Media

ALL THEIR CALCULATIONS HAD BEEN WRONG.

’N LES UIT DIE GESKIEDENIS

En as daar  nou ‘n les vir ons in die geskiedenis is, dan is dit om te sien hoe die Britte hulle misreken het met ons Volk. En ek dink dit is een van die dinge waarmee ons rekening moet hou in die toekoms.

Hulle het gedink as hulle die troepe saamtrek op die Transvaal se grense, dan sal die Boere skrik en die Boere sal nie oorlog maak nie, maar toe rig Paul Kruger die ultimatum en toe begin die oorlog.

Toe dink die Engelse dis die beste ding wat kon gebeur het, nou sal hulle vir die wêreld wys hoe hulle die Boere sal platloop in net drie maande. Hulle het vir die Engelse wat met skepe na SA gegaan het, gesê: “Julle sal teen Kersfees weer terug wees in Londen.”

Maar dit het nie drie maande geduur nie, dit het drie jaar geduur – een van die grootste misrekeninge wat ooit in die krygsgeskiedenis gemaak is.

En met die ontmoeting waar die Boere-magte in volle krag ontplooi was teen die Engelse by Colenso en Spioenkop, Magersfontein en Stormberg, is die Engelse roekeloos verslaan.

Hierdie klompie Boere wat nie militêr afgerig  was nie, maar net bedrewe was en met liefde vervul was om hulle land te verdedig, verslaan die grootste militêre mag van daardie tyd se afgerigte soldate in een na die ander veldslag.

Toe hulle sien hulle kan die Boere nie tot onderwerping dwing nie, toe begin met hulle dryfkrag, verwoes die plase, rig blokhuise op, span drade om die Boere vas te keer in ‘n sekere hoek, toe begin Kitchener met sy dryfkrag.

Syberling skryf in Oktober 1901: “The drives continue in many cases with disproportionate results and we still employ 200 000 troops and 500 guns to deal with 10 000 men.”

Twee honderd duisend troepe en 500 kanonne om 10 000 mense te beveg wat geen kanonne het nie. Hoe verklaar hulle dit? Dit was die frustrasie!

Dit was Sen. John McCall wat daarna geskryf het: “… all their calculations had been wrong. Arrogantly they have grossly underrated the South Africans.”

Dit was nie die eerste maal dat die Boere onderskat is deur die Engelse nie. In die Kaap toe Lord Charles Somerset Engels die enigste taal in die howe en die onderwys wou maak, het hulle die Boere onderskat.

Met die groot Trek het hulle die Boere se wapens en kos weerhou in die hoop hulle sal die Boere laat terugkeer. Dit het misluk.

In 1877 het hulle Transvaal annekseer en hulle het gedink dis nou verby. Shepstone het gesê: “Julle sal net so min julle vryheid terugkry as wat die Vaalrivier na sy oorsprong sal terugloop.” En vier jaar later toe word die Transvaal se vryheid teruggewen toe hulle die Engelse roemloos by Amajuba verslaan. Dit was ‘n totale misrekening met die Boere gewees.

In 1895 toe Jameson sy strooptog na Transvaal uitgevoer het om Transvaal eenvoudig deur ‘n bende rowers te laat beset, was dit net so ‘n vernedering – toe lewer Pres. Kruger daai klompie misdadigers uit aan die Engelse om hulle te gaan straf tot beskaming van die hele Brittanje.

Behalwe die Engelse oorlog wat hulle gedink het sal in drie maande verby wees en toe ‘n verloop geneem het wat eenvoudig die bewondering van die wêreld afgedwing het vir die Boere-magte tot skande van die Engelse, het ons in ons tyd – diegene van ons wat ‘n bietjie ouer is – in die sestiger jare toe Dr Verwoerd SA ‘n republiek gemaak het, was daar ‘n magtige inspanning gewees van Britse kant om te verhoed dat SA ‘n republiek word, want hulle het geweet dan word die bande met Brittanje verbreek.

En, toe ons die referendum wen, toe het hulle gedink as hulle vir Verwoerd by die Statebondskonferensie sê: “As jy nie toegewings maak nie, dan sal ons julle nie verder in die Statebond toelaat nie,” toe het Verwoerd eenvoudig vir hulle gesê: “As julle daardie vereistes aan ons stel, dan tree ons uit die Statebond. En toe het hulle gedink nou is dit verby met SA.

Maar Verwoerd het SA buite die Statebond opgebou tot die magtigste staat in Afrika – nie net ekonomies nie, maar militêr, sosiaal, polities, was SA ‘n modelstaat gewees en dit teen alle verwagting van die Britte – nie net verwagting nie, maar teen al die middele wat hulle teen ons volk aangewend het.

Selfs ‘n politieke opponent van Dr Verwoerd, Jan Botha, het in die boek “Verwoerd is Dead” gesê: “Die blankevolk was saamgesmee in eenheid. Die land was militêr sterk en veerkragtig. Die polisie en veiligheidsmagte het effektief gewerk met alle pogings van ondermyning en infiltrasie. In die geskiedenis van SA sal Verwoerd se naam voortleef as die leier wat toe sy Volk bedreig was met boikotte, interne onluste, sanksies en oorlogs-dreigemente van buite, het hy opgestaan as ‘n simbool van weerstand en die wil en beslistheid om te oorleef.”

Dit terwyl die Britte gedink het dis verby met SA toe hy in 1961 uit die Statebond getree het. Net mooi die teenoorgestelde het gebeur, wat waarskynlik een van die grootste misrekeninge was wat die Britte met ons gemaak het.

Daarom sê ek dis belangrik hierdie feit van die misrekening omdat, as dit in die verlede gebeur het, waarom sal dit nie in die toekoms gebeur nie? Is dit nie maar weer ‘n geval dat die Britte en sy handlangers – want moet geen twyfel hê nie, die swart handskoen is die wit Britse vuis wat teen ons Volk gebruik word – net soos in al daardie gevalle in die groot krisis van ons Volk, was dit die Britse miskenning met ons Volk wat die geskiedenis bepaal het.

Ons is nou vir die derde maal ‘n verowerde Volk en dit is vir ons nodig en goed dat ‘n mens moet besef dat as jy vanuit jou eie situasie weer wil besluit wat is die moontlikhede wat gedoen kan word, te kyk na die geskiedenis.

Ons is nou ook sonder geweld verower, weer onderworpe, net soos in 1877 toe Shepstone met net 25 polisiemanne Transvaal geannekseer het. Toe was daar ook geen verset nie, en dit was ‘n klein – u moet besef hoe klein was ons volk gewees in 1877 – en hulle het roemloos oorgegee, maar die belangrike ding was, hulle het nie berus daarin in nie.

En onmiddellik het die politieke verset begin en dit het vier jaar geduur, van 1877 tot 1891, maar in daardie vier jaar was daar minstens drie groot saamtrekke van die Boere waar hulle saamgesmee is tot ‘n hegte staalbal van verset teen die Britte.

Toe dit uiteindelik daartoe gekom het dat hulle moes oorgaan tot die wapen, toe was daardie manne begeesterd gewees om die groot Britse mag aan te durf en u sal weet hoe goed dit met hulle gegaan het.

(‘n Kort uittreksel uit die toespraak van mnr. J.A. Marais se laaste boodskap aan die volk

voor sy heengaan   –   gelewer op 16 Junie 2000 tydens die opening van die konsentrasiekamp langs die Balmoral Konsentrasiekamp Kerkhof en die Boere Volksmoord museum.)