my, sy kind, verwag om te reageer soos hy sou.
Toe die voertuie Dinsdag ingejaag kom, het ek dadelik geweet die tyd het aangebreek. Julle sien, daar is niks wat in dié lewe gebeur wat vir ons hemelse Vader ’n verrassing is nie. As ons sy kinders is, is ons lewens veilig in sy hande. As ons na sy stem luister en doen wat Hy sê, is daar geen rede om bang te wees vir wat mense aan ons kan doen nie, of om die toekoms te vrees nie. En wat sê Hy moet ons doen as dié soort ding met ons gebeur? Is ons gewillig om sy woorde op ons lewens toe te pas?
Matteus 5:44 sê: ‘Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel ...’ Is Jesus se opdrag vir ons bedoel of nie? Waarom sien ek so baie Christene met sulke diep rassehaat en bitterheid wat in hulle kook? Moet ons nie kinders van ons Hemelse Vader wees wat sy karakter uitstraal nie? Watter getuienis leef ons uit as ons met siedende woede reageer? Hoe is ons dan beter as die wêreld?
Toe ek Philemon die volgende dag sien, was hy nog net so senuweeagtig en hy het op die punt van sy stoel gesit.
Ek het vir hom gesê: ‘Philemon, al het ek nêrens om heen te gaan nie en al het jy op een dag my lewensdroom van my weggeneem, sal ek nie bitter of kwaad vir jou wees nie. ‘Ek wil jou seën as jy die plaas oorneem. Ek wil jou help sover ek kan. Ek wil hê jy moet dié plaas soveel geniet as wat ek dit geniet het.’
Hy het positief gereageer en meer verbasende toegewings gemaak. ‘Jy kan alles wat jy wil van die plaas af neem en as jy bereid is om enigiets te los, sal ek jou daarvoor betaal,’ het hy gesê. Ons het blad geskud en is as vriende uitmekaar. Die Bybel sê: ‘’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.’ (Jakobus 1:20).
Ons moet die groter prentjie raaksien en nie so styf vashou aan die paar aardse besittings wat ons het nie. Ons Hemelse Vader is goed in staat om in al ons behoeftes te voorsien, en as ons ons aardse besittings in oop hande hou, kan hy daarvan neem of daarby voeg wat Hy wil. Nie eens ’n mossie val sonder dat Hy dit weet nie. Kan Hy nie voorsien in ’n huis en plek om my koeie te melk nie? Natuurlik kan hy! Waarom sal ek dan toelaat dat my hart gevul word met haat vir ’n man vir wie Jesus gesterf het? Ek wil liewer sien dat dié man en sy gewelddadige vriende in die Koninkryk ingebring word.
Jy sal nooit die oorlog van rassehaat met haat wen nie. Dit kan slegs gewen word met liefde en vergifnis. Die sterkste krag ter wêreld is nederige liefde. Het Hy nie gesê: ‘Die sagmoediges sal die aarde beërwe’ nie? Moenie die enorme krag van eenvoudige nederigheid onderskat nie – waar ons sê: ‘Nie my wil nie, maar u wil geskied.’
Natuurlik is dit wat hulle doen onwettig. Ek kan die saak wen as ek hof toe gaan. Maar teen watter prys? Met meer haat, met intimidasie en geweld teen my werkers, en verskrikking vir my liewe vrou? Nee, ’n plaas is dit nie werd nie.
Ek sal nie ’n stuk grond probeer behou en my kosbare vrou in gevaar stel en aan verskrikking blootstel nie. Sy is baie meer werd as ’n plaas.
Soos sake nou staan, het ek nêrens om heen te gaan nie. Jesus se dissipels het Hom gevra waar Hy tuisgaan. Hy het geantwoord: ‘Die jakkalse het gate en die voëls het neste, maar die Seun van die Mens het nêrens om sy kop neer te lê nie.’ Ek voel ek is in goeie geselskap! Maar ek het ’n absolute en bonatuurlike vrede en vertroue dat my Hemelse Vader iets baie beters vir my het as wat ek gehad het. Hy maak een deur toe net om ’n baie groter deur oop te maak.
So, vir julle wat gehoor het dat my plaas gegryp is. Moet asseblief nie om my onthalwe die vuur van rassehaat en bitterheid aanblaas nie. Plaas liewer jul vertroue volledig op ons liewe Hemelse Vader en wag om te sien hoe wonderlik hy dié situasie tot sy eer gaan omkeer.”
DIE AVP SE STANDPUNT
Om Henry Jackson se optrede te beoordeel, is daar ʼn paar sake wat in aanmerking geneem moet word.
As die boek van Douglas Rogers, “THE LAST RESORT”, gelees word waarin hy sy ouers se stryd om hulle eiendom in Zimbabwe te probeer behou en te probeer oorleef, sal onmiddellik verstaan word dat daar geen manier is waarop enige blanke ʼn plaas in Zimbabwe sou kon behou nie. Alle plaasgrond was reeds in 2005 deur wetgewing aan die regime verbeurd verklaar. Douglas Rogers verwys op bladsy 201 van sy boek na ʼn presiese replika van sy Vader se transportakte van sy plaas by Mutara, waarop ʼn groot stempel op afgedruk was wat die plaas aan die president van die land oordra. “It’s here, said mr. Maranga, handing him the document with a half smile.
It was an exact replica of the original my father had in his safe. But there had been an addition to it. A large, official-looking stamp had been planted smack in the centre. It read: In terms of section 168(4) of the Constitution of Zimbabwe, this Property now vests in the President of Zimbabwe.” Dit, terloops, het alle plaaseiendomme in Zimbabwe gegeld!
Op bladsy 239 verwys hy na die “Citizenship Act” of March 2001 which was used to disenfranchise white Zimbabweans, most of whom had European ancestry....”. Dié wet het ook bepaal dat blankes hulle burgerskap van elders moes afsweer en trou sweer aan Mugabe.
Op 5 Februarie 2008 word ʼn “Regering van Nasionale Eenheid” gevorm en Tsvangirai ingesweer as Zimbabwe se eerste minister. Mugabe was egter steeds president en die intimidasie, aanrandings, ontvoerings, aanhoudings en moorde op die MDC van Tswangirai, asook die plaasbesettings en aanvalle op blanke plaaseienaars, het onverpoosd voortgeduur tot vandag toe!
As gesoute Zimbabwiër was Henry Jackson waarskynlik op hoogte van wat in Zimbabwe aan’t gebeur was en derhalwe was sy optrede in die lig van die mediadekking wat hy daarvoor verkry het, die beste benadering wat hy kon volg. Wat die etiek daarvan betref, sal slegs mnr. Jackson, vanweë sy werklike motivering, homself kan beoordeel en sal die AVP ons nie daarmee bemoei nie.
Die invloed wat deur sy openbare verklaring, grondeienaars in Suid Afrika mag beïnvloed, is egter wel van belang en verdien dit kommentaar.
Twee onomstootlike waarhede wat hier in aanmerking geneem moet word is die gesag van God’s Woord. Dat ons met niks in hierdie wêreld ingekom het nie, en dat ons ook só daar sal uitgaan. Met niks! Want alles wat ons is en alles wat ons het, tesame met die hele Skepping, behoort aan God.
Dit beteken egter nie dat ons onverantwoordelik kan omgaan met dit wat ons as pand uit God se hand ontvang het nie. Dit is moeilik om te glo dat God vir bykans vierhonderd jaar, ʼn volk aan die Suidpunt van Afrika sal laat ontstaan, op wonderbaarlike wyse beskerm en bewaar teen magte en owerhede en barbare, om ons dan te laat oorneem deur kapitulasie aan heidene en magsugtiges. Behalwe as ons ons land en/of volk bo Hom gestel het. Sport en geld en goed Sy plek in ons volkslewe kom inneem het en afvalligheid en ongehoorsaamheid en ongeloof ons leefwyse geword het!
Tweedens leer ons uit Christus se antwoord aan Pilatus dat niemand enige mag het behalwe wat van bo gegee word nie. Alle mag kom tot ʼn einde! Ook die mag wat die Swart Zimbabwiërs nou so kwistig misbruik, is in God se hand en sal mettertyd van hulle weggeneem word.
JOHANNES 19:10,11
En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie?
Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde .
Om dus aan praktyke deel te hê wat God se toorn opwek, of dit gelate te laat begaan sonder enige weerstand en dan God se Woord te gebruik as ʼn skuilplek vir my swakheid en ongeloof, sou ʼn tragiese misbruik van die Woord van God wees om my verantwoordelikheid te ontduik en dan nog selfs simpatie te verwek deur dit van die dakke af te verkondig.
As getuienis van ʼn gelowige en gehoorsame daad wat die eer van God vooropstel, het Henry Jackson se optrede ʼn geweldige waarde vir alle gelowiges. As politieke hefboom met die oog op groter persoonlike seën van materiële waarde in die toekoms, is dit as voorbeeld dekadent omdat dit die mens se belang in die oog het wat deur sy “prestasie” ʼn verdienste in die vooruitsig stel.
Dit is te betwyfel of enige gelowige dieselfde optrede sou volg of goedkeur indien daar nog genoegsaam Boere op die grond was wat effektief weerstand kon bied teen sulke onreg wat nie net die boere benadeel het nie, maar ʼn hele bevolking! Die rassehaat waarna Jackson verwys is eensydig en ʼn simptoom van ongebonde magsug wat onbeheersd sal voortwoed, ongeag sy optrede. Indien daar nie meer blankes in die pad staan nie, dan kom hulle eie mense in die visier.
Verantwoordelike bestuur, die handhawing van dissipline en wet en orde, is vervang met die rassehaat waarna Henry Jackson verwys, as gevolg van die demografiese oorheersing van Swart oor Blank toe die Blanke die onverantwoordelike stap van magsdeling as beleid aanvaar het. God het die mens oor Sy Skepping aangestel om daaroor te heers. Dit impliseer ʼn noukeurige verantwoordelikheid wat nie gehandhaaf kan word deur die Humanistiese beginsel van gelykheid wat eindig in die ongelykheid van anargie en chaos wat hulle dan met godsdienstige aanhalings probeer regverdig nie.
As die Afrikanervolk hom egter nie in sak en as bekeer soos die stad Ninevé, nadat Jona hulle gewaarsku het nie, sal selfs Henry Jackson se voorbeeld, wat die motivering nou ookal daarvoor was, ons nie van ondergang red nie!
