Media

’N STRYD IS EERS VERLORE WANNEER JY DIE WIL OM TE STRY VERLOOR HET

Volgens ’n bekende en befaamde militêre strateeg, was die stryd van die boere in Rhodesië verlore, nie toe sowat twintig bure van ’n boer wat deur “oorlogsveterane” van sy plaas verdryf wou word en hulle hom te hulp gesnel het nie, maar toe daardie twintig ewe gedwee in die polisie vangwaens geklim het nadat die polisie daar opgedaag het en hulle so beveel het!

Die wil om te stry vir dit wat reg is, impliseer dat jy die moed moet openbaar en staan en val vir dit wat reg is.  Om daarmee sukses te hê as dit gaan oor volksbesit, moet daar nie alleen soos in die Rhodesiese geval “twintig” begeesterdes wees wat die moed het om hulle bedreigde volksgenote te hulp te kom nie, maar ook onwrikbaar te bly staan totdat die vyand terugdeins en bes gee!

As swartes wat die veld aan die brand steek deur ’n boer konfronteer word en hy daarvoor gearresteer en toegesluit word, is die patroon dieselfde as in Rhodesië en dui dit op ’n volksbedreigende leemte in ons begrip van die betekenis van ’n vryheidstryd.

Die oorsaak vir hierdie blatante onreg wat die potensiaal het om enige weerstand in die kiem te smoor, moet gesoek word by die ge-organiseerde landbou instellings wat weier om die regime as vyand van die Afrikaner en die Boer te verklaar en dan dienooreenkomstig in ’n proses van onderhandeling poog om hulle lede se belange te beskerm.

Hoe opreg die bedoeling ook al mag wees, het die geskiedenis oor eeue reeds ’n streep deur hierdie benadering getrek en was die uiteinde daarvan nog altyd die uiterste verontregting van die blanke.  Die teenhang daarvan, selfs teen geweldige oormag, was harde verset wat gesetel het in geloof, moed en eendragtigheid van optrede.

Die krisis waarin die Afrikaner en veral die Boere verkeer, verg die aanwending van die infrastruktuur in landbou om weer ’n BKA te vestig waarmee ons weer reg oor onreg sal kan laat seëvier.  Dit is slegs wanneer ons ons vermoë om ons reg te beskerm bewys deur dit  te handhaaf en af te dwing, wat ons kan aanspraak maak op ’n strewe na vryheid.

Om onder andere ons aanspraak op die Republiek van Suid-Afrika prys te gee aan ’n terroristebende en dan met hulle te gaan onderhandel, pleit, of eis (wat is die verskil as ek van hulle afhanklikheid erken?). Pleit, onderhandel of eis vir ’n volkstaatjie iewers waar  die Afrikaner in elk geval nog onderhewig gaan wees aan ’n sentrale owerheid met alles wat daarmee saamgaan, verskil dit niks van die scenario van wat in Rhodesië gebeur het nie! 

Al sou die regime weier om ’n volkstaat af te staan, setel die gevaar daarin dat ’n VVK verkose liggaam wat nou namens die hele Afrikanerdom wil gaan onderhandel, by implikasie namens alle Afrikaners ons historiese aanspraak op Suid-Afrika prysgee deur selfs net in beginsel in ruil daarvoor, ’n volkstaatjie iewers, van die onwettige regime te aanvaar!

Laat dit aan alle Afrikaners en die regime bekend wees.  Die VVK-liggaam sal nie ’n mandaat hê om namens die Afrikanervolk te praat nie!  Veral praat hulle met niemand namens die Afrikaner Volksparty en sy lede nie!  Hulle kan praat namens hulleself en diegene wat hulle ondersteun en dit is al! Hierdie land is ons land en as dit die wil van God is, sal ons in hierdie land weer vry word!  Ons misken niemand se pogings om te stry vir die Afrikanervolk se vryheid nie, maar waarsku teen enige poging wat ons historiese reg en aanspraak op Suid Afrika  in gedrang bring soos hierdie bedenklike  poging van die VVK!

Moet nie ’n aandeel in ons volk se beskaming hê deur ’n kortpad van ontvlugting nie!