Media

DIE WAPENWET - Mediaverklaring

Mediaverklaring

DIE WAPENWET

AS NUGTERHEID SELFS BY SOGENAAMDE “GELEERDES” TROEBEL WORD….

Die Konsepwetsontwerp op Gevaarlike Wapens is nie ’n poging om mense te ontwapen nie, sê dr. Johan Burger, senior navorser van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

Malema sê as ek sê skiet die Boer, dan beteken dit nie skiet die Boer nie.  Só het die afgestorwe Wimpie de Klerk by geleentheid vir my gesê dat die betekenis van die woord Demokrasie, lankal nie meer beteken wat dit beteken nie omdat daar verskillende vertolkings aangeheg word.

In die “Nuwe Suid-Afrika” het die lig nou donker geword soos wat die waarheid nou die leuen geword het.  Mense se moedswillige argumentasie bloot terwille van die vergoeiliking van dit wat ooglopend verkeerd is, het eerder die reël as die uitsondering geword.  Nugterheid en redelikheid is ’n luukse wat uiters kosbaar geword het.

Wat die rede ook al is vir die wet wat ter sprake is, is dit mos onvermydelik dat die toepassing daarvan deur onbevoegde en magsbehepte geregsdienaars misbruik gaan word soos die brutaliteit wat  reeds die polisie miljoene rande gekos het aan eise vir onregmatige arrestasies, aanranding en so meer.

Klagtes in hierdie verband word ook telkens net afgemaak met:  “die saak word ondersoek” en kan dan selfs jare duur!

Wat nie vermeld word nie is die noodsaaklikheid om bewapen te wees op pad na en van ’n byeenkoms terug huis toe waar jy blootgestel is aan kapings, roof, ontvoering en alles wat daarmee gepaard gaan. 

Selfs die memorandum oor die doelwitte van die wetsontwerp meld die “groot aantal moorde, rooftogte en ander  ernstige geweldsmisdaad word jaarliks met gevaarlike wapens soos messe , ens., gepleeg  word……..”.  Die polisie moet daarteen beskerm word maar jan publiek word deur die beoogde wetgewing nou éérs daaraan blootgestel omdat die misdadiger hom nie gaan steur aan hierdie wette nie.

As dit nie be-oog om die wetsgehoorsame burger te ontwapen nie, is dit voorwaar ’n eienaardige benadering om hom te beskerm!  Geen wetsgehoorsame burger sal onverantwoordelik met sy wapens optree nie! Nou word juis die verweer van selfverdediging aangevoer as ongeoorloof vir die dra van ’n gevaarlike wapen!

Die Malema-logika is hier ook geldend!  “As ons ’n wet maak om jou te ontwapen, beteken dit nie dat ons jou wil ontwapen nie “. Met intelligentsia soos dié van die Instituut vir Sekerheid Studies, het die wetsgehoorsame burgery van Suid-Afrika nie vyande nodig nie!

Danie Varkevisser

28 September 2011.