Tag, Buurman, siet en hoor ek deesdae dat die ouderdom ook nie meer is wat dit was soos vamelee nie. Nee, seg ek jou, oud is nie eers meer oud nie! Seg die Wêreld Gesondheidsorganisasie dat ʼn ou man van sestig, nog sommer maklik negentien somers kan bytel. Seker die lat Pik en FW die óú blare met nuwe groenetjies vervang het. Sit hulle mos darem daar waar die nuus vars is, seg ek jou.
Siet ek ook in die korant dat Pik se negentien jaar genadiglik om is. Worre hy nou tagentag in dese maand seg sy wederhalfte. So lyken dit vir my sal Zimbabwe se Mugabe hom ‘n hanetreetjie voor wees, seg die nuus van daar af. Seg hulle hy het neergeslaat in sy huis, toe vlieg hulle hom sommer in die nag na Singapoer.
Maar seg ek jou die waarheid Buurman, sy negentien jaar is ok al om, en in n plek soos Singapoer! Seg die nuus uit Zimbabwe hy’t klaar sy minister van oorlog die leisels gegee. Dis nou van die ouderdom, siet jy. Bedoelende Afrika ouderdom, Buurman. Jy regeer tot skuins diskant die hiernamaals, al is jy nou in jou Singapoer, seg ek jou die waarheid!
Wat sleg is van die ouderdom as jou negentien jaar begin kort raak, Buurman, is die hannevat vrinne se belastering, seg ek jou die waarheid! Vat nou maar ou Mandela wat hoeka in beseringstyd sy negentien jaar verby is. ‘n Boesemvrind, seg ek jou was hulle. Hanne gevat en voorgestoot tot by Nobel se verkoopbewyse, was hy en Frikkie onafskytbaar, Buurman! Maar nou seg Frikkie sy ou vrind was wreed en onregverdig en glad nie so heilig en vaderlik as wat mense gedink het nie. Seg ek jou die waarheid Buurman van die ouderdom, kom daar wysheid met die grysheid het my oorle ma altyd geseg! Maar seg my oorle pa altyd, “vrou, as jy dom is is jy dom! Jy is soos n jakkals seg hy. Jy verander van haar maar nie van snaar! As jy boonop skelm is, het jy net vrinne totdat jy niks meer het om te deel nie. Dan, Buurman, seg my oorle pa, word jy nog skelmer om weer anner vrinne se vrindskap te bekonkel,seg my pa!
Maar vat nou weer vir Daantjie vanner Walt, Buurman. Linkervleuel met nog net twee jaar van sy negentien jaar oor, seg ek jou! Seg die korant hy is 78 en speel nog al die jare van lat hy nege was, speel hy nog een strook rugby, seg hulle. Nog al sy hare en al sy tanne, wys sy portret, Buurman! Beginne ek dink dat die WGO die waarheid beet het oor die negentien jaar, seg ek jou die waarheid. Daar by die Amerikaners smaak dit my kan hulle vir die vrouens nog n ekstra twee of drie jaar bygee as hulle op tagentag n vliegmasjien kan land toe haar wederhalf se negentien jaar op 81 daar in die lug om was, seg die korant.
Dis net die president van Malawi waar daar lyken my n foutjie ingekom het met die negentien jaar se somme toe sy tyd op 78 ingekort is, seg hulle. Nee wat Buurman, dit wil my lyk of ons met van die liberales nog n rukkie sal moet uithou, seg ek jou die waarheid! Laat ons maar moed hou, almiskie kom daar nog n paar som foute, kan ons hoop.
Groete van ouderdom tot nog negentien jaar.
Jou dienswillige
Klaas.
