Soos vroeër berig is daar ’n verskerpte aanslag op die Christendom. Dit is nou duidelik dat die grootste opposisieparty (Demokratiese Alliansie) in Suid-Afrika ook die Christendom versaak. Hoewel daar baie Afrikaners is wat daarop aanspraak maak dat hulle christene is wat die DA ondersteun, is dit ’n skande dat hulle die Drie-enige God gelykstel aan al die afgode. Hoe kan ons as Afrikaners enigsins seën verwag in ’n land waar afgodediens hoogty vier?
II KORINTHIËRS 6:14
Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
Beeld van 27 September 2011 het die volgende berig:
Die DA sê hoewel die meeste van sy ondersteuners in Tshwane waarskynlik Christene is, sal dit onvanpas wees om Christelike beginsels in dié party se koukus na te streef.
Die DA het gister ontken dat verskille oor geloof en taalkwessies verdeeldheid in party geledere veroorsaak.
Beeld het vandeesweek ’n anonieme e-pos-boodskap ontvang waarin beweer word daar is ’n aanslag in die DA se Tshwane-koukus teen Christene en Afrikaanssprekende lede. Daar word beweer die DA word deur “onderlinge twis en tweespalt” gekenmerk sedert mnr. Brandon Topham, DA-leier in Tshwane, ná die munisipale verkiesing in die koukus oorgeneem het.
Hy word daarvan beskuldig dat hy op ’n DA-vergadering teen Afrikaners en hul kultuur uitgevaar het.
Daar is glo voorts ontevredenheid omdat DA-vergaderings nie meer met gebed geopen word nie.
Mnr. Janho Engelbrecht, die DA se hoofsweep, het die bewerings dat ’n rebellie in die koukus aan die broei is, as nonsens afgemaak.
Hy het bevestig DA-vergaderings word nie meer soos voorheen met gebed geopen nie.
“Ons het so ’n wyd uiteenlopende samestelling in die koukus dat dit (gebed) nie meer moontlik is nie. Daar is Hindoes en Moslems en ons moet ook hul gelowe in ag neem.
“Daar is ruimte in die koukus om Christenskap te beoefen en elke lid het die reg om sy of haar geloof uit te leef, maar ons is nie ’n Christen-party nie.”
Daar is volgens Engelbrecht g’n aanslag op Afrikaanssprekende lede nie. “Ek is ’n Engelbrecht en Afrikaanssprekend. Hoekom sal ek ’n aanslag teen my eie taal voer?”. Topham het benadruk daar is geen aanslag op Christene of Afrikaans nie. Hy het ontken dat hy ooit teen Afrikaners uitgevaar het.
Volgens Topham word ’n minuut stilte nou voor vergaderings vir lede gehou. “Ons moet almal se geloofsoortuigings en regte respekteer.”
