Media

POLITIEKE WAANSINNIGHEID!

Kan ʼn mens willens en wetens deel wees van besluitneming wat die dood van honderde duisende mense tot gevolg het en daarbenewens ʼn beskaafde hoogsontwikkelde Eerstewêreldland deur korrupsie, wanbestuur en moedswillige onverantwoordelikheid ten gronde laat rig en dit dan deur onsinnige dubbelsprakigheid probeer regverdig asof jy geen skuld daaraan het nie en verwag dat die mense wat jy daardeur benadeel het, moet jou glo?  Wyle mnr. Jaap Marais het by geleentheid van so ʼn persoon gesê: “ Man, die Engelse het ʼn spreekwoord wat hier sal pas,... This man was educated beyond his intelligence!”

Daar is egter ook ʼn ander vergelyking wat hier soos ʼn handskoen pas: "A nation can survive its fools and even the ambitious. But it cannot survive treason from within. An enemy at the gates is less formidable, for he is known and he carries his banners openly against the city. But the traitor moves among those within the gates freely, his sly whispers rustling through all alleys, heard in the very halls of government itself. For the traitor appears no traitor; he speaks in the accents familiar to his victim, and he wears their face and their garments and he appeals to the baseness that lies deep in the hearts of all men. He rots the soul of a nation; he works secretly and unknown in the the night to undermine the pillars of a city; he infects the body politic so that it can no longer resist. A murderer is less to be feared. The traitor is the plague." - Marcus Tullius CICERO (106 - 43 BC)

Kyk noukeurig na die inhoud van die propagandablad  hier onder van die Nasionale Party, Skietgoed, wat uitgegee is in Junie 1977. Dit was opgestel deur F.W. de Klerk wat toe ʼn lid van die Volksraad was (LV.) Dít was sy siening van die Progressiewe Reformiste Party se beleid en wat dit vir Suid Afrika ingehou het, sou hulle ooit aan bewind kom en daardie beleid in Suid Afrika toepas.

Wat dit ook al was wat de Klerk beweeg het om dit wat hy geweet het met Suid Afrika sou gebeur indien daardie politieke beleid gevolg en toegepas sou word, het hy en sy gevolg se optrede op niks anders as naakte verraad neergekom wat derduisende blankes se lewens op wreedaardige wyse gekos en nog ander s’n ontwrig het

Lees self de Klerk se verklaring wat volg en wat deur die de Klerk Stigting uitgegee is en sien hoedat dit wat hy in Junie van 1977 vas geglo en verkondig het, nou onder ANC-bewind werklikheid word.  Daardie goue draad van Nasionalisme wat van ons vroegste voorgeslagte deur ons volksleiers gedra is en deur John Vorster, P.W. Botha en hy wat de Klerk is, verraai is terwille van Internasionale aandrang, kla hulle nou aan!  Daar bestaan geen regverdiging vir die argument dat daar nou afgewyk word van waaroor ooreengekom is, met die insinuasie dat die skuldlas by die ANC lê nie.  Hulle was by herhaling, nee, tot vervelens toe gewaarsku dat dit onvermydelik is dat die swart meerderheid uiteindelik demografies sal oorheers!  Daar is ook by herhaling gesê, kyk na die geskiedenis! Kyk na Afrika as aanskouingsles! Die magte wat gedring het was egter sterker as die gewete!

Aanhalings uit Skietgoed

Uitgegee deur die Inligtingsdiens van die Nasionale Party 1977 - opgestel deur FW de Klerk

Waardelose waarborge

 Wat van die beveiliging van minderhede deur die PRP se voorgestelde handves van menseregte, onafhanklike regbank en ingewikkelde Senaat as waghond oor die belange van groepe? Al hierdie tierlantyntjies is waardeloos as dit nie gedra word deur die oorweldigende geloof en steun van die oorgrote meerderheid van die bevolking nie. In Nigerië het ’n mooiklinkende Handves van Menseregte nie verhoed dat ’n ganse volk, die Ibo’s feitlik totaal uitgemoor is nie. Wanneer ’n volk glo in die demokrasie, regsoewereiniteit en beveiliging van minderhede, is daar geen behoefte aan wel klinkende handveste nie. En wanneer maghebbers onbillik teenoor ‘’n minderheid wil optree, dan is daar geen handves wat hulle sal keer nie.

Ongekende Magstryd

Tot watter gevolgtrekking bring dit ons alles? DAT DIE PRP SE BELEID VAN MAGSDELING IN ’n FEDERASIE, SUID-AFRIKA SAL DOMPEL IN ’n ONGEKENDE MAGSTRYD WAT ONVERMYDELIK SAL UITLOOP OP DIE ONTWRIGTING VAN WET EN ORDE, VAN DIE EKONOMIE, VAN RASSEHARMONIE EN VAN VREDE; EN DAT DIE PRP SE BELEID ’n BLOUDRUK IS VIR DIE ONDERGANG VAN DIE WIT MAN EN DAT DIT ALLE MINDERHEIDSGROEPE SAL UITLEWER AAN DIE GENADE VAN DIE MAGSGROEP – EN DIT KAN SELFS ’n GROEP WEES WAT DIE MARXISME AANVAAR – WAT AS OORWINNAARS UIT DIE MAGSTRYD SAL TREE.

Dié bostaande waansinnige beleidsrigting is vergestalt in de Klerk se waarneming van wat Radebe in gedagte het, as of dit nie reeds sigbaar is in die 18 jaar wat verby is en wat deur de Klerk besing word. Hoe verskil die logika met dié van Malema wat sê, as ek sê skiet die Boer, dan beteken dit nie skiet die Boer nie, of Zuma wat sê almal in die land is veilig, jy moet net voel dat jy veilig is, dan is jy veilig!  Jaap Marais het gesê as jy in die stelsel ingaan, sál jy in hom opgaan! Dit wil vir my voorkom of hulle logika aansteeklik is as jy so saam-saam sonder ras in die stelsel opgegaan het! (sluit die aanhalings uit Skietgoed)

•DIE ANC BEPLAN OM SUID-AFRIKA SE HISTORIESE GRONDWETLIKE KONSENSUS TE BEËINDIG.

Deur F W de Klerk

Agtien jaar gelede, in November 1993, het ons as Suid-Afrikaners ooreenkoms bereik oor

die soort land wat ons wou word. Na drie jaar van moeilike onderhandelinge het ons saamgestem dat ons 'n samelewing wou skep waarin die Grondwet, en nie die meerderheid van die dag nie, soewerein sou wees.

Ons het ooreengekom dat die Grondwet volle voorsiening sou maak vir die beskerming van al ons grondliggende regte; dat ons vry en onafhanklike howe sou kry; en dat ons 'n ten volle demokratiese regeringstelsel, onderworpe aan 'n regstaat sou skep.  Ons het almal saamgestem oor die behoefte aan transformasie, oor die snel ontwikkeling van ons mense tot gelykheid, menswaardigheid en die genieting van alle regte. Ons het ook ooreengekom om ons tale en kulture te beskerm en om te verseker dat niemand arbitrêr van sy eiendom ontneem kan word nie. Partye wat ongeveer 90% van ons bevolking verteenwoordig het, asook aansienlike meerderhede in al ons gemeenskappe, het die grondwetlike akkoord onderskryf. Ons het ooreenkoms bereik ten spyte van ons diep verdeelde en traumatiese

geskiedenis. Ons het geslaag ten spyte van al die krisisse, die uitlopery, die geweld en die realiteit dat ons almal pynlike toegewings moes maak.

Ons prestasie was hoog aangeslaan deur die hele wêreld en was met reg beskou as een van die bekroonde suksesse van die laaste gedeelte van die 20ste eeu. Dit was oral beskou as 'n voorbeeld aan all verdeelde gemeenskappe oor wat bereik kon word deur rasionele debatvoering, kompromie en goedertrou. Ek glo dat, aan welke party ons ook al behoort het, dit ons grootste uur was.

Dit was op hierdie grondslag dat die Nasionale Party onder my leierskap soewereine mag oorhandig het, nie aan 'n politieke party nie, maar aan die Grondwet. Vroeër hierdie week, in besprekingsdokumente vir sy opkomende beleidskonferensie, het  die ANC aangekondig dat dit alles wat bereik is, wil wegvee. Hy was van mening dat die magsbalans nasionaal sowel as wêreldwyd genoegsaam verskuif het sodat hy met die skikkings wat in 1993 en 1996 gemaak het, kan wegdoen.

Volgens  Jeff Radebe, die ANC se Beleidshoof, het "ons eerste oorgang ʼn raamwerk gevorm het wat toepaslik was vir politieke bevryding, ʼn politieke oorgang, maar dit het geblyk ontoereikend en ontoepaslik te wees vir ons maatskaplike en ekonomiese transformasiefase.” Radebe het ook aangekondig dat die ANC beplan om van sekere van die hoekstene waarop ons nuwe samelewing gevestig is ontslae te raak, insluitend die huidige rol en magte van die provinsies. In ooreenstemming met die omstrede Groenskrif oor Grondhervorming, is eiendomsreg ook op risiko. Ander hoekstene van die grondwetlike verdrag wat reeds bedreig word is taalregte, die reg op onderwys in 'n taal van keuse; die vryheid van uitdrukking en die reg op toegang tot inligting. Meer ernstig, is die regering besig om skuiwe te maak om die rol van

die howe te beperk.  Niks hiervan behoort ʼn verrassing te wees nie, aangesien die ANC eenvoudig die volgende stap van sy alombekende Nasionale Demokratiese Revolusie implementeer.

Die Nasionale Party het nie naïef, of met sy oë gesluit vir die ideologiese natuur  van die drie-party alliansie, tot die oorgang ingestem nie. Hy het ten volle besef dat die ANC wel eendag van sy plegtige beloftes sou onttrek. Die NP het

geglo dat, bykomend tot die waarborge wat ons in die Grondwet onderhandel het,  daar ander kragtige magte was wat sou verseker dat alle partye ons akkoord sou eerbiedig:

• die ineenstorting van die Sowjet Unie het die ideologiese mat onder die voete van kommuniste oor die hele wêreld uitgeruk;

• 'n nuwe wêreldkonsensus het ontwikkel oor die grondslag van demokratiese regering en verantwoordelike fiskale en ekonomiese beleid. In hierdie globale wêreld kan geen regering bekostig om hierdie nuwe internasionale waardes te ignoreer nie;

• ons het ook gehoop dat, soos die ANC gewoond raak aan die kompleksiteite van regering, hy stilweg sy uitgediende ideologieë sou agterlaat;

• ten laaste, het ons besef dat net soos ons nie die land kon regeer teen die wil van die meerderheid nie, 'n meerderheidsregering nie in staat sou wees om effektief te regeer indien dit die fundamentele regte van ons minderhede sou skend nie. Ons simbiotiese verhouding het voorgeskryf dat, al hou ons nie daarvan nie, ons sou moes saamwerk om sukses te behaal. Ons sou dwaas gewees het om nie hierdie unieke geleentheid vir 'n regverdige en eerbare skikking aan te gryp nie.

•          Die daaropvolgende 18 jaar het bewys dat dit die regte besluit was. Soos die ANC uitwys, het Suid-Afrika betekenisvolle vooruitgang gemaak op vele gebiede. Ons land word gerespekteer in Afrika en oor die wêreld as 'n inspirerende voorbeeld van 'n nie-rassige demokrasie. Selfs met al sy foute is dit 'n veel beter en veel meer regverdige land as in die verlede.

Ons het inderdaad nie naastenby genoeg vooruitgang gemaak om die onaanvaarbare vlakke van ongelykheid, armoede en werkloosheid aan te spreek nie. Hierdie transformasie mislukkings kan nie toegeskryf word aan ons Grondwet nie. Hulle is hoofsaaklik die gevolge van ongepaste beleidsrigtings. Blykbaar wil die ANC nou alles in gevaar stel. Hy glo dat dit die invloed van die vryemark demokrasieë kan afskryf en eerder by China, Rusland en sy vriende in Kuba inskakel.

Hy glo dat hy 'n nuwe benadering tot ekonomiese ontwikkeling kan uitvind wat hom sal bevry van die behoefte aan fiskale verantwoordelikheid wat hy met soveel sukses vir die eerste 17 jaar van sy regering beoefen het.

Hy dink, met groot gevaar, dat hy minderhede kan behandel soos dit hom aanstaan en nuwe vorme van diskriminasie oplê wat in ooreenstemming met sy ideologie van die Nasionale Demokratiese Revolusie is.

 

•          Hy is verkeerd. Enige poging om die plegtige nasionale konsensus wat ons tydens die grondwetlike onderhandelinge bereik het te laat vaar, sal die moedige grondslag vir nasionale eenheid, demokrasie en transformasie wat ons sedert 1994 ontwikkel het, onherstelbaar vernietig. Dit sal die verdeeldheid van die verlede weer oopvlek en die land volgens rassegrense verdeel. Sodra die magte van die onafhanklike howe genoegsaam afgewater is, sal dit die vooruitsig van ‘n gemeenskap wat op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en fundamentele menseregte gegrond is, beëindig.

Daar is vele ander aangeleenthede in die besprekingsdokumente wat problematies is, maar ek het hier slegs met sommige van die sleutelpunte gehandel. Soos Minister Radebe uitgewys het, is die besprekingsdokumente bedoel om die grondslag vir kragtige nasionale debatvoering te wees. Hy nooi “alle sektore van die Suid-Afrikaanse samelewing en ons mense in die algemeen om met hierdie dokumente betrokke te raak” omdat hulle “’n diepgaande uitwerking op die toekomstige ontwikkeling van hierdie nasie sal hê.” In hierdie gees, wil ek graag my versoek aan die regering herhaal om opregte samesprekinge te hou met daardie elemente van ons samelewing, vanuit al ons gemeenskappe, wat steeds die grondwetlike konsensus ondersteun wat die ANC nou wil verwerp.

UITGEREIK DEUR DIE FW DE KLERK STIGTING

KAAPSTAD, 7

MAART 2012

 

Dr. Verwoerd het die voorwaarde vir voortbestaan so gestel: “As ons in Suid-Afrika ‘n beleid van integrasie sou aanvaar, dan sou ek sê dat nieteenstaande alle tierlantyne wat jy daaraan heg op grond waarvan jy belowe dat die blanke vir afsienbare tyd nog sal bly heers, sal die blanke hom op die ou end nie kan handhaaf nie. Die blanke sal hom nie kan handhaaf onder enige beleid van integrasie nie”  Hy het bv. verwys na die maatskaplike terrein van kerke en skole en hoe die blanke daar en op elke ander terrein, uiteindelik verdring sal word.

Sou de Klerk ruiterlik erken het dat hulle ʼn fatale fout begaan het in teenstelling met hierdie bo-staande politieke drek, sou hy waarskynlik politieke geloofwaardigheid kon terugwen. Ten spyte van Internasionale pryssange, is die veragting vir verraad altyd onderliggend omdat die motivering van die lofsangers beslis nie humanitêr was nie! Sonder belydenis en berou is daar geen vergifnis nie! 

Cicero het ook opgemerk dat, “Any man may make a mistake; none but a fool will stick to it.”
Second thoughts are best as the proverb says.