Media

WAT IS ON- ONDERHANDELBAAR?

Afrikanernasionaliste sê dikwels: “Hierdie land is ons land. Ons sal weer ons vryheid herwin. Kom wat wil.” Daar is dus sekere sake wat vir ons ononderhandelbaar is. Wat impliseer dit? Mnr Jaap Marais het in 1995 gesê dat ons onverbiddelike langtermyn strategiese doelwit moet wees dat hierdie land ons land is. Hy het die volgende belangrike woorde toegevoeg:

 “As ons dít nie vir mekaar sê nie, [is] ons nie eerlik in hierdie stryd …nie”.

Dus, die Afrikanernasionalis kan nooit betrek word by enige aksie waarby ons afstand doen van die aanspraak op ons land om dan in die proses by aksies betrek te word waar met ‘n onwettige regime vir net ‘n gedeelte daarvan gepleit word nie. En om enersyds te wil propageer dat die hele land ons s’n is, maar terselfdertyd deur middel van ‘n ander forum vir ‘n gedeelte daarvan te pleit, is oneerlike politiek.

Die HNP-leiding het in hul oorgretigheid om genomineer te word vir die volksraad van die VVK, besluit om die volkstaat-idee aan te gryp. So het hulle Afrikanernasionalisme die rug gekeer. Hulle swyg eenvoudig oor hierdie verraderlike optrede. Waarom? So word ‘n streep getrek deur ons volk se regmatige aanspraak op hierdie land en sodoende legimiteit aan die vyand se aanspraak op ons land gegee. En niemand in die HNP het die moed om die leierskap tot hulle sinne te bring nie. Een onderleier van die HNP het op ‘n vraag van die AVP-leier aan hom waarom hy hom nie ook laat nomineer het vir hierdie volksraad nie, geantwoord dat hy hom nie met “str…” besig hou nie. So asof die saak met so ‘n opmerking afgehandel is!

 

Die HNP se geloofwaardigheid gaan met die VVK-verkiesing vernietig word. Want sou van sy leiers op die VVK-volksraad verkies word, sal hulle aan die HNP se lede moet verduidelik waar hulle lojaliteite eintlik lê. Op beide stoele sal hulle nie meer kan sit nie. Verbeel jou: In die HNP gaan die HNP-leier verkondig dat “hierdie land ons land is” en as lid van die “volksraad” gaan dieselfde persoon by die regime vir ‘n stukkie gepleit word! As die VVK dan die “voertuig” is om aan die Afrikaner vryheid te gee, het die HNP nie meer bestaansreg nie. Die VVK-kandidate in HNP-geledere weet dit, maar het duidelik nie ‘n probleem om tans twee teenoorgestelde standpunte te verkondig nie. Dalk omdat hulle baie goed weet dat die huidige HNP-standpunt eersdaags laat vaar sal moet word – iets wat die einde van die HNP sal beteken.

 

Daar kan net eendrag wees tussen Afrikaners wat hierdie bestel verwerp - dus met diegene wat weier om die regime te erken, weier om met die regime te onderhandel en weier om die regime se aanspraak op ons land te erken.  Mnr Jaap Marais het in 1996 gesê dat:

 

“vir selfrespekterende en volksgetroue Afrikaners om dié grondwet te eer en te ondersteun, is om, in stryd met die wet van selfbehoud en die eise van nasionale waardigheid, medewerkers van hulle eie verontregting en onderdrukking te wees. Miskenning van die grondwet deur Afrikaners sal die prikkeling wees tot volkstrots, durf en geloof in hulle volk se reg op herwinning van sy vaderland en vryheid”.

 

Die AVP distansieer hom derhalwe van enigiemand wat hulle op welke wyse ookal skaar by ‘n standpunt dat met die regime onderhandel gaan word vir ‘n volkstaat. Daarom dat mnr Jaap Marais gesê het dat as ons die vyand kies, dan betrek dit elkeen wat rondom hom is. Elke organisasie, party of liggaam wat met die regime wil onderhandel oor ‘n staat vir ons volk en daardeur legitimiteit aan die regime verleen, verkeer in vyandskap met die Afrikaner.

 

Wat is dan ononderhandelbaar? Dat ons nie afstand doen van ons eis op hierdie land nie! Daarby dat ons nie deelneem aan hierdie bestel en sy korrupte verkiesings nie. En verder dat ons nie met die regime onderhandel oor ons grond wat onregmatig van ons weggeneem is nie. Dit is verbasend dat die HNP nog kan aanvoer dat die regime onwettig is en die grondwet ‘n oorlogsverklaring teen ons volk, maar tog steeds met die regime wil onderhandel juis oor ons volk se grond!

 

Na afloop van die Anglo Boereoorlog het generaal Hertzog die volk weer bewus gemaak van sy lewensroeping en hom gewys op die natuurlike grense waarin hy, Godgeroepe daartoe, moes ontwikkel sonder om afstand te doen van sy geestelike en kulturele selfstandigheid en om sy histories gegroeide volksgevoel so te neutraliseer dat dit alle krag en waarde verloor. Daarin het die wyse generaal aanvanklik min vriende gehad, maar sy krag het juis nie in getalle gelê nie, maar in die ideaal wat hom gedra en besiel het. Dit is geloof in die reg van ons saak wat ons ‘n mag maak en die moed gee om vol te hou met ons stryd, en nie die kunsmatige sameflansing van opportuniste in ‘n “volksraad” wat ‘n streep trek deur ons volk se historiese regte nie.

 

As ons soek na oplossings en bondgenote moet ons steeds onthou dat sekere sake ononderhandelbaar is. Soos dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe sal bly. Die volkstaat wat van ‘n vyandige regime gevra gaan word, is nie deel van daardie erfenis nie.