Media

6 APRIL 2011

6 APRIL 2012:

BEHOORT ʼn BESONDERSE DAG IN DIE AFRIKANERVOLK SE LEWE TE WEES!

Tradisioneel vier die Afrikanervolk op 6 April die Stigtingsdag van Blank Suid-Afrika. Vandag op 6 April 2012, val die viering van Paasfees egter op dieselfde dag en behoort dit vir elke ware Afrikaner ʼn besondere dag te wees omdat beide hierdie dae twee van die belangrikste gebeurtenisse in sy ontstaan en voortgang as volk verteenwoordig.

 PAASFEES

As ʼn volksfees is Paasfees waarskynlik naas Kersfees, die oudste fees wat ons as volk vandag nog vier. In die boek “ONS VOLKSFEESTE” deur P.H. Kapp. (M.A.) Onder redaksie van Pieter w. Grobbelaar, wat in 1974 verskyn het, verskyn ʼn interessante stukkie navorsing wat lig werp op sommige eienaardige gebruike rondom die viering van Paasfees.

Kapp verduidelik dat soos in die geval met Kersfees, daar ook in die viering van Paasfees, in Europa heelwat van die Oud-Germaanse gebruike oorgeneem is wat nie Christelik, maar heidens was. Die Paastyd van die Christendom het ooreengekom met die begin van die lentefeeste van die Germane wat op 1 Mei met die Meifees n hoogtepunt bereik het waar sekere gebruike deur die Christelike kerk oorgeneem is wat dan ʼn nuwe geestelike betekenis gekry het.

Groot vure is bv. Aangesteek wat later Paasvure van die Christelike kerk sou word, terwyl dit eintlik lentevure was om die son te verwelkom en vrugbaarheid oor veld en die stal moes versprei. Daar is dan om die vure gedans en self ʼn pop verbrand as simbool van oorwinning oor die winter!

Die kerk het die vuur behou as Paasvuur, simbool van die Nuwe Lig en simbool van die vreugde oor die opstanding van Jesus. Selfs die verbranding van die pop is behou as simbool van die verbranding van Judas Iskariot.

Die heidense feeste het simboliese handelinge, spele, offerandes en offermaal ingesluit waar die eier en gebak ʼn groot rol gespeel het. Die Christelike kerk het die eier en gebak behou en daarvan  ʼn Paaseier en Paasbolletjie, (hot-cross bun) en ʼn Paaslam gemaak. Die eier was in die volksgeloof die simbool van kiemende lewe en is daarom somtyds deur die boer in die grond begrawe, het ʼn bruidegom dit in sy broeksak gedra of moes hy voor die troue baie daarvan eet.  Dit sou vrugbaarheid bevorder.

Die haas, weer, is juis vanweë sy vrugbaarheid, met die eier verbind.

Die Christelike betekenis van die Paaseier is dat dit die verrysenis van Christus simboliseer en is dit sedert die vierde eeu in die Christelike kerk, die gebruik geword om die Paaseiers te seën. Die Paaskoek, (Paasbolletjies) en Paaslam het ook as simbole van vrugbaarheid gedien wat deur die kerk as simbole van Christus se offerande aan die kruis en oorwinning oor die dood verhef is.

Kapp se ontleding oor die vraag wat nou ontstaan oor waarom die kerk oor soveel eeue voortgegaan het om die heidense gebruike na te streef, en die gewone verklaring dat dit waarskynlik die houvas van tradisie oor eeue is wat so ʼn geweldige houvas op die mens het dat hy nie daarvan wil afsien nie, so kan wees.  Sy eie verklaring is egter dat dit gesoek moet word in die mens se behoefte om die abstrakte  deur eenvoudige, aangrypende en treffende simboliek te verwerk sodat hy dit konkreet en visueel kan beleef. Terwyl die kommersialisasie die mens se verkleefdheid aan tradisie uitgebuit het, het die Protestantse kerk se begrip van die Katolieke kerk se gebruik van die voornoemde simboliek, aan die Kaap tot uiting gekom.

Thunberg meld dat dit op Vrydag 17 April 1772, Goeie Vrydag aan die Kaap was. Daar is egter deur die koloniste op gewone wyse  gewerk tot die laat middag wanneer daar ʼn diens gehou was. Sy kommentaar was:  “Hulle vier dus net n halfdag vir Christus se begrafnis, maar nie vir Sy lyde nie.”  Vyftig jaar later onder Lord Charles Somerset, bevestig Teenstra  Thunberg se waarneming.  Hy meld egter wel dat Goeie Vrydag as een van die eerste heilige feesdae van die jaar gevier word en dat Paasfees die Maandagmiddag om twaalfuur verby is.

Die vraag wat ons in 2012 vir onsself moet afvra, is wat beteken die lyding, kruisiging en opstanding vir my persoonlik, my huis, my familie en my volk. Nie die simbole, tye of gebruike en rituele van die heidene nie, slegs maar die gebeure soos opgeteken in die Woord van God en die betekenis daarvan soos wat dit in die Bybel uitgelê word. Terwyl ons baie nader aan die eindtyd is as enige van ons voorgeslagte, kom laat ons wegdoen met die heidense gebruike en bly by die suiwer Woord van God en hierdie dag en verdere verloop só inrig dat God daardeur verheerlik sal word en dit nie maar bloot vir ons vakansie beteken nie!  Ons voortgang as volk sal grootliks daardeur bepaal word.

 

STIGTINGSDAG

Dit is interessant om te weet dat dit eers deur die toedoen van Hollanders was dat 6 April 1652 as feesdag in ons volk op dreef gekom het. Jan van Riebeeck het wel in sy dagregister dié dag as ʼn besondere dag gereken en die wens uitgespreek dat dit as ʼn dag tot eer van God en met danksegging  gevier moet word vir die seëninge ontvang en dat dit vir altyd as ʼn blywende dank-en-bede-dag ingestel moet word om ook daarby God se weldade wat aan hulle bewys is in gedagte te hou sodat die nageslag dit nooit sal vergeet nie.

As stigtingsdag van die nedersetting het 6 April egter nie regtig in aanmerking gekom nie omdat 8 April as die datum beskou is waarop die Kaap amptelik in besit geneem is. Dit was ook eers 100 jaar later op 1752 by wyse van ʼn erediens herdenk.

Die Sinodale Kommissie van die Kaapse kerk het in 1852 “dit plichtmatig geacht en goed gevonden om 6 April tot een dag van Godsdienstig Feestelijke herinnering aan de invoering des Christendoms in Zuid Afrika” te verklaar. Daar is oral spesiale dienste gehou en geld ingesamel vir die vestiging van ʼn Teologiese Skool op Stellenbosch. Hierdie feestelike herdenking van die tot standkoming van die Christendom in Suid Afrika het egter nie lank gehou nie en in onbruik verval.

Dit was vir die Hollanders ʼn probleem dat die Hollandsprekendes in Suid Afrika  nie Jan van Riebeeck se nagedagtenis in ere gehou het nie en het hulle begin om die dag te herdenk deur in ʼn aandbyeenkoms in die Afrikanerkoffiehuis te hou. Die byeenkoms was egter tot Kaapstad beperk.

Dit was eers met die Voortrekker Eeufees dat die gebruik wat in 1933 ontstaan het om 6 April as ʼn datum om die Afrikaner kultuur te versterk, in ʼn vaste gebruik ontwikkel het. Dit het gaandeweg ʼn diepgaande indruk op die Afrikaner se houding teenoor sy volksfeeste uitgeoefen.

6 April het ʼn nuwe betekenis gekry in daardie tydperk. Op die jaarkongres van die ATKV in 1937 is besluit om 6 April te erken as die geboortedag van die Afrikanerdom.  Nog ander het 6 April weer gesien as die stigtingsdag van Blank Suid Afrika. Hierdie benaderings het egter ʼn funksionele inhoud aan die dag verleen wat vergelyk kon word met ander volksfeesdae soos Geloftedag en Krugerdag.

Wat onbetwisbaar is, is die feit dat sonder 6 April, daar nie ʼn begin vir die ontstaan van die Afrikanervolk kan wees nie! Die belangrikheid daarvan setel in die gelowige fondasie wat Jan van Riebeeck opgeteken het en wat kenmerkend van ons voorsate was waaruit ons volk gegroei het. Vraag is, waarmee het ons op daardie fondasie gebou? Hooi, stoppels? Indien ons afgedwaal het, is dit nie nou die wel aangewese tyd om in die lig van ons sigbare agteruitgang terug te keer na ons fondasie sodat ons weer vastigheid kan verkry nie?

Die AVP roep u op tot verootmoediging en inkeer na die waardes wat ons van ander volke onderskei het.  Ons was tot hoë hoogtes gelei deur Godvresende leiers wat op vaste fondasie gebou het. As u ʼn leier is, in u huis, by u werk in ʼn organisasie....laat u dan lei deur die geskiedenis. ʼn Geskiedenis wat deur die Bybel loop en ʼn duidelike rigting sonder kompromie aandui.

Die neiging van ons volksvyande is om ons Godsdienstige en volksfeesdae te verwater na gewone vakansiedae. As ons daarby inval, is ons besig met die verwesenliking van ons eie ondergang. ʼn Volk gaan tot niet vanweë sy eie klein verraad!