VERSKUIWING IN TEKTONIESE BELEGGINGSPLATE KAN GROOT ONSTUIMIGHEID OP BELEGGINGSMARKTE IN 2011 VEROORSAAK
Met die jaarwisseling enkele weke gelede het ons toegetree tot die tweede dekade van die 21ste eeu en by so ’n waterskeidingsmerk in tyd is dit net natuurlik vir elkeen wat op een of ander wyse in die beleggingsmarkte betrokke is, om te wonder welke beleggingsvooruitsigte die toekoms inhou. Beleggingsvooruitsigte sal waarskynlik sterk beïnvloed word deur die bewegings in sekere groot onderliggende temas wat op hierdie stadium die beleggingsmarkte oorheers. Dit kan byna vergelyk word met verskuiwings in die tektoniese plate onder die aardkors en die sigbare gevolge daarvan. Die vooruitsigte sal bespreek word aan die hand van die volgende punte:
Die vernaamste onderliggende temas in die huidige beleggingsmarkte, die waarneembare gevolge daarvan en die implikasies wat dit vir beleggingsbeplanning inhou.
DIE VERNAAMSTE ONDERLIGGENDE TEMAS IN DIE HUIDIGE BELEGGINGSMARKTE
Met die aanvang na die huidige dekade kan die volgende as dieperliggende, rigtinggewende beleggingstemas beskou word:
Die verskuiwing van die swaartepunt van wêreldwye ekonomiese aktiwiteite en ekonomiese mag van die Weste na die Ooste. Hierdie proses het ongeveer in die tagtigerjare begin, maar het gedurende die afgelope 10 – 15 jaar sterk momentum gekry. Die primêre produksieprosesse in die ekonomie het geskuif van lande soos Amerika, Brittanje en ander Europese lande na lande soos China, Indië, Indonesië, Brazilië ens. Hulle staan ook bekend as die ontluikende ekonomieë en lê nie noodwendig almal in die Ooste nie. Volgens ‘n onlangse berig op die nuusdiens Bloomberg is daar tans slegs 9% Amerikaners nog werksaam in fabrieke in Amerika. Hierdie verskuiwing gaan gepaard met ‘n stygende aanvraag na grondstowwe omdat spoorlyne, kragstasies, fabrieke en huise gebou moet word.
Die afnemende vertroue in die Amerikaanse Dollar en ander papiergeldeenhede (“fiat money”). Vanweë die oorheersende posisie van Amerika in die wêreldekonomie gedurende die afgelope ongeveer 80 jaar het die Dollar die algemeen-aanvaarde internasionale betaalmiddel geword en verreweg die meeste valutareserwes wat lande gehou het, was in Dollars. Die Dollar is egter besig om sy status as die reserwe- geldeenheid van die wêreld te verloor en die proses het sterk stukrag gekry na die internasionale kredietkrisis van 2008 en 2009. Ene Jeff Nielsen het volgens Mineweb gesê dat in die minder as 100 jaar sedert die Federale Reserwebank se bestaan die Dollar ongeveer 97% van sy koopkrag verloor het. Pleidooie vir ‘n nuwe reserwegeldeenheid word van tyd tot tyd van China en Rusland gehoor.
Die kwynende vertroue in die Dollar veroorsaak dat sentrale banke begin om reserwes te skuif. Volgens ‘n Bloomberg-berig het die Dollar se huidige aandeel van 37% in nuwe reserwes geval van ‘n gemiddeld van 63% sedert 1999. Daar word gekyk na ander geldeenhede soos die Euro en die Yen, maar ook na goud. Die hoofde van die IMF en die Wêreldbank het in onlangse uitsprake gesê dat goud ‘n plek in die wêreld se geldstelsesl behoort te hê. Berigte van aankope van honderde tonne goud deur lande soos China en Indië verskyn van tyd tot tyd in die finansiële media. Dit gaan natuurlik gepaard met ‘n verhoogde aanvraag na goud.
Die verswakkende staatsfinansies van Westerse regerings. Vanweë oorspandering en gevolglike begrotingstekorte het staatskuld in die VSA en sommige Europese lande bykans onbestuurbaar hoog geraak. Gedurende die kredietkrisis het staatskuld die hoogte ingeskiet toe baie regerings groot somme geld moes leen om hulle banke te red en ekonomiese groei te stimuleer. Die IMF voorspel dat alle G7-lande, behalwe Kanada en Duitsland, teen 2014 ‘n skuld-tot-BBP-verhouding van ±100% sal hê. Die VSA self het staatskuld van ±$13 triljard. Daar is groot vraagtekens oor die terugbetaalbaarheid van hierdie skulde en dit veroorsaak baie onsekerheid en senu-agtigheid by diegene wat groot bedrae aan hierdie regerings geleen het. Enige geval van wanbetaling van staatskuld kan skokgolwe deur die beleggingsmarkte stuur.
Daarbenewens kan die druk op regerings om hulle skulde te verminder, lei tot besnoeiings van staatsuitgawes en tot verhogings van belastings, wat weer ekonomiese groei kan kniehalter. Dit plaas verdere druk op hierdie lande se geldeenhede.
‘n Lae-inflasie-lae-rentekoers-omgewing. Die uitwerking van die kredietkrisis en die monetêre ingrypings wat daarop gevolg het, is die hoofrede waarom inflasie en rentekoerse in die groot Westerse ekonomië tans op rekordlae vlakke is. Dit wissel tussen 0% en 1%. Die Bank van Engeland se rentekoers is die laagste in sy bestaan van ±350 jaar. Dit help natuurlik die ekonomiese herstelproses aan en is baie bevorderlik vir aandelepryse. Die stygende pryse van olie en ander grondstowwe kan egter hierdie omgewing vinnig laat verander. Volgens ‘n WEF-verslag het wêreldvoedselpryse reeds die vorige hoogtepunt van 2008 verbygesteek.
- DIE WAARNEEMBARE GEVOLGE VAN DIE ONDERLIGGENDE TEMAS
Die bogenoemde verwikkelinge het bepaalde gevolge op die pryse van beleggingsbates gehad en dit sal kortliks hier genoem word.
Vanweë die sterk ekonomiese groei in ontluikende ekonomië en die verswakkende Dollar het grondstofpryse dramaties gestyg en in sommige gevalle rekordvlakke bereik. Die algemene verwagting is dat die tendens nog vir ‘n geruime tyd kan voortduur.
Die afnemende vertroue in die Amerikaanse Dollar en ander geldeenhede, die staatskuldkrisis in Europa en die lae-rentekoers-omgewing het die goudprys laat styg van $888 per fynons in 2007 (voor die kredietkrisis) tot $1421 aan die einde van 2010. In 2000 was dit $274. Daar is geen rede om te dink dat dié tendens sal afneem solank die toestande wat die goudprys ondersteun voortduur nie. In die drie maande vanaf Mei – Julie 2010 het ‘n aantal kenners en rolspelers in die goudmark prysvooruitskattings vir die goudprys gegee wat gewissel het van $1160 vir einde 2010 tot $5000 vir einde 2012. Van die 8 voorspellings vir einde 2010 was slegs 2 bokant $1421.
Vanweë die sterk ekonomiese groei in ontluikende ekonomieë (waaronder Suid-Afrika ook gereken word) en die wankelende vertroue in die Dollar het die waarde van beleggingsbates en geldeenhede in hierdie lande gestyg en dit word verwag om voort te duur.
Die lae-inflasie-lae-rentekoersomgewing in Westerse ekonomieë behoort maatskappy-winste in hierdie lande te ondersteun, met gevolglike stygings in aandelepryse.
- IMPLIKASIES VIR BELEGGINGSBEPLANNING
In hierdie afdeling sal die geleenthede en bedreigings wat voorgaande stel omstandighede vir beleggingsbeplanning inhou, ontleed word en wel met verwysing na die vernaamste tipe beleggingsbates, gesien uit die oogpunt van beleggers in Suid-Afrika.
Aandele
Ten gevolge van die buitelandse belanstelling in ontluikende ekonomieë kan stygings in aandelepryse op die JSE verwag word. Aandelepryse van die groot hulpbronmaatskappye behoort die beste te doen. Die hulpbronindeks het ver agter geraak by die ander indekse. Die buitelandse kapitaalvloei na die JSE kan egter, in geval van enige politieke of finansiële krisisse, skielik omgekeer word en dit kan dalings veroorsaak.
Staatseffekte
Vanweë die lae rentekoerse is staatseffekte steeds hoog geprys en verdere groot rentekoersdalings word nie voorsien nie.
Genoteerde eiendomme
Genoteerde eiendomme het ook sterk gegroei as gevolg van die lae rentekoerse en verdere groot prysstygings word nie verwag nie. Hierdie eiendomme voorsien egter stabiele huurinkomstes, wat in sommige gevalle beter as effekte- of geldmarkkoerse kan wees.
Goud
Enige tipe belegging in goud, hetsy dit deur middel van goudmunte, beursverhandelde fondse of goudmynaandele is, behoort op die lang duur bevoordeel te word deur middel van die verwagte styging in die Dollarprys van goud. Die sterk Rand kan egter kapitaalgroei beperk. ‘n Skielike verswakking in die Rand kan Randgoudpryse die hoogte laat inskiet en gevolglik ook die waardes van beleggings in goud. Goud moet egter ook gesien word as ‘n verskansing teen kapitaalverliese van ander bates in geval van enige onverwagse prysdalings.
Buitelandse beleggings
Aangesien dit verwag word dat die Rand nog vir ‘n geruime tyd sterk kan bly, word daar nie vir die afsienbare toekoms enige groei in buitelandse beleggings voorsien nie. Die Rand sal egter een of ander tyd waarskynlik weer verswak en persone met ‘n langtermyn beleggingshorison kan oorweeg om buitelandse beleggings te koop. Sodanige verswakking kan onder andere intree wanneer daar ‘n skielike uitvloei van buitelandse kapitaal plaasvind.
Algemeen
Die heersende onderliggende temas in die beleggingsmarkte bied beleggingsgeleenthede wat benut kan word, maar aangesien batepryse reeds op redelike hoë vlakke is, bestaan die risiko van groot kapitaalverliese in geval van skerp dalings in batepryse. Daarvoor moet beleggers die nodige bestuursmeganismes in plek hê. Daar is duidelike spanninge in die posisie van die tektoniese beleggingsplate en moontlike verskuiwings daarin kan groot golwe veroorsaak, wat of gery kan word vir groot beleggingsopbrengste of uit die pad waarvan beleggers eerder moet bly.
FJS Finansiële Dienste lewer ‘n omvattende persoonlike en korporatiewe finansiële beplanningsdiens wat belasting- boedel-, beleggings-, eiendoms- en aftreebeplanning insluit. Die redakteur is Frikkie Strauss, professionele rekenmeester, belastingkonsultant en gesertifiseerde finansiële beplanner van Piketberg.
Hy kan gekontak word by 022 – 913 2391 / 082 – 493 3785 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
