Media

DIE KWESBAARHEID VAN DIE NUWE “VOLKSRAAD”

DIE KWESBAARHEID VAN DIE NUWE “VOLKSRAAD” WAT “OUD PRESIDENT” HARTZENBERG SE VOORMALIGE “VOLKSTAATKABINET”  OPVOLG.

Die selfvertroue wat Radio Pretoria se direksie hulleself aanmatig nadat hulle Afrikaner volksgenote vir nagenoeg twintig jaar kon oortuig  om die Radiostasie te finansier omdat dit sogenaamd  ’n  vryheidstasie is, stuit nie eers op die skorsing van ’n “nuutverkose volksraadslid” nie!  Dit nadat dié radiostasie sy volle gewig agter die privaatverkiesing van Paul Kruger,(die VVK) ingegooi en lopende kommentaar deur Mariaan Roos oor die inhuldiging van die “volksraadslede” uitgesaai het.

Met ’n tweede lid van die tweede sogenaamde “volksraad”, na die-in-die-sandgeloopte een van “oud president” Hartzenberg, te wete Sakkie van der Merwe wat ook al onder die byl van Radio Pretoria deurgeloop het, is dit onvermydelik dat onderlinge wantroue in dié nuwe “volksraad” sommer uit die staanspoor ingebou is en dus die hele “volksraad” van sewe, net so kwesbaar maak in hulle toekomstige behandeling van, en deur Radio Pretoria.

Die interessante ding rondom Radio Pretoria is die persepsie dat dit ’n “volksradiostasie” is wat die Afrikaner se vryheid as oogmerk het.  Die ontstaan van die AVP, wat sy oorsprong o.a., juis as gevolg van ’n dispuut binne die HNP oor Radio Pretoria se affiniteit vir die DA en ander bedenklike organisasies te danke het, waar Henk van de Graaf as een van die sentrale verdedigers van Radio Pretoria se Clem de Klerk en direksie was ten koste van stigterslede van die HNP, begin nou perspektief kry.

Dat  ’n volksradio ’n onontbeerlike instrument in die vestiging van onderlinge vertroue en samehorigheid onder Afrikaners is, is onbetwisbaar. Of Radio Pretoria na nagenoeg twintig jaar dáárin geslaag het, is die antwoord onteenseglik nee.  Die vraag wat daaruit voortvloei, is wat ís die rol van Radio Pretoria dan?

Of jy nou ’n deur hulle ondersteunde lid van ’n volksraad geword het al dan nie, jy moet net nie in die pad kom staan van waarheen Radio Pretoria met die Afrikanervolk op pad is nie, al lyk die rigting vir jou verdag!

Miskien is van de Graaf se voorstel om betrokke te wees by die artikel 21-maatskappy waar die lede die direksie verkies, nie ’n slegte voorstel nie, solank as wat dit nie oorheers word deur een of ander organisasie wat self  ’n gebrek aan politieke standvastigheid van beginsel en beleid het nie. Gewone Afrikaners wat glo aan die beginsel van afsonderlike ontwikkeling, waar elke volk die reg het om oor homself te regeer volgens sy eie aard en behoefte, in sy eie grondgebied en bereid is om mense dáártoe te beweeg en nie daarvan af te wyk, of organisasies wat ’n teenoorstaande standpunt handhaaf te ondersteun nie, dit is die mense wat op daardie direksie hoort.

Afrikaners moet opnuut voorraad opneem oor wat hulle besig is om te finansier, ons vryheidstrewe of ons knegskap in ’n swart oorheersde, samelewing waarin ons saamgesleep word deur kleingelowige akademici wat die swartes op allerlei wyses probeer uitoorlê deur toegewings van magsdeling, samewerking, onderhandeling, volkstaatjies, ens.  Al wat die Afrikanervolk daardeur gebaat het, is ellende op ellende, terwyl sommige deur ons finansier is met ’n leefbare inkomste ten koste van ons vryheidstryd!

Dit was Huntington van Harvard Universiteit wat gesê het dat jy net moet aanhou sê wat die mense wil hoor.  Hulle moet net nie weet waarheen jy op pad is nie.

Is die pad van Radio Pretoria die vryheidspad van die Afrikaner?  Die aanvanklike gemene deler van Radio Pretoria en Henk van de Graaf was en is verdelend van aard, net soos wat dié van die VVK en Radio Pretoria se benadering om die Afrikaner se swaarverdiende Republiek prys te gee vir ’n volkstaatjie wat by die swart Kommunistiese regime afgesmeek wil word.

Of die reeds veelrassige Solidariteit en AfriForum met Afrikanerledegeld die Afrikaner se vryheidspad gaan of kan loopmet Radio Pretoria, lyk met die uitsprake van Willie Spies van VF+ faam onwaarskynlik.