Media

LESERSBRIEF - OP PAD NA 2012

Middag Danie

OP PAD NA 2012. AFRIKANER, WAAR GAAN ONS HEEN?

Ek lees met groot belangstelling bogenoemde artikel. Verstaan ek reg dat jy na Bybelse profesie kyk en dan sien hoe die volk binne wêreld gebeure weer sy vryheid kan verwerf?

Kyk uit met groot verwagting na jou antwoord.

Boere groete

Barry

 

Goeiedag Barry,

Jou vraag is effe kripties.  ’n Mens sou daaruit kon aflei dat jy van mening is dat ek oor profetiese vermoëns beskik in die sin dat ek uit die Bybelse profesieë en in die lig van wêreld gebeure kan voorspel hoe die Afrikanervolk sy vryheid kan verwerf.

Indien dít jou afleiding was verstaan jy beslis nie reg nie.  As jy egter begryp dat my bedoeling was dat, soos in die profeet Hábakuk en vele ander profesieë, geen individu, huisgesin, familie of volk wat goddeloos of selfs Godloos leef en dit wat Hy as duidelike riglyn en voorskrif vir ons laat opteken het, bloot ignoreer en tog hoop dat  Sy fisiese maar ook geestelike verlossing verkry kan word, dan verstaan jy my reg.

DIE Godspraak wat Hábakuk, die profeet, gesien het.

2  Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! — maar U help nie?

3 Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin.

 4 Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn.

5 Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie.

6 Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie.

7 Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit.

8 En vinniger as luiperds is sy perde en gouer as aandwolwe; en op ’n galop kom sy ruiters, ja, sy ruiters! Van ver kom hulle aangevlieg net soos ’n arend wat op sy prooi neerskiet!

9 Hulle kom almal om geweld te pleeg; die rigting van hulle gesigte is vorentoe, sodat hy gevangenes versamel soos sand.

10 Ook dryf hy die spot met konings, en vorste is vir hom ’n belagging; hy lag om elke vesting; hy hoop grond daarteen op en neem dit in.

11 Dan gly hy verby, ’n wind, en trek verder — maar word skuldig, hy wie se krag sy god is.

12 IS U dan nie uit die voortyd nie, o HERE, my God, my Heilige? Ons sal nie sterwe nie. HERE, tot ’n strafoordeel het U hom bestel en, o Rots, tot ’n tugroede het U hom bestem!

13 U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie — waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?

14 So maak U dan mense soos visse van die see, soos kruipende gedierte wat geen heerser oor hulle het nie.

15 Hy trek hulle almal op met die hoek, sleep hulle in sy net en vergader hulle in sy seën; daarom is hy vrolik en juig.

16 Daarom offer hy aan sy net en laat rook opgaan vir sy seën; want deur hulle is sy aandeel vet en sy spys weelderig.

17 Sal hy daarom sy net uitskud en gedurigdeur nasies doodmaak sonder verskoning?

 

Lees ook hoofstuk twee en sien waarom ons geen ander nasie hoef te vrees nie!

 

Barry, ek het bloot ’n parallel getrek om aan te dui waarom ons volk hom in so ’n uiters benouende toestand bevind terwyl ons, gesien ons genetiese oorsprong, een van die intelligentste volke op aarde behoort te wees.

 

Die feit is dat ons ten spyte van allerhande politieke praksasies, ons land verloor het, steeds by-eenkomste met Skriflesing en gebed open en dan tog soos heidene leef en verwag om soos by die vorige twee geleenthede toe ons ons vryheid verloor het, dit weer terug te kry!

 

As ons as gelowiges daardie verwagting koester, is dit Afrikanerleiers se verantwoordelikheid om aan te dui wát verkeerd is en wat van ons verwag word as gelowiges.  As ek hier praat van Afrikanerleiers verwys ek na elke Afrikaner wat in leiershoedanigheid staan, nl. ouer, onderwyser, kerk, kultuur, politiek of welke posisie van leierskap wat bestaan. Dit is eers wanneer ons leiers in vaste geloof en eerbetoon voor gaan, wat ons in ’n nuwe lewensjaar  kan hoop op God se hulp soos by Bloedrivier en aandag kan gee aan ons vryheidstrewe soos Andries Pretorius en Sarel Celliers eers die aangesig van God gesoek het voordat hulle in geloof en vaste vertroue met hulle beplanning voortgegaan het met die strafkommando.

 

Hoewel daar veel gesê kan word oor huidige wêreldgebeure wat sekerlik in verband gebring kan word met profesieë uit die Bybel, is dit na my beskeie mening nie waar die Afrikaner met verwagting vir sy vryheid moet kyk nie. Dit is eerder ons geredelike bereidwilligheid om ons seile na die “Winds of Change” te span waaraan ons aandag sal moet gee.

 

Vriendelike groete,

 

Danie Varkevisser