Media

WIE SE GAT IS WIE SE GAT?

Ai Buurman, daai blêrende Bokman wat so sing van De La Rey, sal hom eers moet gaan waarsku, seg ek jou die waarheid. Hy sal die generaal moet loop vertel van die gate, Buurman, anners val die generaal nog vas in Delareyville se hoofstraat voor hy die Boere kan lei, seg ek jou.

Diep en baie leg hulle daar soos loopgrawe, Buurman. Selfs ’n voorslag donkie soos ou Vaaltyn vamelewe sal maklik ’n been daar kan breek seg ek jou. Klink dit vir my die ganse dorp se bestuur moes al hulle nekke daar gebreek het want die radio wie se grense gesteel is kon nou die môre niemand op kantoor kry om mee te praat oor wie nou eintlik vir watter gat moet pa staan nie.

Maar Delareyville se gate het nog bodems seg ek jou die waarheid, Buurman. As dit daar reën kan die stadsraad straks ’n geldjie in met ganse, mits hulle nie dié se vere ook in die wind strooi soos met die belastingbetalers se geldjies wat sou kon help vir die gate en die generaal se deurgang, seg ek jou.

Lees ek in die nuus van Pietersburg, Buurman, met ’n gat sonder boom.  Amper soos Put-sonder-water, seg ek jou die waarheid.  Weet jy mos Buurman, hoe sukkel ’n man met ’n put waar die water aan’t opraak is. Hy sak en sak tot lat die rieme te min is om by te kom, seg ek jou.  Kom die emmer naand elke keer leeg op.

Skep die stadsraad by die reserwebank tweeduisenmiljoen rand, Buurman, seg die koerante en nou is die geld op en die hospitale stink en sonder kos en niemand kan betaal word vir wat by hulle gekoop is nie, seg hulle.  Nou dat die put leeg is, vat die ANC voormanne die leisels van die ANC in Pietersburg en wonner ek nou wie se gat is wie se gat as die voormanne van al die anner gate in die land wat ook al sonder water is, nou die leisels hier gevat het, vraag ek jou.

Buurman, as jy die leisels vat en die drywer dreig jou, seg ek jou die waarheid, kom daar moeilikheid Buurman, omdat die drywer weet van anner gate waar nog bietjie water is en nou kom vat hulle die leisels.

’n Put sonder water en ’n weghol donkiekar met die leisels in verkeere hande, so by my baard Buurman, is moeilikheid wat ’n man die lemetford se loop maar moet lat skoon hou, seg ek jou die waarheid.

Groetnis tot by skoon water,

Klaas.