deur Leonard van der Dussen
Die naamkwessie van Pretoria vlam tans weer op, met die idee daarby dat die ANC die naam "Pretoria" sal behou, maar dat 27 straatname verander word, en dit dan 'n skikking moet word.
Die voorgestelde skikking is 'n gevaarlike slenter, want as jy die skikking aanvaar, moet jy dit 50 jaar van nou af steeds eerbiedig: dan het jy mos ingestem tot die straat naamsveranderings. Die heel beste om nou te doen, is om die standpunt dat Pretoria en al sy straatname behoue behoort te bly duidelik te stel, maar dit daarby te los en nie energie met onderhandelinge met 'n oneerlike regering te mors nie. Natuurlik het die name van strate in Pretoria 'n noue verband met wie werklik 'n rol gespeel het in die totstandkoming en opbloei van Pretoria, en 'n naam soos Kerkstraat is natuurlik 'n getuienis van die christendom se rol in hierdie land, maar die ANC is nie van plan om dit te respekteer nie.
Hier - met die naam "Kerkstraat" wat in die gesprek opduik - is 'n erkenning wat ons moet maak: gaan ons aandrang op behoud van name saam met 'n interne en dringende oproep dat ons nie net die name wil behou nie, maar ook wil terugkeer na dit waarom die name in die eerste plek daar gekom het, dat ons ons gereformeerde belydenis moet terugvind, die Sondag hou as sigbare afskeiding van die wêreldse handel en op groot skaal kerk toe gaan, dat ons die Naam van die HERE werklik hoog wil hou ook in die vermaak wat ons in ons huise toelaat waar sy Naam so maklik ydellik gebruik word op TV? Kom ons wees eerlik: die stryd vir behoud van name gaan op die oomblik oor ons eie ego's, oor selfgelding. As dit nie so was nie, sou die bekering en terugkeer na ons protestantse en kerklike bewuste wortels as volk mos sigbaar gewees het; maar dit is nie - Sondagrugby wat geleidelik weer inglip en maar min weerstand uitlok, is 'n voorbeeld van 'n geleentheid waar ons die HERE sigbaar sou kon eer deur ons rug met luide getuienis daarop te draai; maar behalwe vir 'n individu of twee, is ons as volk gou om teen die ANC te wees (met die mode-onderwerp van die oomblik, bv straatname), maar stadig om die vermaakgode 'n klap te gee.
• Onopregte weerstand - al is die weerstand oor die spesifieke onderwerp hoe geregverdig - gaan nie slaag nie. "KERKSTRAAT" is tans 'n klip wat teen ons getuig.
'n Ander aangeleentheid in die besinning oor weerstand teen die naamsveranderinge, is om die huidige stand van sake in die oë te kyk:
• Die Afrikaner was deel van die referendum wat met 'n stewige meerderheid gestem het om "mag te deel", en was gewaarsku dat magsdeling in Afrika magsoorgawe beteken.
• Kom ons los selfs die debatte oor voorgenoemde, en kyk dit net vierkant in die oë dat die ANC en meelopers oor ons regeer; hulle het met hulle rewolusie die land oorgeneem en is tans die regering en het die wetgewende mag in hulle hande. Hulle het die mag om name te verander.
• Ons is tans 'n verowerde volk wat onder 'n vreemde heerser se mag staan.
Dit sê nie dat dit so moet bly nie! Maar dis waar ons nou is, en daar is tans onder ons volk nie juis tekens van 'n gemeenskaplikheid oor hoe om nou te maak nie. Die wil, moed, durf en verstand moet opnuut opgebou word om weer as 'n volk te kan optree.
Nou moet ons onsself afvra hoe ons nou en hier moet maak om verstandig en doelmatig op te tree. Die ANC-regering gaan vir tyd en wyl maak wat hy wil. Afrika-regerings het 'n duidelike rekord van magsuitoefening wat nie verband hou met logika of om by ooreenkomste op papier te hou nie. Naamsveranderinge is 'n logiese uitvloeisel van die situasie van verowering: dit wat joune was, is nou myne en ek gaan my stempel daarop sit deur dit te benoem soos dit my pas.
Die enigste omstandigheid waaronder dit sinvol kan wees om groot energie en tyd aan die naamsveranderinge te spandeer, is as mens in die demokrasie in Suid-Afrika glo, en glo dat die ANC-regering in sy kommunistiese wellus en Afrika-magsbeheptheid na enige redelikheid en "minderheidsregte" en oproepe om respek vir mekaar gaan luister. Ja, kamma-kamma hier en daar, maar die belofte oor lughawens wat nie weer na persone vernoem sou word nie, is flagrant verbreek, en daar is reeds 'n standbeeld vir die versinsel "Tshwane" opgerig.
Ons moet groter dink en besef dat gesprekke met die ANC futiel is. Dit breek eerder die selfrespek van ons volk net nog verder af. Dit het geen hoop op 'n betroubare resultaat nie. Om die veroweraar te probeer keer om name te verander om sy magsoorname te bevestig, is om die wind met 'n sif te keer.
Laat die name dan nou maar verander. Die feit is dat die veroweraar tans in beheer is; maar moet geen gesprek met hom voer nie, moet geensins toelaat dat enige vorm van kompromie of dat daar wel gesprek gevoer is, ons reg om die onreg later reg te stel, verwater nie.
Wat die Afrikanervolk tans moet doen, is om te werk waar daar gebou kan word:
• Keer terug na die ware kerk en bou weer die kerklike gemeenskapslewe op. Maak mense bymekaar om dinge te doen met kerk en skool saam wat ons westerse vaardighede en manier van leef sal bevorder.
• Bou aan ons eie ekonomiese vermoë, deur uitnemende onderwys en deur kapitaal te versamel en korporasies op te rig, wat deur hulle kundigheid en gehalte hulleself onontbeerlik in die ekonomie maak.
• Bemagtig ons kinders - die nageslag - met die beste onderwys en opleiding wat met die regte wêreld tred hou en nie net-net bokant die Afrika-moeras dryf nie.
• Organiseer die praktiese veiligheid in die buurt en wend tyd, geld en energie daar aan.
• Werk saam met kinderhuise, outehuise en instellings wat gestremdes versorg, waar die regering sy plig gruwelik versuim, maar waar ons iets kan doen om die normaliteit van 'n gesonde gemeenskap aan te hou bedryf.
Om dit kort op te som: skuif die gevegsterrein na daar waar die opbouwerk gedoen moet word om weer 'n mag te word deur sy geloofsverbondenheid, kundigheid en leefwyse van deeglikheid en netheid. Los die skyngevegte wat net die aandag aflei, en raak weer ernstig om 'n land op te bou en terug te wen vir orde en geregtigheid.
