Media

DIE LOT VAN DIE AFRIKANERVOLK IN SUID-AFRIKA

As die Afrikaner in Suid-Afrika moet tot niet gaan, laat dit dan sy lot wees en nie sy skuld nie!  S. J. du Toit.

Die onderstaande berig is van Beeld van 17 Augustus oorgeneem om ’n standpunt van die AVP te illustreer.

Van plaas af: ‘Ons verloor alles’

  • Mnr. Dolf du Toit nadat ’n Chiganze-ondersteuner hom met ’n klip gegooi het. Foto’s: Alida du Toit

Die Du Toit-gesin wat Sondagaand van hul plaas in die Nyazura-omgewing in die ooste van Zimbabwe na veiligheid gelei moes word, kan nie soontoe teruggaan nie en moet nou ’n huis in Mutare huur.
“Ons het alles verloor ...
“Iemand het ons $200 (sowat R1 424) in die hand gestop om kos te koop,” het mev. Alida du Toit (63) gister gesê.

Du Toit, haar man, Dolf (67), en stiefseun, Rudolph (38), was langer as twee dae in hul plaashuis vasgekeer terwyl tientalle ondersteuners van kommodoor Innocent Chiganze van die Zimbabwiese lugmag hulle met klippe bestook en gedreig het om hulle sover te kry om die huis te verlaat.
Hulle is Sondagaand laat met enkele van hul besittings deur die Zimbabwiese polisie na veiligheid gelei.
Mnr. Du Toit sr. is by die kliniek in Mutare vir harsingskudding behandel nadat hy met ’n swaar klip teen die kop getref is.
Volgens mev. Du Toit lê daar ’n “bakkievrag vol klippe” in hul huis, al die venster is stukkend en die gordyne almal na buite uitgeruk.
Nadat hulle van die plaas af weg is, het die invallers die Du Toits se huis en Du Toit jr. s’n daar naby oopgebreek. Van die werkers het laat weet vragte vol goed is reeds weggery.
Dié werkers, van wie party al 40 jaar op die familieplaas werk, sal afgedank moet word omdat die gesin nie meer werk of geld vir hulle het nie.
Chiganze het intussen laat weet hulle moet vandag die laaste van hul goed van die plaas verwyder.
Volgens mev. Du Toit het mnr. Didymus Mutasa, nou minister in die presidensie, hulle in 2002, toe die meeste boere hul plase verloor het, belowe dat hulle die plaas Excel­sior mag hou mits hulle die plaas wat nou Nyazure is, prysgee.
Hulle het dit gedoen en volgens haar is daar al honderde erwe uit die stuk grond wat hulle prysgegee het, gesny.
Mnr. Ben Freeth, wat ook met geweld van sy plaas afgesit is en nou voorsitter van die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) se menseregtetribunaal is, het gister gesê die Du Toits kan maar daarvan vergeet om terug te gaan na hul plaas. “Dit gaan nie net oor gierigheid nie, maar ook om mense met ’n politieke doel te beheer.”
Volgens hom is die Du Toits die vyfde gesin in twee maande wat van hul plaas afgesit is.
Mev. Alida du Toit het dié foto van hul besetters van binne die plaashuis geneem.


Die grootte van die klippe wat na die Du Toit’s geslinger is.


Al die vensters van die Du Toit’s se plaashuis in Zimbabwe en heelparty van hul besittings is tydens die besetting stukkend gegooi.

Al die vensters van die Du Toits se plaashuis in Zimbabwe is stukkend gegooi.

Wat u hierbo sien is die kulminasie van die beleid van magsdeling aan die eenkant en die gebrek aan verset teen die grypsug van barbare aan die anderkant!  Dít is die voorland van die Afrikanervolk in besonder en elke blanke in die algemeen.  Indien die verdeeldheid en onderlinge wantroue wat in Afrikanergeledere planmatig brandend gehou word nie gebreek word nie, sal ons dit wat hierbo in beeld verskyn, nie vryspring nie.

Nie met geweervuur en pantserwaens nie, nie met ’n militêre mag met die sanksie van oorlog wat verklaar is nie, maar met klippe en brandbomme en minagtende intimidasie word die blanke uit sy hardverdiende eiendom verdryf.   Eiendom en besittings wat letterlik jare geneem het om op te bou en produktief te maak wat ook vir vele swart gesinne inkomste en heenkome verskaf het!

Omdat die Nasionale Party geswig het onder druk van Internasionale magte en nie oorlog met oorlog be-antwoord het nie, is ons politieke mag roemloos en eerloos aan barbare oorgedra wat nou soos in Rhodesië al meer militant raak in uitspraak en optrede omdat daar géén weerstand sigbaar is nie!

Oral in die land gaan die versugting op vir die noodsaaklikheid van eensgesinde optrede omdat daar nie meer tyd is nie.  Weliswaar is daar groepe wat begin bymekaarkom terwille van beskerming teen die bedreiging wat nou só groot en omstandighede só sleg is dat daar so gou moontlik eenheid bereik moet word.  Die vraag is wat se soort eenheid, om wat mee te maak?

Die Afrikaner Volksparty wil waarsku uit die mond van wyle mnr. Jaap Marais en voorbeelde uit die geskiedenis, dat so ’n benadering meer nadeel as voordele inhou en in elk geval nie sal standhou nie.  Om die waarheid te sê het géén van die duisternis van planne wat deur groepe, individue, organisasies en partye uitgedink is om die Afrikaner se vryheid te bewerk, geslaag  nie. Nie in meer as 42 jaar nie!  Die rede was en is vandag nog steeds die gebrek aan eensgesindheid onder Afrikaners ten opsigte van veral geloof en beginsel.

Dit is die afwyking van Nasionalisme wat verdeeldheid in die handwerk.  Die betuiging van gereformeerde  Susterkerke tot voordeel van die eenheidsbegrip, die aanvaarding van die kommunisme as politieke stelsel in Suid-Afrika en die ondergrawing van morele beginsels deur sport en vermaak, het ’n enorme invloed op die sekularisering van ons volk gehad.

Deur Nasionalisme te handhaaf is daar onmiddellik ’n versterking van eensgesindheid oor taal, godsdiens, onderwys, kultuur, vaderland, geskiedenis en ’n gemeenskaplikheid oor wie die Afrikaner se vyande is, in voorkeur volgorde met die oog op verweer!

Dit is met ander woorde noodsaaklik om  veral oor geloof en beginsel eenstemmigheid te hê ten einde standvastige en blywende samehorigheid te probeer bewerkstellig.  Om mense met uiteenlopende sienings in een organisasie saam te bind is die sekerste resep vir mislukking en daarom is dit juis dié resep wat deur ons vyande aangewend word om ons verdeeld te hou.  Begin ’n aksie wat op die oog af die Afrikaner se vryheid of selfs net sy belange as doel het maar waarvan ander Afrikaners wesentlik verskil, en so ploeter ons voort op pad na ons ondergang! 

So word ons lot ons skuld en verdien ons nie bestaansreg nie!  Kyk weer na die fotobeelde hierbo en besin opnuut! Heg saamgebind in geloof en vaste vertroue, kom ons in massa bymekaar en smoor dit wat hierbo vertoon word in die kiem!   Vir hulle wat in vaste geloof op God vertrou en Sy gebooie onderhou, (dit beteken afwyk van die kwaad), sal Hy genadig en barmhartig wees om ons te versterk om staande te bly teen die aanslae van die bose! Mag God ons daartoe begelei.