SUID-AFRIKA, LAND VAN PRESTASIE
Bevoorreg, Buurman, bevoorreg seg ek jou is onse Afrikanervolkie darem. Kyk, dit was mos van toeka se tyd dat ons land ’n voorste presteerder was. Vat nou maar die Stormkaap Buurman. Storm kon hy storm dat selfs ou Vasco da Gama nie hier wou bly nie. Dit was eers toe die Vryburgers se groente beginne presteer het dat die Ingelse die plek kom afvat het by die Hollanners, seg ek jou die waarheid!
So presteer onse ou volkie ons onder die Ingelse uit in die binneland in en stig Republieke Buurman, wat die Ingelse weer kom afvat, maar presteer kan ons Afrikaners presteer, Buurman seg ek jou, want ons presteer ons weer in ’n Republiek in met vier provinsies, uit die Ingelse se UNION uit en plant ons harte oor en presteer ons ons onder sanksies uit met ’n Krygkor en ’n YSKOR en ’n Spoorweg en ’n Pelindaba en ’n Vorster en ’n gróót Krokodil en ’n de Klerk en rugby en ’n Mandela en die modernste grondwet in die ganse wêreld, seg hulle nie die waarheid nie, Buurman.
Gewend aan prestasie hou dit nie op nie Buurman, nee seg ek jou! Nobel pryse vir vrede presteer ons nou vir die meeste moorde in die wêreld en vir korrupsie en vir die meeste bankrot munisipaliteite en nege provinsies en vinnigste volkgroei en vir statte van stede en van vrot hospitale en water en vullishope, seg ek jou die waarheid Buurman, solat hulle wat vir ons wil kers vashou, se hanne blase brand!
Maar ophou presteer, nie in óns land nie Buurman! Elke jaar presteer die matrieks beter en beter en elke jaar presteer een of ander departement beter in sy gesukkel om die presteerders se sertifikate reg te kry sodat hulle sonder prestasiesertifikate vir die werkgewers kan wys hoe goed hulle kan presteer, seg ek jou die waarheid.
Nou siet ek in die een of ander koerant wat al jare presteer om die prestasies van die regime te beskrywe, dat ons land al weer die beste presteer het in die wêreld om ons natuur in stand te hou. Seg hulle die natuur in Suid-Afrika verswak die ergste Buurman en presteer ons die vinnigste in trurat van 132 lande.
Kan ek jou die waarheid seg Buurman? Sal Suid-Afrika die eerste van Eerstewêreld lande wees wat hom in sy moer in presteer, seg ek jou!
Groete van prestasie tot prestasie.
Jou dienswillige anti-nieuweprestasiebuurman,
Klaas.
